Basiese begrippe

Werkwyse
Deel 1

Werkwyse
Deel 2

Uitkomste
Deel 1

Uitkomste
Deel 2

Lesstruktuur-
essensies

Fundamentele
Pedagogiek

Pedagogiek

Terug na "Inhoud"

1. BASIESE BEGRIPPE

1.1  PEDAGOGIEK

G. pais - kind; paido - seun + agein - om te lei: agogos - leier:
Ander benaming vir Opvoedkunde, maar daar word soms voorkeur gegee aan die begrip Pedagogiek vanweë die veralgemening wat die term Opvoedkunde en veral opvoedkundige ondergaan het. Laasgenoemde word gebruik vir bykans elke geleerde, of hy 'n studie van die Pedagogiek gemaak het al dan nie. In Suid-Afrika as tweetalige land moet daar ook met die vertaalbaarheid van begrippe rekening gehou word. Die Engelse woord education kan òf onderwys òf opvoedkunde òf opvoeding beteken. Dit verwar die denker as daar nie duidelikheid bestaan oor watter van die drie bedoel word nie. Die woord pedagogies laat geen twyfel by hulle nie. Opvoedkunde is wel 'n tipies Afrkaanse woord, maar vanweë 'n verruimde en dikwels verkeerde betekenis wat in die volksmond daaraan gegee is, het dit vir sommige opvoedkundiges noodsaaklik geword om 'n ander woord te vind wat presies aandui waarvan daar gepraat word en wat terselfdertyd nie in die ander amptelike taal verwarring sal veroorsaak nie. As wetenskap van kinderbegeleiding kan die Pedagogiek aanspraak maak op outonomiteit, omdat dit 'n eie afgebakende studiegebied, eie terminologie en eie metode(s) het.1

1.2  PEDAGOGIEK PERSPEKTIEWE

Die wetenskap wat beoefen word, is die Pedagogiek wat 'n besondere perspektief op die werklikheid van kinderbegeleiding as menslike aangeleentheid gee. Ter wille van gespesialiseerde studie word die kerngebied (pedagogiek) in pedagogiekperspektiewe (deelperspektiewe, deeldissiplines) onderverdeel. Die eenheidskarakter van hierdie pedagogiekperspektiewe wat onderskei word, maar nooit geskei mag word nie, moet nooit uit die oog verloor word nie, want almal het betrekking op die bestudering van pedagogiese aangeleenthede. Pedagogiek is 'n outonome wetenskap van kinderbegeleiding en dit is essensieel om 'n duidelike beeld van die verskillende pedagogiekperspektiewe te kry, anders bestaan die gevaar dat een aspek as die geheel aanvaar word. Dit is daarom verkeerd om die Pedagogiek as die totaal van sy pedagogiekperspektiewe te beskou. Die pedagogiekperspektiewe moet nie as afsonderlike vakke gesien word nie - elkeen gee 'n bepaalde perspektief op die pedagogiese werkliklieid en ontstaan vanuit die kerngebied. Die aard van die opvoedingsverskynsel bepaal watter verdeling gemaak moet word. Die volgende pedagogiekperspektiewe op die opvoedingsverskynsel kan onder meer onderskei word: Filosofie van die Opvoeding; Historiese Pedagogiek, Empiriese Pedagogiek, Didaktiese Pedagogiek, Vergelykende Pedagogiek, Ortopedagogiek en Sosiopedagogiek.2

VERWYSINGS

  1. Van Rensburg, C.J.J., Landman, W.A. & Bodenstein, H.C.A. Basiese begrippe in die Opvoedkunde/Basic Concepts in Education. Orion, Halfway House. 1988. p 182.

  2. op cit. p 183.

    Na "Die Pedagogiekwerkwyse", Deel 1