Voordragte oor navorsing
Terug na Navorsing
RESENTE UITSPRAKE OOR NAVORSING
ORIëNTERING
Geen navorser wil daarvan beskuldig word dat sy/haar
navorsingshandelinge verouderd is nie. Dit is so omdat veroudering dui
op stagnasie, op 'n vervallendheid in 'n akademiese groef en op 'n
onvermoë tot openheid vir nuwe moontlikhede.
Hierdie uitspraak beteken dat die navorser op kontinue basis kennis sal
moet neem van artikels wat in navorsingstydskrifte verskyn. Wat nou
hier volg is 'n uiteensetting van sodanige artikels wat moontlik
waardevol mag wees vir navorsers (dosente, M- en D-studente):
(i) Realisme
(ii) Relevansie en geldigheid
(iii) Kritiese denke en (in) die navorsingsverloop
(iv) Kommunikasie tussen navorsers en gebruikers van navorsing
(v) Dialogiese navorsing
(vi) Integrasie van teorie, praktyk en navorsing
(vii) Deelnemende navorsing
(viii) Persoonstudie (Die een verteenwoordigende gevalstudie)
REALISME (Fend, 1990:687-709)
Hedendaagse navorsing word gekenmerk deur 'n nugter-saaklike insameling
van gegewens en 'n analise van die werklikheid. 'n Sistematiese
begryping van die werklikheid self is 'n navorsingsdoel. Daar is sprake
van 'n realistiese wending na praktykbegryping en 'n sistematiese
analise van hedendaagse problematiek, in besonder die konsekwensies wat
veranderinge het op die volwassewordende jeug. Relevansie en
werklikheidsgeoriënteerdheid word beklemtoon en daarmee word ook bedoel
dat die deskriptiewe en verklarende wetenskaplike, se navorsende omgang
met die werklikheid pedagogieser ("pädagogisher") moet word.
RELEVANSIE EN GELDIGHEID (Parker, 1990A:613-620/1990B:165-169)
Dit is 'n probleem indien daar besluite geneem moet word aan die hand
van verouderde en teenstellende inligting of soms selfs afwesigheid van
inligting.
Daar moet gewaak word teen selfverydelende navorsing (self-defeating
research), d.w.s. navorsing met onduidelike en nie-relevante doelwitte
en metodologie, dikwels met 'n swak ontwerp. Primêre beklemtoning van
waardes en praktykverbetering is nodig (vir relevansie) met 'n sterk
kontrole van eksterne veranderlikes.
Eksterne veranderlikes is daardie ongekontroleerde veranderlikes wat 'n
betekenisvolle invloed mag hê op die afhanklike veranderlike. Hulle
invloed kan verminder word deurdat hulle verwyder word; ook deur
balansering van gevalle, analise van kovariansie en ewekansigheid (Best,
1981:61).
Met elke navorsingsprojek moet daar besondere aandag gegee word aan
navorsingsgeldigheid:
Geldigheid
1. Die mate waarin 'n toets voldoen aan die doel waarvoor dit ontwerp
is (Tuckman, 1987:2).
2. Die mate van ooreenkoms tussen 'n begrip se definisie van 'n
veranderlike en die operasionele definisie van daardie veranderlike
(Walizer, 1978:39).
3. Geldigheid verwys na die mate waarin 'n toets korreleer met 'n
kriterium ekstern aan die toets self (Sax, 1979:220).
4. Geldigheid is daardie eienskap van 'n data-insamelende instrument
of prosedure wat dit in staat stel om te bepaal waarvoor dit
ontwerp was om te bepaal (Best, 1981:153).
Geldigheid: eksterne
1. 'n Sinoniem vir die veralgemening van (eksperimentele) bevindings.
2. Die mate waartoe (eksperimentele) bevindings veralgemeen kan word
tot ander persone, omstandighede en situasies (Sax, 1979:140).
Geldigheid: inhouds-
Die mate waarin toetsitems ooreenstem met die inhoud van 'n kursus,
opleidingsprogram of een of ander betekenisvolle kriterium (Slavin,
1984:281).
Geldigheid: interne
In 'n eksperimentele ontwerp is dit die mate waarin verbande tussen
onafhanklike en afhanklike veranderlikes nie verwar word deur die
teenwoordigheid van ongekontroleerde veranderlikes nie (Sax, 1979:125).
Geldigheid: konstruk
Die mate waarin 'n skaal of 'n toets daarin slaag om die teoretiese
konsep wat dit onderlê te meet, dit wil sê wat dit korreleer met 'n
grondige teorie. 'n Konstrukgeldige skaal sal korreleer met ander
metinge van dieselfde konsep (byvoorbeeld intelligensie) (Slavin,
1984:281). Konstrukgeldigheid verwys dus na of 'n veranderlike
toereikend operasioneel gedefinieer is en of dit noukeurig geëvalueer
kan word met die beskikbare evalueringsmiddele (prosedures, metodes)
(Parker, 1990B:167).
Geldigheid: statistiese
"Statistical conclusion validity is concerned with the appropriate use
of statistics to accurately test hypotheses. A major threat to
statistical conclusion validity is low statistical power. Statistical
power is the probability of rejecting a false null hypothesis, that is,
finding a statistically significant difference when the means, in fact,
come from different populations. Power is a function of the alpha level
(probability of a Type 1 error), sample size (N), and the effect size
(the potency of the treatment or independent variable). Increasing the
alpha level, sample size, and the effect size, singly or in combination,
acts to increase statistical power. According to Cohen (1988) power
should be about .80, that is, researchers should design their studies so
that they have an 8 in 10 chance of obtaining a statistically
significant result when one actually exists" (Parker, 1990B:167).
Operasionele definisies:
1. 'n Definisie wat uitgedruk word in terme van die prosesse of
werkinge (funksies) wat gebruik gaan word om die kenmerk(e) wat
bestudeer te word te meet (Wiersma, 1985:30).
2. Operasionele definisies is bepalend. Die navorser bepaal wat die
betekenis is van 'n gegewe term en dui aan hoe die term gemeet gaan
word. So kan persoonlikheid gedefinieer word as die puntetelling
wat 'n persoon behaal in 'n spesifieke persoonlikheidstoets (Sax,
1979:70).
3. 'n Operasionele definisie is 'n definisie wat gebaseer is op die
waarneembare kenmerke van dit wat gedefinieer word (Tuckman,
1978:79).
4. 'n Volledige stel aanwysings ten aansien van dit wat waargeneem
moet word en hoe om 'n veranderlike (konsep) te meet (Walizer,
1978:36).
5. 'n Operasionele definisie is bepalend (stipulatief) omdat dit
spesifiseer watter werkinge of kenmerke noodsaaklik is om die
veranderlike of kondisie (toestand, gesteldheid) wat gedefinieer
moet word, te identifiseer (Wiersma, 1985:30).
Kwasi-eksperimentele ontwerpe se besondere waarde moet raakgesien en
aangewend word:
Kwasi-eksperimentele ontwerpe (KEO)
KEO kontroleer sommige maar nie al die bronne van interne ongeldigheid
nie. Hulle bestaan vir situasies waarin volledige eksperimentele
kontrole moeilik of onmooontlik is. Hulle dra eksperimentele kontrole
tot 'n redelike grens binne die werklikheid van 'n partikuliere situasie
(Tuckman, 1978:136).
KRITIESE DENKE EN (IN) DIE NAVORSINGSVERLOOP (Stotsky, 1991:193-212)
Stellings:
1. Navorsers (resp. dosente) moet aandag gee aan die wyses waarop daar
tot kritiese denke aangespoor word wanneer 'n student navorsing
onderneem (resp. 'n werkstuk moet skryf).
2. Skerp bekyking van die navorsingsverloop van 'n werkstuk, skripsie,
verhandeling, proefskrif is 'n doeltreffende wyse om selfstandige
kritiese denke te wek.
3. Daar moet duidelikheid wees oor wat studente doen wanneer hulle
* 'n onderwerp selekteer
* bronne opspoor
* bronnestudie doen
* 'n sentrale navorsingsprobleem ontwikkel en moet formuleer.
Om te skryf is moontlik een van die vernaamste middele om denke en leer
te bevorder. Daar moet aandag gegee word aan hoe daar tot kritiese
denke aangespoor kan word, terwyl die student skryf. Bekyking van 'n
saak vanuit meer as een perspektief bevorder kritiese denke (dieselfde
kan geskied met paradigma-vergelyking) veral ook as die student self die
tersaaklike literatuur moet opspoor.
Die vraag is: welke intellektuele waardes word bevorder deur 'n
navorsingsverslag te skryf? Die volgende:
(i) eksplorasie van die idees en ervaring van ander (word verder
verskerp wanneer ooreenkomste en verskille uitgewys word).
(ii) oefening in die seleksie en aanduiding van
navorsingsprosedures.
(iii) formulering van hipoteses.
(iv) neerskryf van resultate (op 'n sistematiese wyse).
(v) maak van gevolgtrekkings (afleidings).
Die volgende krities-etiese waardes word bevorder met die skryf van 'n
navorsingsverslag:
(i) verantwoordelike skrywers neem verskillende uitgangspunte
(paradigmas) in ag.
(ii) beoordeel die kwaliteit van inligting.
(iii) ondersteun veralgemenings met toereikende bewyse.
(iv) stel die resultate van die navorsing duidelik.
Die volgende is verdere handelinge wat kritiese denke bevorder met die
skrywe van 'n navorsingsverslag (werkstuk tot by proefskrif):
(i) skep (ontwerp) van produktiewe vrae.
(ii) identifisering van sleutelbegrippe.
(iii) opspoor van relevante inligting.
(iv) konstruksie van hipoteses.
(v) beoordeling van die toereikendheid van die ingesamelde
inligting (gegewens).
(vi) implementering van eie ervaring wat lei tot 'n op-ervaring- gebaseerde navorsingsverslag.
KOMMUNIKASIE TUSSEN NAVORSERS EN GEBRUIKERS VAN NAVORSING (Buchmann,
1991:179-195)
Inleidend
Daar is 3 voorwaardes waaraan voldoen moet word:
(i) Toeganklikheid as voorwaarde: taal moet begrypbaar wees en
die styl aantreklik. (Dit maak begripsverheldering 'n sinvolle
opskrif in 'n verhandeling of proefskrif.)
(ii) Kredibiliteit as voorwaarde: navorsers moet
geloofwaardig wees, d.w.s. moet geglo kan word. (Dit
maak betoog vry van valse redenering 'n noodsaaklikheid
en dat afleidings slegs op grond van toereikende
inligting (gegewens) gemaak moet word.)
(iii) Toepasbaarheid: die praktykverbeteringbetekenis van die
navorsing moet aangetoon kan word. (Dit maak "paraktykverbeteringbetekenis" 'n sinvolle opskrif in 'n verhandeling of
proefskrif.)
Navorsers moet hulle streng hou aan hierdie drie kommunikasie-voorwaardes en beslis nie van praktisyns verwag om self afleidings te
maak uit navorsingsresultate wat beskikbaar gestel word nie.
'n Ander belangrike voorwaarde is die redelikheid van afleidings
(konklusies, gevolgtrekkings). Wat redelikheid beteken, kan afgelei
word uit die terme wat gebruik word om 'n onredelike konklusie te
beskryf:
* onbesonne, ondeurdag, i.p.v. weloorwoë
* impulsief i.p.v. versiende
* verspot i.p.v. intelligent, verstandig en versigtig
* gevaarlik, futiel, sinloos, lomp, onverantwoordbaar, venynig,
irrasioneel, ens.
Redelikheid word dus geassosieer met omsigtigheid, kennis, visie,
rasionaliteit, doeltreffendheid, verantwoordelikheid en die vermyding
van skadelikheid en kwaad.
Konseptuele perspektiewe (paradigmas) moet oorweeg word en wanneer 'n
keuse gemaak word, moet die motivering daarvoor gestaaf word deur goeie
redes. Die saambestaan van verskillende perspektiewe maak openheid
(onbevooroordeeldheid) moontlik. Maar: "open-mindedness is not empty-mindedness", wat nie beteken dat elke perspektief, opvatting, ens. maar
geakkommodeer moet (kan) word nie.
Die persoonlike opinie moet met groot omsigtigheid hanteer word.
Persoonlike opinies moet nie so selfsugtig wees dat dit redelikheid in
gevaar stel nie. Persoonlike opinies kan dogmaties wees en berus op
gebrekkige kennis. Dit kan soms, omdat dit heethoofdig en kleingeestig
is, veel skade aanrig. (Indien 'n navorser brand om 'n persoonlike
opinie te gee, kan dit geskied onder 'n duidelike opskrif: persoonlike
opinie. Dit is anders gesteld met persoonlike ervaring wat wetenskaplik
gestruktureer is. Kyk Landman, W.A.: Die strukturering van die eie
ervaring vir navorsingsdoeleindes. SATO 1991.) Dit plaas 'n
verantwoordelikheid op die navorser om sy vooronderstellings (paradigma)
te stel en te verduidelik sonder om in dubbelsinnigheid en kontradiksies
(weersprekings en selfs skynheiligheid) te verval.
DIALOGIESE NAVORSING (ONDERHOUD) (Halling & Leifer, 1991)
Dialoog (gesprek) is nodig om waarheid aan die lig te bring en dit is
slegs outentiek moontlik vir 'n individu in dialoog met 'n ander
individu (Karl Jaspers). Dit beteken dat die onderhoud (dialogiese
navorsing) 'n besondere navorsingsprosedures is veral wanneer besondere
waarde geheg word aan begryping en die soeke na waarheid (Buber,
Strauss, Gadamer). 'n Oop dialoog tussen 'n span navorsers verseker
getrouheid aan data (gegewens) en bevorder die diepte van begryping.
Voordele van dialogiese spanwerk:
(i) Deurdat 'n aantal perspektiewe in 'n span verteenwoordig
(moet) word, kan bevooroordeeldheid en vooroordele maklik(er)
raakgesien word.
(ii) 'n Verskeidenheid van perspektiewe lei tot 'n ryker
interpretasie van data.
(iii) Die deel en verspreiding van navorsingstake is moontlik met
span-
of groepnavorsing.
(iv) Wanneer nagraadse studente in so 'n groep opgeneem word,
word opleiding in navorsingsmetodologie sinvol moontlik.
Drie vlakke van navorsingsonderhoud kan onderskei word:
(i) Voorbereidende dialoog:
Individuele opinies oor die betrokke verskynsel word gelug.
Dit lei tot 'n aanvanklike deling van perspektiewe en 'n
identifikasie van vooroordele.
(ii) Oorgangsdialoog:
Spanlede voel hulle direk betrokke by die gebeure en so
ontstaan 'n gevoel van verpligting ten aansien van die
begryping van 'n verskynsel.
(iii) Fundamentele dialoog:
Diskussie (bespreking) vind plaas van
* persoonlike verklarings vir (d.w.s. begryping) van die
betrokke verskynsel.
* bespreking van die verskillende persoonlike verklarings
(wyse van begryping).
* 'n kollektiewe begryping, ontstaan en deurgaans word 'n
houding van openheid teenoor die data (gegewens)
gehandhaaf.
Op dié wyse word navorsingskwaliteite verhoog.
Dimensies van die dialoog:
Twee van die essensiële dimensies van outentieke dialoog is struktuur en
vryheid.
Struktuur verwys na
* fokus op die verskynsel (skynende data) self
* essensie-openbarende (= radikale) interpretasie
* wedersydse agting vir die deelnemers se vlak van begryping en
deelname.
Vryheid verwys na
* deelnemers se vermoë om hulle verbeelding (Husserl se produktiewe
fantasie) te gebruik
* deelnemers se openheid en ontvanklikheid vir dit wat nuut en
verskillend is in ander se ervarings en interpretasies.
Struktuur en vryheid dra by tot die ontstaan van 'n vertrouensverhouding
en samehorigheidsgevoel wat bevorderend is vir die verdieping
(intensivering) van die dialoog.
Die vertrouensverhouding verskerp
(i) wanneer wedersydse aanvaarding geskied omdat dit wat 'n
spanlid sê aangehoor en waardeer word.
(ii) deur 'n belewing van rigting, d.w.s. is iets spesifiek
wat die groep probeer om te begryp.
(iii) deur 'n gevoel van vryheid omdat die groep vry voel om te vra,
om te waag, om kreatief te wees ten aansien van die verskynsel
(verskynende data) wat bestudeer word.
(iv) deur 'n respek en agting vir mekaar.
(v) 'n belewing dat die kwalitatiewe aspekte van die groeplede se
persoonlike ervarings geldig is en die moontlikheid van
algemeengeldigheid (universaliteit) inhou.
INTEGRASIE VAN TEORIE, PRAKTYK EN NAVORSING (Ricks et al., 1990:7-20)
Teorie wat onstaan uit ervaring (praktyk) kan
(i) toegepas word in 'n praktyk
(ii) onderwerp word aan verdere navorsing en dan kan die teorie
* gewysig word
* vervang word
* verfyn word.
Die volgende is 'n duidelike skematiese voorstelling:
Opmerkings:
1. Navorsing moet ingestel wees op teorie-ontwikkeling en die
verfyning van bestaande teorie.
2. Verskil in navorsingsbevindinge en teenstrydige bevindinge, moet
beoordeel word.
3. Navorsing moet geformuleer word binne 'n teoretiese raamwerk d.w.s.
teorie-gebaseerde navorsing moet onderneem word.
4. Navorsingstandaarde moet gehandhaaf word deur:
* betekenisvolle veranderlikes te identifiseer.
* operasionele definisies te skryf.
* oppervlakkige beskrywing te vermy.
* essensiële vrae te vra.
* nuwe vrae te vra.
* afleidings (gevolgtrekkings) te vervang wat nie deur die
navorsing gestaaf word nie.
* fundamentele aspekte te ondersoek.
* empiriese navorsing te onderneem wanneer dit moontlik is en
sinvol sal wees.
DEELNEMENDE NAVORSING (Ellis, 1990:23-36)
'n Navoser se benadering en keuse van navorsingsmetodologie vir
navorsing word bepaal deur sy
* lewens- en wêreldbeskouing ("view of the world", "
philosophical and ideological position") en
* 'n sosio-politiese konteks.
Die keuse van navorsingsmetodologie word verder bepaal deur
* die doel van die navorsing (die navorser motiveer die keuse
van metodes aan die hand van doelwitte).
* die besondere probleem wat aangespreek moet word, met die
dialoog (onderhoud) as die "beste" metode vir begryping.
Die uitkoms ("outcome") van die navorsing hang af van
* die sosiale konteks waarin dit voltrek is
* die metodologie wat aangewend is
* die teoretiese raamwerk waarbinne dit ontwikkel is.
Die interpretasie van die navorsingsresultate se akkuraatheid vereis
* 'n intieme betrokkenheid van die navorser by die situasie
(probleem) wat nagevors word.
* persoonlike ervaring van die probleem(e) wat tot die navorsing
aanleiding gegee het.
* aanvaarding van die betrokkenes by die navorsing
("proefpersone") met
** insameling van data
** interpretasie van hierdie data
** interpretasie van ander bykomende data.
Wanneer daar van definisies gebruik gemaak word, is dit belangrik dat
die definisies geoperasionaliseer moet word (in terme van die betrokke
navorsingsveld).
PERSOONSTUDIE (veral van Ortopedagogiese belang)
Die een-verteenwoordigende persoonstudie (Gordon & Shontz, 1990:625-646)
Daar bestaan hedendaags pleidooie vir
* metodologie-diversiteit, en
* paradigma-uitbreiding, wat kan lei tot die aanwending van nuwe
navorsingsprojekte vir die oplossing van eeu-oue vrae
(probleme).
Verteenwoordigende gevallestudies (= persoonstudies WAL) word bestudeer
aan die hand van die beginsels van personologie (Murray, H.A., 1983:
Explorations in Personality: A clinical and experimental study of fifty
men of college age. New York. Oxford. University Press.) en die
menswetenskappe (Polkinghorne, D. 1983. Methodology for the Human
Sciences: systems of inquiry. Yew York: State University of New York
Press. Ricoeur, P. 1981. Hermeneutics and the Human sciences: Essays
of language, action and interpretation. Cambridge. England. Cambridge
University Press).
Personlogie verwys na die sistematiese bestudering van individue met die
doel om relevante aspekte van elke individu aan die lig te bring, waar
relevansie bepaal word deur die vraag wat gevra word (probleem wat
gestel word) ten aansien van die data wat versamel gaan word.
Betekenisse van menslike handelinge word beskerm. I.p.v. verklaring,
word begryping beoog.
Een op 'n keer (versigtig geselekteer verteenwoordigend) persoon word in
diepte ondersoek om te bepaal hoe hy/sy 'n besondere gebeurtenis of
situasie ervaar en hanteer. 'n Metode, bekend as die
verteenwoordigende- geval metode is ontwikkel (Shontz, F.C. 1965.
Research Methods in personality. New York. Appleton-Century-Crafts),
vir 'n beskrywende voorbeeld van 'n persoonstudie (die een-verteenwoordigende-gevallestudie of persoonstudie).
Menslike kenmerke is:
* uniek: verskil van dié van enige ander persoon. Kom slegs
voor by die spesifieke persoon wat bestudeer word.
Idiografies.
* algemeen: dieselfde as baie maar nie alle ander persone nie.
Normatief. Psigometriese metodes toegepas in groepe
(Persoonlikheidstoets).
* universeel: dieselfde as alle ander persone. Afleidings word
gemaak uit fantasieë, verslae, drome, projeksie-media wat
openbaar hoe die spesifieke patroon eksistensiële
aangeleenthede soos liefde en dood hanteer.
Data (gegewens) wat ingesamel word kan onderskei word ten aansien van
* vorm: konkrete gedraginge (fenotipe) metaforiese, simboliese
en intuitiewe uitinge (genotipe).
* inhoud: kritiese insidente, persoonlikheidstoetse, drome,
kunswerke (tekeninge).
* tipe (kategorie): idiografies, normatief (normsentriese
evaluering), fantasieë.
* interpretasie: (d.w.s. is dit uniek, algemeen of
universeel?).
STAPPE VAN DIE ONDERSOEK
1. Probleemformulering
Die probleem wat rigting gaan gee aan die ondersoek (navorsing) moet
gedefinieer word. Die vraag is hoe 'n spesifieke individu kritieke
menslike ervarings en besluite hanteer. Sulke ervarings affekteer die
wyse van lewe maar kan op duidelik verskillende wyses deur verskillende
mense hanteer word (Bv. beroepslewe, aangaan of verbreking van
verhoudinge, hantering van godsdiens, siekte, gebreke en dood.)
'n Probleem kan geformuleer word deur te stel: Die navorser wil 'n
studie maak van 'n persoon wat ... (gevolg deur 'n beskrywing van die
toestand, omstandigheid ens.) bv. ... outisties is.
2. Motivering van die navorsing
Spesifiseer die redes waarom die navorsing belangrik sal wees.
Gordon & Shontz, 1990:62 gee die volgende treffende voorbeeld:
For Example: I wish to study a person who is adapting to the
prospect of dying from a terminal illness, because facing death is
a universal problem, and what I learn about that person will reveal
one of many ways to experience and deal with it. Knowing in detail
how one person does so will open up possibilities for studying how
other persons deal with it and eventually for discovering which
aspects are universal, which differ as a function of general
characteristics of people (traits, values, motives, aptitudes, and
abilities) and which are idiosyncratic. Used appropriately, such
knowledge will promote understanding among counselors and give
guidance to others who face similar problems in the future.
3. Selekteer 'n samewerkende navorser (Coinvestigator)
'n Deskundige op die terrein (bv. outisme) waaroor die navorsing gedoen
gaan word, met wie die navorser goed sal kan saamwerk, word genader en
wat gewillig is om as samewerkende navorser op te tree (In geval van die
verhandeling of proefskrif kan (sal) dit die leier of promotor wees).
4. Beskryf die rolle van die navorser, toesighouer (supervisor) en
adviseurs
Die navorser moet seker maak dat hy/sy oor die nodige kwalifikasies en
motivering beskik om die navorsing te onderneem. Die leier/promotor/
projekleier kan (moet) optree as toesighouer. In dié geval sal 'n ander
medewerkende navorser gevind moet word.
Adviseurs (Deskundiges) sal betrek moet word wanneer daar besluite
geneem moet word vir die geskiktheid van die samewerkende navorser,
wanneer interpretasies van die bevindige gemaak moet word en wanneer
probleme wat die navorsing self oplewer, opgelos moet word.
5. Versameling van inligting
Inligting word ingesamel deur opeenvolgende siklusse van data-versameling: aangesien insameling en interpretasie van gegewens (data)
tyd in beslag neem, sal verskillende sessies van datainsameling nodig
wees. Insamelingsprobleme soos reeds in die voorgaande paragrawe
vermeld, word sistematies volgens 'n opgestelde rooster uitgevoer.
Periodieke samesprekings met die samewerkende navorser, die toesighouer
en adviseurs word geskeduleer.
6. Voorbereiding van 'n samevatting
Nadat die data-insameling afgehandel is, moet dit gesistematiseer word
moontlik in terme van die unieke, die algemene en die universele wat aan
die lig gekom het.
Konferensies wat bestaan uit al die betrokkenes by die navorsing word
gehou met die doel om onderliggende ooreenkomste (temas) in die
ondersoekresultate aan die lig te bring en om dit te interpreteer en om
verdere vrae te vra.
Die temas wat geïdentifiseer is, moet duidelik beskryf word en daarna
bespreek word met die oog op verfyning van die beskrywing.
7. Skryf van die finale verslag ('n Voorstel)
7.1 Inleiding
* Spesifiseer die probleem.
* Motiveer die navorsing.
* Dui aan welke bydrae die studie van 'n spesifieke persoon
moontlik kan maak tot probleemoplossing.
* Maak 'n lys van die vrae wat die navorser wil beantwoord met
die navorsing.
7.2 Prosedure-beskrywing
Beskryf die prosedures wat aangewend gaan word om data in te samel
en motiveer die seleksie daarvan aan die hand van die terme uniek,
algemeen en universeel.
7.3 Die ondersoek
Gee 'n opsomming van die belangrikste gebeure tydens die dataversameling en die interpretasie daarvan. Beskryf die onderliggende
temas.
7.4 Konklusies
7.5 Aanbevelings (insluitende aanbevelings oor verdere navorsing)
Opmerking: M- en D-kandidate wat hierdie wyse van navorsing wil
aanwend, word aangeraai om die oorspronklike artikel te bestudeer.
VERWYSINGS
Best, I.W. 1981. Research in Education. Fourth Edition. New Jersey.
Prentice-Hall.
Buchmann, M. 1991. Learning and action in research reporting.
Scandinavian Journal of Educational Research, 35(2).
Ellis, P. 1990. Participatory research methodology and process.
Convergence, 23(4).
Fend, H. 1990. Bilanz der empirischen Bildungsforschung. Zeitschrift
für Pädagogik, 36(4), September.
Gordon, J. & Shontz, F. 1990. Representative Case Research: a way of
knowing. Journal of Counseling and Development, 69, September.
Halling, S. & Leifer, M. 1991. The theory and practice of dialogal
research. Journal of Phenemenological Psychology, 22(1).
Parker, R.M. 1990A. Science, Philosophy and Politics in the search for
truth in rehabilitation research. Rehabilitaion Counseling Bulletin,
34(2).
Parker, R.M. 1990B. Power, control and validity in research. Journal
of Research, 23(10), December.
Ricks, F., van Gyn, G., Branton, G., Cut, J., Loken, M. & Tara, N.
1990. Theory and research in coöperative education: practice
implications. Journal of Coöperative Education, 27(1), Fall.
Sax, G. 1979. Foundations of Educational Research. New Jersey.
Prentice-Hall.
Slavin, R.C. 1984. Research Methods in Education. A practical guide.
New Jersey. Prentice-Hall.
Stotsky, S. 1991. On developing independent critical thinking. What
we can learn from studies of the research process. Written
communication, 8(2), April.
Tuckman, P.W. 1978. Conducting Educational Research. New York.
Jovanovich.
Walizer, M.H. & Wiener, P.L. 1978. Research Methods and Analysis.
Searching for relationships. New York. Harper & Row.
Wiersma, W. 1985. Research Methods in Education. An introduction.
Third Edition. Boston. Allyn & Bacon.
oo000oo
|