1. INLEIDEND
'n Navorsingsontwerp is 'n weergawe van 'n voorneme wat die
navorser wil uitvoer. Dit is 'n onderneming wat voordat die
werklike navorsing begin, uitgedink en uitgewerk is ten einde 'n
besondere doel te bereik. Dié doel is gewoonlik een of ander
vorm van probleemoplossing.
Die navorsingsontwerp (beplanning van navorsing) het 'n besondere
struktuur of vorm en bestaan uit dele (stappe) wat sinvol
onderling met mekaar verbind moet wees. So 'n struktuur of vorm
maak dit moontlik vir die navorsing om te voldoen aan die
beskrywing formeel.
Die dele van die navorsingsplan (navorsingsontwerp) vorm 'n
sisteem wanneer die dele (stappe) op so 'n wyse gerangskik word
dat maksimale (minstens toereikende) wisselwerking moontlik is,
waaruit wedersydse afhanklikheid (interafhanklikheid) blyk. Die
navorser wat dit in ag neem, kan daarop aanspraak maak dat sy
navorsing sistematies gaan wees.
'n Navorsingsplan moet met buitengewone konsentrasie en
kognitiewe energie uitgevoer word wat voortdurend verskerp moet
word deur entoesiasme en 'n sterk presterende bewussyn by die
navorser(s). Die navorser wat dit kan regkry mag sy navorsing
as intensief tipeer.
Die navorser wat formeel, sistematies en intensief te werk gaan,
het reeds begin voldoen aan die eis om hom/haar metodies in te
span. Metodiese inspanning word verder verskerp wanneer die
navorser (in sy navorsingsontwerp- of -plan) aandui op welke
spesifieke wyses daardie aspek van die werklikheid wat
problematies geword het hanteer gaan word. Spesifieke
hanteringswyses kan onder andere beskryf word met terme soos
kwantitatief, kwalitatief, deduktief en induktief. Verder sal
die navorser verslag moet doen oor besondere prosedures en
tegnieke wat hy wil inskakel om sistematies en intensief by die
tot probleem geworde werklikheid betrokke te raak.
Die navorser is eintlik besig met 'n soektog na inligting,
gegewens, bevindinge en uitsprake wat probleemoplossingsbetekenis
het. Dit impliseer dat hy voortdurend sy navorsingshandelinge
en die uitkomste daarvan moet kontroleer (rigting-gee, noukeurig
ondersoek, evalueer), verifieer (waarheid en geldigheid bepaal)
en interpreteer (ryk betekenisse ontdek, betekenisse vrystel,
alternatiewe vertolkings en uitleggings teen mekaar opweeg).
Die volgende is op hierdie stadium 'n sinvolle vraag: Is dit
moontlik om 'n formele, sistematiese, intensiewe, metodiese,
gekontroleerde, verifierende en interpreterende soektog na
uitsprake en bevindinge wat probleemoplossings-betekenis het,
betekenisvol verder te verskerp?
2. HISTORIESE AANLOOP
'n Historiese aanloop tot 'n totale navorsingsprojek en selfs tot
elke stap van die navorsingsplan, kan 'n verskerpende uitwerking
hê. Dit is so omdat daar uit die verlede sake is wat steeds
betekenisvol is vir die begryping en waardering van die hede en
ook vir die toekoms. Dit is hierdie sake wat geselekteer word
om in die hede (die onderhawige navorsingsprojek) verhelderend
aangewend te word. Dit help die navorser om in beweging te kom
in die rigting van:
* vrae wat nog nie in die verlede gevra is nie of
ontoereikend gevra is;
* metodekeuse wat nog nie in die verlede gedoen is nie en met
vermyding van metodes, prosedures en tegnieke wat in die
verlede misluk het;
* probleemoplossings waaraan nog nie in die verlede aandag
gegee is nie of wat ontoereikend aandag geniet het, met
verwydering van probleemoplossingspogings wat in die
verlede misluk het of wat nie bruikbare uitkomste gelewer
het nie;
* aanbevelings wat in die verlede nie haalbaar was nie te
evalueer en dan voor te stel hoe haalbaarheid
geoperasionaliseer kan word;
* beoordeling van standpunte en uitsprake ten aansien van die
onderhawige navorsingsprojek in die verlede met die oog op:
** uitskakeling van die nie-tersaaklike
** behoud van die betekenisvolle (betekenis vir
probleemoplossing)
** vermyding van die aanvaarding van uitsprake wat op 'n
onkritiese wyse gemaak is
** uitskakeling van valse redenering wat in die verlede
voorgekom het (Landman en Jansen, 1993)
** bepaling of daar slegs verwysing is na argumente wat
'n besondere standpunt ondersteun, met verswyging van
teenstaanders
** uitwys van kritieklose aanvaarding van uitsprake deur
navorsers wat steeds soortgelyke en aanverwante
navorsing onderneem het
** identifikasie van sake wat verander moet word vanweë
nuwe benaderings en ontdekkings
** beoordeling aan die hand van etimologie of 'n navorser
nie besig was of is met die outentieke betekenis van
basiese begrippe nie en deur aan te toon dat skerper
begripsverheldering onderneem kan word met
etimologiese ontleding.
3. BESONDERE WINSTE VAN 'N HISTORIESE AANLOOP
'n Historiese aanloop tot 'n totale navorsingsprojek en tot
sommige stappe van die navorsingsplan het die volgende winste:
3.1 Perspektief
Verlede-interpretasies stel 'n huidige situasie is perspektief
(Tyler & Johnson, 1991:1-7). Dit verduidelik verbande tussen
verlede- en hede sake met die oog op die begryping van die
betekenis van laasgenoemde. Dit help die navorser om te vorder
vanaf 'n belangstellinglose en afsydige toeskouer tot iemand wat
wil aanhou bekyk totdat 'n saak (tot probleem geworde
werklikheid) duidelik, helder en deursigtig word.
3.2 Evaluering
'n Vergelyking van 'n verlede toedrag van sake (voorafgaande
tersaaklike navorsing) met 'n nuwe gang van sake (huidige
navorsingsprojek) het evalueringsbetekenis. Die historiese vorm
dan 'n vertrekpunt vir die nuwe. Daar moet kennis geneem word
van 'n verlede toedrag van van sake (Bv. probleemstelling tot op
hede) voordat dit vasgevang kan word met 'n nuwe gang van sake
(Bv. die nuwe probleemstelling) (Roth, 1992:200-208; Kramer,
1992:314-325). Beoordeling van die sin en noodwendigheid van
byvoorbeeld 'n nuwe probleemstelling of begripsverklaring, is die
beantwoording van die vraag: Is dit werklik nuut? Sodanige
beoordeling het ook begrypingsbe-tekenis: die navorser begryp
byvoorbeeld beter waarom die nuwe probleemstelling of
begripsverklaring nodig geword het. Historiese beredenering
berus op die beginsel van betekenis. Byvoorbeeld:
probleemstelling-tot-op-hede gee betekenis aan 'n onderhawige
probleemstelling of begripsverklaring. Betekenisgewing kan
entoesiasme wek, vir byvoorbeeld probleemoplossing. Vermyding
of ignorering van die verlede (= historiese aanloop) kan nadelig
wees, byvoorbeeld wanneer daar gepoog word om die reeds
uitgevinde wiel weer uit te vind, om probleemoplossings wat reeds
doeltreffend was weer te herhaal, om uitsprake wat reeds gemaak
is, te herhaal asof dit nuwe ontdekkings is (Bermejo-barrera,
1953:14-24).
3.3 Identiteitstigting
Die geskiedenis het 'n identiteitstigtende funksie en toon die
nood aan historiese perspektief vir die begryping van identiteit
(Zenkert, 1993:87-98). So kan die nagaan van die historiese
ontwikkeling van 'n probleem of begripsverklaring bydra tot
helderder formulering van 'n onderhawige probleem of hedendaagse
begripsverklaring of anders gestel: skerper identifisering van
die probleem of die basiese begrippe. Skerp
probleemidentifisering is 'n voorwaarde vir die motivering tot
skerp probleemoplossing. Duidelike identifisering van basiese
begrippe wek entoesiasme vir relevante begripsverheldering.
'n Onderhawige probleem word weens spieëling teen 'n historiese
beeld daarvan skerper in relief geplaas. Dit is veral die
onopgeloste aspekte daarvan wat duideliker uitkom (verskyn). 'n
Onderhawige probleem word gehistoriseer met die doel om dit
opvallend te laat verskyn.
3.4 Begronding en regverdiging
Begronding en regverdiging moet histories aan die lig gebring
word (Zenkert, 1993:87-98). Op grond waarvan (kennis daarvan uit
die verlede) word byvoorbeeld 'n besondere metodekeuse
geregverdig (gemotiveer)? Byvoorbeeld: Kwantitatiewe ondersoek
het tot op hede geen sinvolle probleemoplossing gelewer nie en
die navorser gebruik die feit as regverdiging om kwalitatiewe
ondersoeke te onderneem (en vice versa).
Regverdiging van 'n totale navorsingsprojek en ook van spesifieke
stappe in 'n navorsingsplan kan sterk histories bepaald wees.
Op grond van verlede-kennis van 'n werklikheidsaspek wat
problematies geword het, kan 'n hede wyse van aanpak geregverdig
word.
3.5 Uitgelewerdheid
Die beeld van die onhistoriese mens (ungeschichtlichen Mensch)
is 'n beeld van uitgelewerdheid aan ruimte- en tydloosheid en ook
aan die nie-menslike. Openheid van die relevante historiese is
'n aanduiding van die opneem van verantwoordelikheid en
aanspreeklikheid. Verantwoording doen is 'n grondtrek van
menswees (Danner, 1983:124, 187).
Die navorser wat ingestel is op die daarstelling van 'n
historiese aanloop kan daarop aanspraak maak dat hy/sy op 'n
besondere wyse voldoen aan eise wat voortvloei uit die
menslikheid van die mens. Dit blyk onder andere uit sy beagting
van mede-navorsers (verlede en hede) as medestanders en
medegangers. Hy beleef samehorigheid met hulle en voel 'n
verpligting tot toeganklikheid vir die bydraes wat hulle gemaak
het (Landman, 1977:71). Vir so 'n navorser is
wetenskapsbeoefening (ook in die vorm van navorsing) 'n wyse van
lewe. Dit beteken dat hy beïnvloed word deur waardes, gesindhede
en perspektiewe wat histories bepaald is (Bargar & Duncan,
1982:1-31).
4 SLOT
Een van die take van die Historiese Opvoedkunde is om die ander
opvoedkundige dissiplines te oortuig van die sin van 'n
historiese aanloop tot die uitvoering van navorsingsontwerpe.
VERWYSINGS
BARGAR, RR & DUNCAN JK 1982. Cultivating creative endeavours
in doctoral research. Journal of Higher Education 53(1).
BERMEJO-BARRERA, JC 1993. Explicating the past: in praise of
history. History and Theory 32(1)
DANNER, H 1983. Verantwortung und Pädagogik. Athenäum. Forum
Academicum.
KRAMER, LS 1992. Resensie van A Rigney: The Rhetoric of
Historical Interpretation. History and Theory 31(3).
LANDMAN, WA 1977. Fundamentele Pedagogiek en Onderwyspraktyk.
Durban. Butterworths.
LANDMAN, WA & JANSEN, CP 1993. Argumentasie en valse redenering
in 'n navorsingsverslag. Instituut vir Opvoedkundige
Navorsing. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.
ROTH, PA 1992. Resensie van R Martin: The past within us.
History and Theory 31(2).
TYLER, D & JOHNSON, L 1991. Helpful histories. History of
Education Review 20(2).
ZENKERT, G 1993. Die Macht der Geschichte. Philosophische
Rundschau 40 (1/2).