Inhoud

Tuisblad

Agtergrond

Die mens

Pedagogiek

Sy denke

Sy navorsing

Voordragte

Sy publikasies

Gedenk- en
geleentheids-
lesings

Toekennings

Bronnelys

Professor W A Landman


[Prof Landman]  

Akademiese agtergrond

Willem Adolf Landman is op 27 Junie 1923 te Olifantsfontein in die distrik Pretoria gebore. Hy begin sy laerskoolopleiding aan 'n tweepersoneel-plaasskool in Olifantsfontein en matrikuleer aan die einde van 1941 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria.

Hy studeer vanaf 1942 aan die Universiteit van Pretoria en behaal in 1944 die B.Sc-graad in die biologiese wetenskappe. In 1945 verwerf hy die Transvaalse Onderwysdiploma aan die Pretoriase Normaalkollege. Hy slaag die volgende vakke met lof: Beginsels van Onderwys, Organisasie en Administrasie, Kindersielkunde en Middelbare Skoolmetodiek in Biologie.

Vanweë sy besondere belangstelling in die menswetenskappe, verwerf hy met lof die grade M.Ed in 1954, D.Ed in 1962, B.A. (Hons.) (Wysbegeerte) in 1966, en M.A. (Wysbegeerte) in 1967 en die D.Phil (Wysbegeerte) in 1970 aan die Universiteit van Pretoria. Hy ontvang ook drie ere-doktorsgrade, onderskeidelik van:

Hy dien die Transvaalse Onderwysdepartement vir 15 jaar: eers as assistent-onderwyser, toe as vise-hoof en later as senior dosent aan die Onderwyskollege Pretoria. In laasgenoemde pos doseer hy die metodiek van Natuurwetenskap en Toegepaste Natuurwetenskap vir Huishoudkundestudente.

Vanaf 1962 was hy dosent en senior dosent (1963) in die Departement Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria. Gedurende 1966 en 1967 beklee hy 'n leerstoel in die Pedagogiek (Opdrag: Didaktiese Pedagogiek en Navorsingsmetodologie) aan die Universiteit van Port Elizabeth. Op 1 Januarie 1968 volg hy professor C.K. Oberholzer op as professor en hoof van die Departement Filosofie van die Opvoeding aan die Universiteit van Pretoria. Onder sy leiding groei hierdie departement tot die Departement Fundamentele Pedagogiek. Tot en met sy aftrede in Junie 1988 was hy adjunkdekaan van die Fakulteit Opvoedkunde.

Hy beklee vanaf Junie 1988 tot Junie 1990 'n tydelik-voltydse doseer- en navorsingspos aan die Universiteit van Pretoria. Vanaf Julie 1990 tot Desember 1993 tree hy op as deeltydse senior navorser in die Instituut vir Opvoedkundige Navorsing, Universiteit van Suid-Afrika.

Onder professor Landman se leiding is 28 doktorandi gepromoveer waarvan 11 mettertyd self professore geword het.

Sy biografiese besonderhede is opgeneem in "International Who's Who in Education" (Cambridge, Engeland).