Biografie
Professor W A Landman


Inhoudsopgawe
Opleidingsinrigtings
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 1)
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 2)
Afrikaans Hoër
Seunskool
Normaalkollege
Pretoria
Laerskool
Witfield
(Deel 1)
Laerskool
Witfield
(Deel 2)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 1)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 2)
Hoërskool
Goedehoop
Laerskool
Fleur
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 1)
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 2)
Universiteit van
Port Elizabeth
Die Universiteit van
Suid-Afrika
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 1)
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 2)
Universiteit
Vista
Onderwyskollege vir
Verdere Opleiding
Universiteit van
Pretoria
(Deel 1)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 2)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 3)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 4)


HOOFSTUK 5
DEEL 1

VERBINTENIS MET
LAERSKOOL WITFIELD

Inhoud

  1. AANSTELLING

    1.1  Skrywes van die Transvaalse Onderwysdepartement
    1.2  Ek en Rachel tree in die huwelik - 15 Desember 1947

  2. WITFIELDSKOOL : HISTORIESE VERLOOP

    2.1  Stigtingsbrief
    2.2  Uit die skooljoernaal

  3. GETUIGSKRIF : 14 JUNIE 1950 - MNR C F J BOTHA
  4. HANDBOEK : SKOOLMUSIEK
  5. ROBIN HOOD
  6. KRUGERLAAN 88 IN AANBOU
  7. 1997 : 75 JAAR REÜNIE - UITNODIGING


VERBINTENIS MET LAERSKOOL WITFIELD

  1. AANSTELLING

    In die middel veertiger jare en ook net daarna was die aanbod van onderwysers in die Provinsie Transvaal, groter as die aanvraag. So gebeur dit dat ek (W A Landman) met die aanvang van die skooljaar 1946 nog werkloos was, ten spyte van talle aansoeke wat tydens die finale studiejaar (1945) gedoen is, almal vir Hoërskool Biologie-poste wat geadverteer is. Die meeste pasgegradueerdes van daardie tyd het nie laerskoolposte oorweeg nie, al was die Normaalkollege deel van die opleiding daarop toegespits en al het een van my mees gewaardeerde Kollegekosente (dr C K Oberholzer) aan my gesê het dat ek 'by uitstek' 'n laerskoolmens is.

    Ongeveer twee weke na die opening van die skole ontvang ek toe 'n telegram dat ek 'n tydelike aanstelling gekry het vanaf 7 Februarie tot 28 Junie 1946.

    Die ontvangs was met gemengde gevoelens - verheug om 'n pos te hê maar darem jammer dat 'n BSc-man laerskool toe moet gaan. Die aanstelling was tydelik (15 Februarie 1946 gedateer) en is verleng met 'n aanstellingsbrief (gedateer 28 Junie 1946). 'n Permanente aanstelling volg vanaf die eerste kwartaal 1947 en ek bly verbonde aan Witfieldskool tot Desember 1950 (dus vir 5 jaar). Dit het gou geblyk dat die advies van "laerskoolman" in die kol was. Ek het gou aanklank gevind by die meer senior laerskoolkind en het gou en goed daarin geslaag om hulle pedagogies lief te kry.

    1.1  Skrywes van die Transvaalse Onderwysdepartement

    1. Dit is my opgedra om u tydelike werksaamhede aan te bied ooreenkomstig die bepalings van Artikel 79 van die Onderwyswet (1907), en die regulasies opgestel ingevolge daarvan, soos van tyd tot tyd gewysig, as Assistent P.B. aan die Witfieldskool onder die Witwatersrand Oos skoolraad/beherende liggaam, teen £345 per jaar op die skaal £345 x 15 x 600 vanaf dadelik tot 28 Junie 1946.

    2. Dit is my opgedra om u tydelike werksaamhede aan te bied ooreenkomstig die bepalings van Artikel 79 van die Onderwyswet (1907), en die regulasies opgestel ingevolge daarvan, soos van tyd tot tyd gewysig, as Assistent P.B. aan die Witfield Afrikaanseskool onder die Witwatersrand Oos skoolraad/beherende liggaam, vanaf 30 Julie 1946 tot 13 Desember 1946.

    3. Dit is my opgedra u mee te deel dat die Direkteur van Onderwys ingevolge artikel 78 van die Onderwyswet (1907), soos gewysig, u aangestel het in die pos van Assistent P.B. aan die Witfield (Boksburg) skool, onder die Rand-Oos Skoolraad/Beherende Liggaam, geadverteer vir die eerste kwartaal, 1947 teen 'n salaris van £ Teenswoordig per jaar, op die skaal teenswoordig vanaf 1.1.47.

    1.2  Ek en Rachel tree in die huwelik

    Na ons troue
    Voor Calvinia-kerk
    15 Desember 1947

    Met die ontvangs van die telegram was ek (ongetroud) tuis by my ouers te Olifantsfontein en het daagliks per trein gereis tussen Olifantsfontein en Ravensklip, 'n spoorweghalte tussen Elandsfontein en Knights. 15 Desember 1947 is ek getroud met Rachel Nel Burger en ons woon steeds te Olifantsfontein terwyl ons huis in aanbou was te Krugerlaan 88. Die treinreis vind, nadat ons ingetrek het by Krugerlaan 88, plaas tussen Lytteltonstasie en Ravensklip. Die afstand tussen Ravensklip en die skool (deur 'n vallei wat 'n dam bevat het), was ongeveer 1 kilometer. Ek het smiddae ongeveer 15h00 tuis gekom en het intussen besluit om in te skryf vir B.Ed-studie aan die Universiteit van Pretoria.

Ons huis in Krugerlaan 88
in aanbou

Ons huis vorder

Ek staan in ons voordeur

Rachel voor ons huis

Swaer Jan Engelbrecht
bou die garage

Ons huis is byna voltooi!

  1. WITFIELDSKOOL: HISTORIESE VERLOOP

    2.1  Stigtingsbrief: 22 Oktober 1921

    'n Belangrike brief no. 1828: 22nd October 1921

    Boksburg

    The Principal
    Wit Deep Government School
    P O KNIGHTS

    I am instructed to inform you that the Department has sanctioned the establishment of an Afrikaans Medium School at Driefontein and that pending the provision of more suitable premises it is proposed to establish the school in the Wit Deep Recreation Hall with the present pupils and staff of your Dutch Medium Section.

    Please furnish me with a statement of the classification, enrolment and staffing of your school to enable the Board to complete the arrangement if possible for the beginning of the first term of next year.

    Geteken: J N .....
    Secretary : School Board

    2.2  Uit die Skooljoernaal

    Die Skooljoernaal neem 'n aanvang Tweede Kwartaal 1922. Op Dinsdag 18 April 1922 aanvaar die skoolhoof, mnr C A du P Marais, sy pos. Dit is 'n driemanskool met die naam Driefontein Afrikaans Medium Skool, Witwatersrand-Oos, Skoolraad.

    21 April 1922: Die skoolhoof stel homself op hoogte van die standaard in al die vakke. Onderrig word aangebied tot en met St IV. Op aandrang van die ouers word St V toegevoeg. Daar is 95 leerlinge: 43 'jongens' en 52 meisies. Baie ouers het weggetrek weens 'industriële moeilikheid'.

    23 April 1922: Dit is moeilik om behoorlike orde te handhaaf, daar al die onderwysers in een groot lokaal moet skoolhou.

    27 Oktober 1922: Rapport van Inspeksie : Driefontein Goewermentskool. Die werk is baie bevredigend. Die hoof wy hom met ywer aan sy werk. Toon en dissipline is goed (Inspekteur J J Strassheim).

    2 Februarie 1923: Die getalle staan nou by 110.

    23 Maart 1923: Op die rol gemiddeld 111 leerlinge. Die skool moet aanstaande kwartaal in die nuwe Kerksaal Balmoral Hill, Witfield begin. Die gebou is byna voltooi en sal grootliks in die behoefte van die skool voorsien en'n groot verbetering wees op die Rekreasiesaal Witdeep.

    5 April 1923: Register nou 'gesteë' is tot 125.

    11 Mei 1923: Die getalle is nou op 150.

    29 Junie 1923: 155 leerlinge op die rol. 'Dis te betreur dat die groot getal kinders met al die standerds tot en met VI slegs deur drie onderwysers moet bearbei word'.

    24 Julie 1923 : Die staf tel nou 4 onderwysers.

    11 September 1923 : Inspeksierapport, mnr J J Strassheim. Die geboue is buitengewoon netjies. "Dis byna onmoontlik om deeglik werk te doen met slegs 'n seil partisie tussen die verskillende klasse". "Wat baie prysenswaardig is, is die netheid van die leerlinge". "Die hoof, mnr Marais, is 'n hardwerkende ywerige onderwyser".

    25 Januarie 1924: "Daar is egter een groot moeilikheid naamlik dat die Kerksaal te klein is vir al die kinders ....". Dit is te hope dat die Departement 'n weg ope sien om voorsiening te maak ...."

    22 Februarie 1924: "Dis bemoedigend dat die Departement nog twee addisionele klaskamers gaan aanbou."

    29 Julie 1924: "Ds Louw het oorgekom vir die opening en die in besitneem van die addisionele klaskamers."

    3 Augustus 1924: Skoolinspeksie: "Geboue en buitegeboue netjies en skoon en in baie goeie orde."

    24 en 25 Maart 1925: Rapport van Inspeksie: "Die werk van die skool is baie bevredigend. Die hoof en die personeel werk hard en die leerlinge maak goeie vordering. Toon en tug is goed."

    3 en 4 Mei 1926: Aantal op die register 178.

    22 Oktober 1926: 'n Skoolkonsert is gehou. "Die opbrengs sou gaan vir die oprigting van 'n partisie in die saal. Later het die Departement toegestem om self die partisie op te stel. Die opbrings was £24 - wat nou gebruik is vir die aankoop van 100 stoele vir die saal."

    11 Maart 1927: "Die skool gaan goed vooruit. Die meeste leerlinge doen hulle bes. Die getalle groei stadig."

    27 Mei 1927: Die skool sien met "verlange" uit na 'n partisie in die saal, wat 'n groot gerief vir die skool sal beteken.

    26 Julie 1927: "Die skool verheug sig in die gebruik van 'n doelmatige partisie.... Ook is die P.W.D. besig met die oprig van nog 'n klaskamer."

    3 en 7 Junie 1927: Rapport van Inspeksie: "In die hoofgebou is daar nou drie klaskamers en in die sinkgebou naasaan is twee. Die sesde klas (St II) is in 'n gehuurde winkelgeboutjie ... Die skool is uitstekend georganiseerd. Vir 'n Afrikaansmediumskool is die resultate wat bereik is in Engels besonder bevredigend."

    2 November 1928: "In die saal is nou elektriese ligte aangebring wat vanaand sal ingewy word met 'n geselligheid."

    6 Desember 1928: Mnr Meyer, Hoofbestuurder van die New Modderfonteinmyn, wat al die pale vir die omheining van die skoolgronde en al die mooi sierbome gegee het, was gevra om 'n boompie te plant "ter gedagtenis van sy weldadigheid."

    7 Desember 1928: Die skool sluit met 208 leerlinge op die register.

    4, 5, 6, 13 September 1929 : Die skool se naam is nou Witfield Afrikaans Medium Skool. Rapport van Inspeksie.

    Die Skool se naam:

    Witwatersrand Oos Skoolraad
    Posbus 212,
    BOKSBURG
    23 Februarie 1928

    Mnr S J Wannenburg
    Hon Sekretaris
    Driefontein A M Skoolkommissie
    Posbus 1,
    KNIGHTS

    Waarde Heer

    Met nadere verwysing na vorige korrespondensie oor die kwessie van die verandering van die naam van u skool, is my opgedra om u mee te deel dat die Departement ooreenkomstig u aanbeveling, die verandering van die naam van die Driefontein Afrikaansmedium Skool tot die Witfield Afrikaansmediumskool goedgekeur het.

    Die uwe
    J M Ferrar

    Opmerking
    'n Demokratiese Onderwysdepartement slaan ag op die wense van die ouergemeenskap.

    Mnr P J Kloppers "Ofskoon die skool in die teenswoordige geboue op bevredigende manier kan voortgesit word, verdien dit oorweging om in die naaste toekoms 'n behoorlike ingerigte skoolgebou op te rig op die stuk grond wat daarvoor beskikbaar is naby die teenswoordige gebou". .... "Die hele staf van die skool stel blykbaar lewendige belang in die leerlinge sowel binne as buitekant."

    27 Maart 1931: Die skool sluit met 224 leerlinge op die register. "Die onderwysers en onderwyseresse het baie ywer aan die dag gelê."

    5 Maart 1932 en volgende dae: Die inspekteurs (mnr P J Kloppers en A M Hobb) beveel aan "die bybou van twee klaskamers, stafkamer, voorraadkamers, kleedkamers en twee latrienes." Dit blyk dat die Prinsipaal self die grootste deel van die tyd klasonderwys moet gee. Dit maak dit moeilik om die werk in ander klasse so noukeurig na te gaan as dit wenslik is. Die Prinsipaal doen sy uiterste bes om hom op die hoogte te hou met die toestand van die werk in die gehele skool. Hy stel belang in sy werk en gee hom daaraan met toewyding."

    14 Desember 1932: "As ons (prinsipaal) moet oordeel oor die werk van die jaar, voel ons baie voldaan oor die gehalte daarvan. Die onderwysers(esse) het hul uiterste gedaan om vrug op die werk te behaal."

    20 Januarie 1933: "Nuwe klaskamers. Ons is bly dat ons vandag besit kan neem van die nuwe klaskamer. Ons hoop die Departement gaan ons ook nog 'n stafkamer en 'n prinsipaalskantoor gee."

    4, 5 en 6 Maart 1934: Rapport van Inspeksie: Witfield Afrikaans Medium Goevt. Skool.
    "Die prinsipaal doen sy uiterste bes om na sover sy gewone klaswerk hom toelaat, op hoogte te bly met die gang van die werk, dwarsdeur die skool. Hy stel 'n warme belang in sy arbeid en gee leiding en hulp waar hy dit kan doen." "'n Gesonde kristelike gees kenmerk die skool". Op die register 226.

    15 Februarie 1935: "Die hoop word gekoester dat binnekort 'n aanvang sal gemaak word met die bou van 'n nuwe skool. Dis seker hoog tyd, want ons sukkel al baie jare met gehuurde en tydelike geboue".

    20 September 1935: "Ons kinders is hart en siel in hul werk."

    6 November 1936: "In die klaskamer 7' x 20' sit mej Marais met meer as 40 leerlinge. Dis eenmaal onmoontlik om daar goeie werk te kan doen. Drie kinders in een bank kan nie skriftelike werk doen nie. Maar ons is bly om te verneem dat die Administrasie 'n tender vir 'n nuwe skoolgebou met 9 klaskamers aangeneem het en dat daar binnekort met die werk 'n begin sal gemaak word."

    11 Desember 1936: "Die nuwe skoolgebou is uiteindelik in aanbou. Ons hoop om 'n deel daarvan te betrek op 18 Januarie a.s. Dit was hoog tyd, daar een onderwyseres vir meer as 6 maande nie 'n klaskamer vir haar 40 leerlinge gehad het nie. Sy moes maar tevrede wees met die waskamer 8' x 20' groot."

    18 Januarie 1937: Nuwe skoolgebou: "Dit is reeds sover voltooi dat ons van een klaskamer duidelik kan besit neem. Die kontrakteur meen om die hele gebou teen die end van die maand af te lewer. Ons sien dus ook met verlange uit na die dag dat ons in ruimer en netter klaskamers kan gehuisves word."

    5 Februarie 1937: "Ons kon vandag afskeid neem van die Kerksaal en tydelike geboue waarin ons 15 jaar gehuisves was en met al die klasse oortrek na ons nuwe pas voltooide skoolgebou. Dit is seker iets om oor dankbaar te wees, na soveel jare van ongerief en gebrek aan plaasruimte, om eindelik in 'n nette en ruim gebou intrek te neem."

    Woensdag 3 Maart 1937: "Offisiële opening van ons nuwe skool".

    "Hierdie plegtigheid het plaasgevind op Woensdag 3 Maart om 11 uur vm. Daar was 'n mooi opkoms beide van ouers en eregaste van elders. Mnr Viljoen, Inspekteur van Onderwys het namens die Provinsiale Administrasie die openingsplegtigheid waargeneem. Ds Louw het namens die Skoolraad en Skoolkommissie gepraat. Mnr Campbell het namens die Stadsraad van Boksburg opgetree. Ook 'n hele paar hoofde van skole was teenwoordig. Die prinsipaal het namens die skool een en ander meegedeel in verband met die ontstaan en groei van die skool sinds 1922. Die kinders het gepas gesing by die begin en slot. Die susters het beide kinders en besoekers getrakteer op verversings."

    23 April 1937: "Die Stadsraad het ons wonderlik tegemoet gekom deur ons op allerhande wyse te help met die regmaak van ons nuwe skoolgrond."

    12 Augustus 1938: "Die klavier wat ons bestel het vir die skool het aangekom. Ons het ook'n True-vue en 40 rolprente van Amerika bestel."

    30 September 1938: "Die getalle van die skool het die kwartaal gevoelig gedaal. Dit moet toegeskrywe word aan rondtrek van ouers, en slegs as tydelike verskynsel beskou word."

    10 Oktober 1938: "Daar is net 5 leerlinge toegelaat. Daar is op die oomblik 214 leerlinge op die rol."

    6 Desember 1938: "Mnr von Wielligh was vandag hier by die skool om die voortrekkerkommetjies wat deur die Raad van Boksburg geskenk is, aan die leerlinge te oorhandig."

    9 Desember 1938: "Al die leerlinge was vandag na Boksburg in verband met die ontvangs van die Ossewaens."

    10 Februarie 1939: Die inskrywings het opgegaan na 235.

    30 Junie 1939: 'Die skool het vandag vir die wintervakansie gesluit. Op rol 247."

    27 Oktober 1939: "Hier is gisteraand 'n debatsvereniging gestig, met die oog om jonk en oud meer met mekaar in aanraking te bring."

    3 November 1939: Daar is 'n begin gemaak met die omheining van die skool. Bome is alreeds bestel.

    12 Januarie 1943: Die hoof, mnr P F Erasmus is aangestel as hoof van Paul Krugerskool, Alberton en moet diens aanvaar op 19 Januarie. In sy plek is aangestel as waarnemende hoof, mnr P L Viljoen.

    19 Februarie 1943: "Mnr P F Erasmus het vanoggend offisieel afskeid geneem van die staf en leerlinge. Namens die staf het ons aan hom 'n present oorhandig as blyk van waardering."

    2 Julie 1943: "Die nuwe hoof van die skool, mnr C J F Botha is aangestel om volgende kwartaal hier te begin."

    OPMERKING

    Die skoolhoof, mnr C A du P Marais is 'n toonbeeld van egte professionaliteit. Hy gee duidelik opvoedkundig- en administratief-verantwoordelike en verantwoorde leiding aan sy personeel, al is dit onder uiters moeilike omstandighede. Hy maak die meeste van buitengewoon ontoereikende fasiliteite en apparatuur. Hy tree op as doeltreffende beskermer van kinderbelange en kindwaardigheid. Hy handel met die ouers met beklemtoning van hulle oorspronklike opvoederskap. Hy is 'n lojale werknemer van die Transvaalse Onderwysdepartement.

    Na Witfield, Deel 2