Professor Landman het 'n koersbeduidende bydrae gelewer tot die aanwending van die
fenomenologiese metode op die terrein van die Opvoedkunde. In hierdie verband het hy
homself egter bewys as 'n oorspronklike denker in eie reg wat dit gewaag het om sy
eie weë te bewandel. Hiervan getuig die feit dat soveel opleidingsinrigtings vir
onderwysers in die RSA op die een of ander wyse deur professor Landman se
denkuitkomste georiënteerd was.
Gedurende die afgelope bykans dertig jaar het professor Landman nie net in die RSA
akademiese erkenning geniet nie. Ook oorsee is daar terdeë kennis geneem van sy bydrae
op die terrein van die Opvoedkunde. Etlike wetenskaplike studies is dan ook in die
jongste verlede onderneem om sy bydrae tot die Opvoedkunde na waarde te skat
(Universiteit van die Oranje-Vrystaat 1995:17).
"Daar kan met reg gesê word dat die gehalte van Landman se bydrae op die terrein van
die Pedagogiek, 'n radikale verandering in die opvoedkundige denke ... veroorsaak het.
Dit is ... bewys dat daar vandag sonder sy denke nie prinsipieel-pedagogies meegedoen
sal kan word nie" (Lemmer 1987:4).
- 'n Doktorale proefskrif van C.J. Lemmer getiteld: W.A. Landman as pedagogiker: 'n Studie in
die Fundamentele Pedagogiek handel oor die opvoedkundige denke van professor Landman en is in
1987 aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi.
Dr Lemmer verskyn saam met prof Landman tydens haar gradeplegtigheid
- 'n PhD-proefskrif deur W.A. Hendrikz verskyn in 1995 met die titel: Beskouinge van enkele
moraliteitsfilosowe en die betekenis daarvan in die opvoeding (Universiteit van Pretoria).
Hoofstuk 6 heet: 'n Filosofiese fundering oor die verskynsel 'moraliteit' deur Willem Adolf Landman.