Professor W A Landman

Geleentheidsrede: Professor W A Landman
Junie 2003


'n Opvoedkundige denkweg
1960 tot 1990 plus

Terug na Gedenklesings

Mnr die Voorsitter, Dames en Here: In die wetenskaplike navorsing vereis metodologiese-verantwoording prioriteit na probleemstelling. Dit is so omdat verantwoordbare metodiek 'n waarborg is teen 'n afdwaal op dwaalweë en verder word die selfrespek van die navorser beskerm.

Op 2 Maart 1969 ontvang ek 'n brief van Martin Heidegger (1889 - 1976) waarin hy dit stel dat denkwyses onderhewig is aan verandering en spesifieke tydsgewrigte het 'n invloed daarop. Met ander woorde: 'n wyse van bedinking kan van tyd tot tyd gewysig word.

[Prof Landman]

Elders stel hy dat Fenomenologie 'n blywende moontlikheid van die denke is, maar waarsku ook dat daar 'n tyd gaan kom wat Westerlinge die weg van die denke gaan verlaat. Die tyd sal dan ryp wees vir algemene gepratery, oppervlakkigheid, essensie-blindheid, negatiwiteit en naïwiteit wat kan lei tot valse redenering. Hy stel dit ook dat om op die denkweg te wil bly, die voorreg van weiniges is. U wat vanaand hier teenwoordig is, kwalifiseer om onder daardie weiniges gereken te word.

Indien Fenomenologie as wyse van onvervalste, radikale essensie-openbarende denke gelykblywend is, is dit die middele wat dit aanwend, dit wil sê, die denkmiddele wat van tyd gewysig kan word of wat van tyd tot tyd teen verskillende aanslae beskerm moet word. Middele wat die werklikheid denkend belig sodat die essensiële (dit wil sê die waarheid) aan die lig kan kom, is dus beligtende denkmiddele wat ook as beoordelingswerktuie aangewend kan word.

Om die weg van die denke te verlaat beteken om te handel asof denke as sodanig moontlik is, terwyl die ervaring leer dat denke altyd denke aan iets is in terme van iets. Ek dink byvoorbeeld aan opvoeding in terme van verhoudinge, verloop, bedrywighede en doel wat aangewend word as beligtende denkmiddele. Om die weg van die denke te verlaat is ook om die feit van beligtende middele vir die denke gering te skat of selfs te minag of om nie-menswaardige denkmiddele te verkies. Dit dui ook op 'n onvermoë of onwilligheid om denkmiddele te wysig indien 'n besondere tydperk in die geskiedenis dit sou vereis.

Mnr die Voorsitter, ek is dankbaar teenoor daardie studente en kollegas wat gewillig was

  • om deur skerpsinnige antwoorde tydens kollokwiums, tentamens en eksamens, en met verhandelings en proefskrifte betekenisvol by te dra tot essensie-openbaring en essensie-verifikasie en verdere verfyning van denkmiddele;
  • om onbevrees vir breinbloeding saam beligtend, dit wil sê krities-denkend te soek na waarheid as die egte begryping van betekenisse;
  • om sonder om in 'n pragmatisme te verval, te soek na praktykverbeteringbetekenis met die wete dat terug na die praktyk 'n besondere vorm van terug na die sake self is as fenomenologiese eis;
  • om verantwoordelike en verantwoordbare navorsing te onderneem ter bevordering van die Opvoedkunde, steeds gerig deur die soektog na die essensiële met vermyding van waardigheid-skendende struikelblokke waaraan hulle voortdurend onderwerp is;
  • om deur navorsing kennis te skep, om te begryp en om probleme realisties op te los, veral met die doel om menswaardigheid te beskerm en dit beteken om getrou te bly aan die wesenlik fenomenologiese.
Mnr die Voorsitter,

Ek wil graag met hierdie voordrag 'n kort oorsig gee oor die opvoedkundige denkweg wat min of meer vanaf 1960 tot 1990 afgelê is.

'n Aanvangsstap was om die wurggreep van die naturalisme en sy nie-menseerbiedigende denkmiddele op menswaardige menswees te verbreek. Naturalisme wat menswees verneder tot dierwees is besonder geslaagd uitgeroei deur B F Nel en sy studente. Dit het geskied deur skerp ontledings te doen van die betekenis van die psigiese lewe van die kind-in-opvoeding en ook die onderwyser-in-praktyk deur die aanwending van by die kind passende, beligttende denkmiddele. Terselfdertyd is ook die Freudiaanse psigoanalisme 'n nekslag toegedien. Naturalisme en psigo-analisme is verder hokgeslaan deur C K Oberholzer en sy studente se indringende wysgerigte antropologie en etiek. Waardevolle ondersteuning is ook verleen deur M J Langeveld se Teoretiese Opvoedkunde en kinderantropologie. Briljant was Langeveld se geringskatting van Edmund Husserl se Fenomenologiese Filosofie en die besondere waarde wat hy geheg het aan, wat hy genoem het, praktiese fenomenologiese metode.

Dit het aanleiding gegee tot 'n volgende stap, naamlik om die Husserlse Fenomenologiese Filosofie aarde toe te bring, en so het 'n unieke Suid-Afrikaanse fenomenologiese benadering begin gedy. Dit het geskied deur:

  1. duidelike identifisering en praktiese interpretasie van fenomenologiese denkstappe en die betekenis daarvan vir denkmiddele-aanwending;
  2. toepassing van die verifikasie-idee (waarvoor sommige fenomenoloë nogal allergies was);

'n Besondere struikelblok wat nou oorwin moes word, is die Husserlse rasionalisme wat menswaardigheid-belemmerend was weens die verkleining van die mens tot blote rasionele wese en sy denkmiddele tot rasionele konstruksies (skeppinge in die geïsoleerde verstand). Dit het noodwendig gelei tot 'n onderskatting van die gevoelsmatige (affektiewe). Rasionalisme en rasionalistiese denkmiddele is oorwin deur aandag te gee aan die Heideggerse idee van bevindelikheid, dit wil sê, die mens se gevoelsmatige in-die-wêreld-wees. Dit het daartoe aanleiding gegee dat indink in die werklikheid aangevul is deur 'n inleef daarin, en aanvoeling daarvoor. Hierdeur is die eksistensie-begrip op die voorgrond gebring wat finaal die naturalisme-monster verbrysel het, en aan menswaardigheid voorrang gebied het. Essensies wat fenomenologies aan die lig gebring is, is as menslike wyses van lewe begryp en uitgelê

Spoedig is egter opgemerk dat 'n besondere gedrog sy kop uitsteek, en wat veral denkers wat ontrou aan die fenomenologiese metode geword het, kwesbaar gemaak het. Hier word verwys na die waardigheid-skendende ekstensialisme, wat egter doeltreffende skaakmat gestel kon word deur :

(i) eksistensialisme as die som van verduisterende denkmiddele te identifiseer en te interpreteer as verabsoluterings van menswees, van vryheid, individualiteit en angs, en om riglyne te gee vir die doeltreffende bekamping daarvan;

(ii) fenomenologie se wesenlike bedoeling te verduidelik om daarmee die simplistiese valse redering dat fenomenoloë ekstensialiste en eksistensialiste ateiste is, te weerlê

Wanneer daar begrypend gekyk word in die oë van die kind en daar word uit sy gesigsuitdrukking afgelees: "Help my" en "Moenie skade aandoen nie", word daar by die opvoedkundige 'n besondere hunkering gewek: om presies net hier met sy bedinking in die vorm van betekenis-openbaring te begin. Spoedig word die denker gevul met verwondering dat dit wat hy as essensieel raaksien, is soos dit is en nie anders nie. Hierdie verwondering lei tot bewondering van die werklikheid waarvan daar slegs gesê mag word wat daardie werklikheid self sou sê, indien hy maar net kon. Hierdie bewondering verdiep tot respek vir die werklikheid.

Die essensiële wat tydens die bedinking aan die hand van fenomenologiese denkstappe soos weerligstrale blits sodat die betekenis daarvan vir begryping opgemerk moet word, verskerp die verwondering en bewondering en dit spoor daartoe aan dat die eise van wetenskaplikheid aanvaar word as behoorlikheidseise waarvan die oproepkarakter bindende krag verkry veral in die lig van die besluit om onder geen omstandighede menswaardigheid aan te tas nie.

Dit word dan ook in verdere beligting moontlik om agter te kom dat die essensiële (met die sinsamehange daarvan) eindelik waardevolle wyses van lewe is wat voortdurend geoefen word vanaf die wieg tot die graf. Die oefening mag nooit doelloos wees nie, maar word beplan en voltrek in die lig van dit wat beoefen moet word, naamlik behoorlike volwassenheid en volwaardige menswees. Behoorlike volwassenheid as oefeningsdoel verwys meteens na die normatiewe. Die norm wat altyd in die middelpunt is met opvoeder en opvoedeling hoogstens op die voorgrond.

Dit beteken dat gesoek moet word na waardes en norme wat kenmerkend is van 'n sinvolle bestaanswyse.

Waarom sal 'n mens hoegenaamd by 'n ander plek wil begin met besinnende bedinking, as met kinderwees self om daarmee te verseker dat daar nie op syspore beland sal word nie? Die denker fokus onmiddellik en skerp op die opvoedingswerklikheid self ten aansien waarvan tersaaklike essensies met hulle onderlinge verbande aan die lig gebring kan word vir aanwending as beligtende denkmiddele en kritiese beoordelingsmiddele, veral ook tydens die navorsing.

Die opvoedkundige tree tydens die navorsende opwegwees op met beskeidenheid, veral wanneer hy besef dat die muggie voor hom geskape is, en dat van die studente wat aan sy voete mag sit, minstens die helfte intelligenter as hy is.

Op hierdie tydstip het dit duidelik geword dat dit noodsaaklik is om aandag te gee aan die plek en funksie van die lewensopvatting (oortuigend deur J Chris Coetzee geïnspireer). Dit is moontlik (alhoewel byna onmoontlik) om die lewensopvatting te ignoreer. 'n Tweede moontlikheid is dat toegelaat kan word dat 'n lewensopvatting die wetenskap op sleeptou kan neem en wetenskaplikheid in gedrang kan kom. Daar is egter 'n derde moontlikheid :

Geen mens behoort bereid te wees om enigiets te doen wat in botsing kom met sy lewensopvatting nie, dus ook nie wat sy wyse van wetenskapsbeoefening betref nie. Sy wyse van voldoening aan wetenskapseise moet lewensopvatlik toelaatbaar wees. Op grond waarvan kan die eis van lewensopvatlike toelaatbaarheid gestel word?

Die mens (ook die wetenskaplike) is altyd 'n religieuse en gevoelsmatige wese en 'n besondere verwerklikingswyse van religiositeit is lewensopvatlikheid. Handelinge kry die stempel van menslikheid indien dit lewensopvatlik verlewendig is en dit geld ook vir wetenskapshandelinge. Die wetenskaplike se bemoeienis met die werklikheid is nie net 'n indink-betrokkenheid nie, maar terselfdertyd 'n inleef-betrokkenheid: die rasionele word verryk deur die affektiewe en die skerpste vorm van affektiwiteit is lewensopvatlikheid. Die wetenskap gaan van tyd tot tyd in sy wetenskapsbeoefening oor tot selfbeoordeling. 'n Besondere maatstaf vir selfbeoordeling is gevoelsmatige beoordeling in die lig van 'n eie rangorde van waardes, dit wil sê lewensopvatting wat lei tot besondere winste vir die wetenskapsbeoefening: entoesiasme, verantwoordelikheid, gemoedsekerheid en verhelderende insig!

Hierdie opvatting het besondere trefkrag onder opvoedkundiges gehad, maar is tog gekortwiek deur

  1. 'n onkritiese vasklou aan sogenaamde suiwer fenomenoloë aan 'n beskouing dat 'n neutrale wetenskapsbeoefening moontlik is;
  2. 'n verlammende onvermoë van sekere ideoloë om te onderskei tussen lewensopvatlikheid as universele aangeleentheid en die lewensopvatting as partikuliere rangorde van wanordevoorkeur;
  3. 'n bitter vyandigheid in sommige polities-geïnspireerde kringe teen die Christelik-nasionale idee as synde 'n apartheidsfilosofie;
  4. 'n hedendaagse toenemend op die voorgrond verskynende aandrang op die beskerming en ontwikkeling van menswaardigheid soos onder andere blyk uit:

  • Die Suid-Afrikaanse Grondwet
  • die vestiging en ontwikkeling van onderwysreg veral aan 'n aantal Fakulteite van Opvoedkunde
  • wetgewing in sake menseregte met besondere beklemtoning van vroue-en-kinderregte
  • die Menseregtekommissie
  • 'n besonder hoë aantal perskommentare oor die skending en handhawing van menswaardigheid en menseregte.

Dit dwing die wetenskaplike (opvoedkundige) om buitengewone wetenskaplike aandag te gee aan menswaardigheid as beligtende denkmiddel. Vervolgens dan 'n kort tipering van menswaardigheid waaruit behoort te blyk dat dit beligtende denkmiddel- en beoordelingsmiddelstatus verdien.

Dit is reeds in hierdie voordrag telkemale gesuggereer dat menswaardigheid beligtingsmiddelstatus verdien.

Die mens is verplig om agting te hê vir sy menswaardigheid, dus om sy vermoë tot waardekennis-, verwerkliking en -aanvaarding hoog te skat. Daarom is mense ook aan mekaar agting verskuldig en mag geen mens deur 'n ander as middel tot 'n doel gebruik word nie.

Agting en beagting is spesifiek menslike wyses van lewe. Agting is 'n gevoel van hoogskatting en waardering. Agting-vir-menwsaardigheid dui op genormeerdheid en die mens as draer van hierdie waardigheid is verplig om dit in sy eie persoon en in diè van die ander nie te verloën nie maar te beag, te bewaar en te bewaak.

Elke mens as iemand wat waardes in die lewe verwerklik, is 'n waarde-erkennende en waarde-verwesenlikende wese. As draer van waardigheid wil hy be-ag word as gewaardeerde medestander, medeganger en gelykwaardige deelnemer aan die lewe.

Geen mens wil anders be-ag word as juis menswaardig nie. Hy wil graag as persoon raakgesien en begryp word. Hy hunker daarna dat ander mense hom sal be-ag en respekteer en wil nie hê dat hy of enige iemand anders as blote dinge raakgesien en aangespreek word nie.

Omdat die mens 'n wese is wat kies en handel en wat telkens sy verbondenheid met waardes openbaar, hy voortdurend na waarheid en dit wat waardevol is. In sy soeke ontdek die mens waardes en waarhede wat hom sekerheid en vastigheid bied.

Elke mens het 'n reg daarop om verskillend te wees van ander mense want hy is 'n besondere individu. Sy individu-wees word op 'n besondere wyse erken wanneer ander mense agting het vir sy andersheid. Ander mense het dus agting vir hom as waardeverwerklikende wese en as iemand wat die waardes as norme vir sy lewe kan aanwend. Hulle het, met ander woorde, agting vir sy menswaardigheid.

Vervolgens is daar waargeneem dat fenomenologie en sy denkmiddele-aanwending so sterk op die opvoedkundige voorgrond getree het, dat die gevaar van 'n metode-monisme werklik geword het. Ten einde te verhoed dat fenomenologie verklaar word tot aller-saligmakende werkwyse, dit wil sê om te voorkom dat in 'n fenomenologisme verval word, het dit noodsaaklik geword om aandag te gee aan die oplossing, naamlik die moontlikheid van eklektiese denke (wat aan UNISA ontwikkel is).

Metode-monisme veronderstel dat die wesenlike van 'n menslike handeling of gedragswyse toereikend begryp kan word deur die toepassing van 'n enkele metode. So 'n benadering is vir die navorser waardigheid-skendend aangesien

  1. dit kan lei tot 'n oorvereenvouding van menswees
  2. die simplistiese bevindinge kan verhef tot essensiële insigte
  3. dit as uitkoms kan hê die geringskatting (selfs minagting) daarvan dat die mens in werklikheid misterie is meer is as die somtotaal van enkelvoudige bevindinge oor hom
  4. dat die mens nie toereikend as waardige persoon raakgesien word nie, maar as 'n blote gemiddelde, standaardafwyking of as 'n interessante geval.

Metode-meervoudigheid daarenteen word gekenmerk deur 'n onvergenoegdheid met 'n waardigheidskendende rigiditeit vanweë 'n vasgevangenheid in 'n keurslyf van waarde-monisme wat daartoe lei dat denkers doelbewus en krities gaan poog om 'n enge dogmatisme en essensialisme te oorwin wat die moontlikheid tot waardigheid-verduistering bevat.

Die opvoedingswerklikheid is 'n besonder ingewikkelde werklikheid. Die kompleksiteit daarvan dwing die opvoedkundige om 'n verskeidenheid van werklikheidsgetroue metodes aan te wend. Die uitkomste van die aanwending van die verskillende metodes word dan met mekaar vergelyk en onder andere besin oor die integreerbaarheid daarvan. Dit geskied veral met die oog daarop om te sorg dat waardigheidversmoring nie geskied deurdat die mens bejeën word as 'n optelsom van die uitkomstes van verskillende metodes nie.

Hedendaags is daar ten aansien van die menswetenskappe sprake van 'n toenemende metodologiese openheid en 'n waardering vir alternatiewe perspektiewe en paradigmas wat daartoe kan lei dat waardigheid-knellende oorvereenvoudiging van menswees uitgeskakel of ten minste aansienlik versag word.

Denkers wat vasklou aan een benaderingswyse beskou dikwels ander moontlikhede as "ongeldig" eerder as om dit slegs as verskillend raak te sien. 'n Te sterk getrouheid teenoor 'n enkele benaderingswyse kan lei tot 'n bevooroordeelde vermyding van ander moontlikhede. Energie wat aangewend kan word in die soektog na nuwe en beter alternatiewe mag verspil word in die verdediging van die eie standpunt wat hoogstens een moontlike interpretasie van menslike ervaring kan wees.

Metode-veelvuldigheid vereis 'n ingesteldheid wat denkers aanmoedig om te konsentreer op die sterk punte van verskillende benaderings.

In finale instansie kan gestel word dat opvoedkundiges wat die opvoedkundige denkweg afgelê het, met toenemende intensiteit bewus geword het van die feit dat valse redenering kan lei tot vervalsing van diegene waaroor daar geredeneer word en dit beteken verdraaiing en verwringing van menswaardigheid en die denkmiddele wat daaraan status gee. (Ontwikkel aan die Universiteit van Suid-Afrika met prof C P Jansen as medewerker).

Die navorser moet redes gee waarom uitsprake, afleidings, opinies en interpretasies geldig is en as waar aanvaar behoort te word. Die bespreking van hierdie redes kan redenering of argumentering genoem word.

Valse redenering geskied wanneer daar gebruik gemaak word van foutiewe redes. Gevolgtrekkings wat gemaak word, kan bots met die werklikheid en dan ontstaan valse en misleidende redenering. Valse redenering moet geïdentifiseer en uitgeskakel word om byvoorbeeld die wetenskaplike status van 'n navorsingsverslag te verhoog.

Aanleiding tot valse redenering is meesal anti-fenomenologiese handelinge soos:

  1. Algemene gesprek

    Ligsinnige, nuttelose en beuselagtige gepraat lei tot die verduistering van betekenisse en redes. Dit lei tot die uitspreek van populêre sentimente en bevorder emosionele taalgebruik. Algemene gepratery verwring die menswaardigheid van diegene waaroor daar gepraat en geredeneer word. Waaardigheid-erkennende en bevorderende handelinge is 'n sterk konsentrasie op betekenisse en geldige redes.

  2. Oppervlakkigheid

    Die nie-betekenisvolle word op so 'n wyse beklemtoon dat beuselagtige besware en oorhaastige veralgemenings hoogty vier. Dit kan lei tot waardigheid-verdraaiing en kan teengewerk word deur 'n helder essensie-bewustheid wat kan lei tot die seleksie van essensies wat as denkmiddele kan dien.

  3. Oorvereenvoudiging (of naïwiteit)

    'n Gebrek aan kritiese insig wat dikwels gepaard gaan met 'n verwerping van die noodsaaklikheid van verifikasie van die eie uitsprake (redes). Dit lei tot waardigheid-verberging en kan teengewerk word deur kritiese denke, dit wil sê die kritiese aanwending van denkmiddele.

  4. Negatiwiteit

    Dit is 'n weerstand teen essensies en 'n voorkeur van non-sens. Die weg van die minste weerstand word besonder aantreklik en die weg van die denke word verlaat, met noodlottige gevolge.

  5. 'n Gebrek aan beligting (intellektuele verheldering).

    Dit is die uitkoms van 'n gebrek aan geskikte terminologie, dus 'n gebrek aan begrippe wat lig kan werp op essensies, dit wil sê op verskynende betekenisse. Begrippe wat te vaag en dubbelsinnig is, is verwoesters van menswaardigheid, maar kan teengewerk word deur 'n sensitiwiteit vir uitleg en interpretasie van relevante begrippe waaraan die status van denkmiddele toegeken kan word. Inligting moet geïnterpreteer word indien dit betekenisvol moet wees.

Meneer die Voorsitter,

Die opvoedkundige weg eindig in verskillende bestemmings. Een besondere bestemming is die opgeleide onderwyser.

Waardigheid-beskermende onderwysers is bewus van die hoë roeping van hul professie.

Geroepenheid impliseer iemand wat roep en iemand wat antwoord gee. Om te roep is dus om 'n opdrag te gee en gehoorsaamheid te eis.

Geroepenheid is 'n wesenskenmerk wat impliseer dat Iemand buite die mens hom aanspreek en oproep tot gehoorsaamheid.

Deur geroepenheid beleef die onderwyser sy arbeid meer sinvol en waardevol. Wanneer hy besef dat hy vanweë sy menswees opgeroep word om sy kind te begelei tot behoorlike volwassenheid, word hierdie arbeid nie net vir hom sinvol nie, maar besef hy dat hy alles in sy vermoë moet doen om die kind te onderskraag. Die skool kan dus gesien word as 'n onderrigs- en opvoedingsinstelling wat sy ontstaan te danke het aan besef van geroepenheid-tot-opvoeding.

Die eintlike doel van 'n professie is dienslewering, daarom word die diensmotief verhef bo persoonlike geluk. Die onderwys is by uitstek daardie beroep wat van die beoefenaar onselfsugtige hulpvaardigheid en diens verlang en moet die onderwys beskerm word teen waardigheid-vernietigende vakbondismes.

Die onderwyser weet

  • dat die norme wat gepaard gaan met sy geroepenheid onvoorwaardelik aanvaar en gehoorsaam moet word. Een van hierdie norme is die beskerming van kindwaardigheid.

Onderwysers is roepingsbewuste mense wat bereid is om 'n professionele gedragskode te onderskryf en uit te voer en verdien derhalwe die agting van veral die ouergemeenskap. Hulle verdien nie net die agting nie, maar ook die ondersteuning omdat die gedragskode 'n waarborg is dat professionele dienste onbaatsugtig gelewer word.

Die ouers (as die gemeenskap) moet dan ook besef dat hulle 'n teenprestasie kan lewer deur eerstens self agting vir die onderwysprofessie te betoon en te bevorder, en in die tweede plek aan te dring op diensvoorwaardes en salarisse wat by 'n professie pas. In die lig hiervan is byvoorbeeld relatief swak besoldiging en onverantwoordelike opmerkings wat soms oor die onderwysprofessie gemaak word, afkeurenswaardig.

Die onderwyser weet dat daar by alle normale mense die hunkering is om nie slegs te bly lewe nie maar veral om sinvol te lewe. Dit beteken dat almal ingestel is op die oorlewing van allerlei probleme, beperkings en bedreigings.

Die denkende mens soek onmiddellik na die voorwaardes waaraan daar voldoen moet word ten einde sinvol te oorlewe.

In die Republiek van Suid-Afrika kan onderwysers(esse) hulle leerlinge inspireer om aan minstens twee voorwaardes vir oorlewing te werk: dissipline en prestasie.

Lewe binne die ligveld van die skoolreëls lei tot gedissiplineerdheid wat oorlewing kan waarborg. 'n Ingesteldheid op prestasie versterk die prestasiebewussyn.

Onderwysers moet leerlinge voortdurend aanmoedig om maksimaal in ooreenstemming met hulle moontlikhede te presteer.

Gedissiplineerdheid en presterende bewussyn vorm saam die fondament van sinvolle oorlewing.

Ten slotte, mnr die Voorsitter, Dames en Here:

Die opvoedkundige denkweg is 'n inspirerende denkweg wat oproep tot volharding en wat 'n betekenisvolle bydrae kan maak tot die ongeskonde bewaring van menswaardigheid.

Ek het besonder waardering van die geduld wat u aan die dag gelê het.

Baie dankie daarvoor.

Terug na BEGIN van bladsy