Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing


DEDUKTIEWE EN INDUKTIEWE DENKE
IN DIE OPVOEDKUNDIGE NAVORSING

INHOUD

1. 'n Aantal algemene stellings

1.1 Navorsing en denke

1.2 Denke aan iets

1.3 Denke in terme van iets

1.4 Vertrekpunt

2. Enkele begripsverklarings met kommentaar

2.1 Van Rensburg en Landman 1990

2.2 Runes 1968

2.3 Gouws 1979

2.4 Warren 1934

2.5 Brugger 1967

2.6 Snyman en Du Plessis 1987

2.7 Ingram 1990

2.9 Swanepoel 1986

3. Deduktief-induktiewe denke as eenheid

3.1 Besondere en algemene

3.2 Die deduktief-induktiewe benadering

3.3 Hipoteses as die besondere

3.4 Deduktief en induktief as teenoorgesteld

4. Analogie-redenering as vorm van induktiewe redenering

4.1 Handelinge

4.2 Geoorloofde en ongeoorloofde analogieë

4.3 Analogie-hipoteses

4.4 Moontlikhede vir foutering

5. Deduktiewe en induktiewe denke: basiese begrippe

5.1 Waarneem (waarneming)

5.2 Die besondere

5.2.1 Die besondere as inligting

5.2.2 Enkele voorbeelde van "die besondere"

(1) Die steekproef

(2) Die geval

(3) Outobiografieë

5.3 Verbesondering

5.3.1 Betekenis

5.3.2 Twee wyses

5.4 Die algemene

5.5 Veralgemening

5.5.1 Induksie is veralgemening

5.5.2 Die probleem met induksie

5.5.3 Ekstrapolasie

5.5.4 Kontradiktoriese verifikasie

5.5.5 Onkritiese veralgemening

5.5.6 Die induktiewe sprong

5.6.7 Hipotesevorming as doel

5.5.8 Kincheloe se bydrae

5.5.8.1 Kriteria vir veralgemening

5.5.8.2 Verwagte akkommodasie

6. Intuïsie, deduksie, induksie

7. Deduktiewe en induktiewe navorsing: triangulasie

7.1 Inleidend

7.2 Soorte triangulasie

7.2.1 Data-triangulasie

7.2.2 Navorser-triangulasie

7.2.3 Teorie-triangulasie

8. Die interpretasiegesprek

9. Slot


--- oOo ---

1. 'N AANTAL ALGEMENE STELLINGS

1.1 Navorsing en denke

Alle navorsing is denke, maar alle denke is nie navorsing nie: daar kan nie sprake wees van 'n formele, sistematiese, intensiewe, metodiese, gekontroleerde, verifiërende en interpreterende soektog na algemeengeldige (universele) uitsprake wat probleemoplossingsbetekenis het, sonder intellektuele (rasionele) aktiwiteit (kognitiewe energie) nie. Dit is wel moontlik om te dink sonder om hierdie doelwit(te) in gedagte te hê.

1.2 Denke aan iets

Alle denke is altyd denke aan iets (of iemand, of 'n gebeure): "Ek dink" in isolasie van een of ander vorm van werklikheid waaraan gedink word, is hallusinasie. Vir die navorser is die "iets" waaraan daar gedink word, 'n aspek van die werklikheid wat problematies geword het (of: 'n tot probleem geworde werklikheid).

1.3 Denke in terme van iets

Alle denke aan iets is altyd in terme van iets omdat denke in terme van niks leeg en dus betekenisloos is. Alledaagse denke is onkritiese denke in terme van elkedagse ervaringe terwyl wetenskaplike denke, denke is in terme van werklike essensialiteite wat kenteoreties verhef is tot beligtende denkmiddele (soos ook kategorieë genoem).

1.4 Vertrekpunt

Alle denke het 'n vertrekpunt. Die vertrekpunt moet in die werklikheid self geleë wees anders is daar geen fondament waarop gestaan en waarvandaan voortgegaan kan word nie.

Denkwyses (wat kan kristalliseer in die vorm van metodes) moet iets ooreenstemmends in die werklikheid hê wat dit moontlik maak, byvoorbeeld:

(i) Fenomenologiese denke is moontlik omdat essensies (wesenskenmerke) in die werklikheid self verborge lê. Essensies is ontisiteite. G ontos -dit wat is, dit wat met die werklikheid gegee is. Dit is gegewenhede wat vir alle mense vir alle tye gegee is. (Van Rensburg & Landman 1990:150-151).

(ii) Hermeneutiese denke is moontlik omdat die mens se betrokkenheid by sy wêreld gekenmerk word deur persoonlike sinneming en singewing waardeur dinge, gebeure of verhoudinge 'n persoonlike betekenis kry. (Van Rensburg & Landman 1990:198).

(iii) Dialektiese denke is moontlik omdat die werklikheid triadies gestruktureer is, dit wil sê uit driehede saamgestel is. Werklikheidsgebeure en die denke daaroor verloop triadies (Derbolav 1959:Stelling 8).

(iv) Kontradiktoriese denke is moontlik omdat die werklikheid gevul is met moontlikhede wat deur die alternatiewe daarvan en uitsprake daaroor bedreig word (Abbagnano 1960:533-534). Om 'n moontlikheid teenoor sy bedreigde alternatief te stel, kan lei tot skerper aan die lig bring van daardie moontlikheid.

(v) Kwantitatiewe denke (denke in terme van kwantiteite) as vorm van berekenende denke is moontlik omdat daar sake en gebeure in die werklikheid voorkom, wat kwantifiseerbaar is.

(vi) Deduktiewe denke is moontlik omdat daar algemeenhede (bv algemene reëls, stellings, beginsels wat algemeen toegepas word, veralgemenings) ten aansien van die werklikheid voorkom.

(vii) Induktiewe denke is moontlik omdat daar partikuliere (besondere) sake en gebeure in die werklikheid voorkom waaroor uitsprake gemaak word.

2. ENKELE BEGRIPSVERKLARINGS MET KOMMENTAAR

2.1 Van Rensburg en Landman 1990

Die Latynse deducere beteken om weg te lei. Deduktiewe denke is deduksie. Dit is redenering waardeur die besondere uit die algemene afgelei word. Deduktiewe denke het sy vertrekpunt in die algemene en kom dan tot die besondere. Deduksie gaan uit van die algemene reël en probeer dan die besondere of die individuele geval daarby inpas.

Die Latynse inductus: In + ducere = lei. Daar word by besondere konkrete gevalle begin wat in die menslike ervaring teenwoordig is. Die vertrekpunt is die konkrete individuele geval en dan word beweeg (denkend) tot die algemene (die algemeengeldige, die algemeengeldende, die universele). (Bv vanaf hierdie kind en wat daar van hom geleer is, na alle kinders, kinders in die algemeen.)

Kommentaar:

* Die volgende sake kan onderskei word:

(i) 'n saak wat kwalifiseer om "die besondere" genoem te word en wat beskryf kan word as die konkrete individuele geval(le).

(ii) 'n saak wat kwalifiseer om "die algemene" genoem te word en wat beskryf kan word as algemene reël, die algemeen-geldige, die universele.

* Die volgende denkbewegings kan raakgesien word:

(i) afleiding as "laat voortkom uit" (woordeboek): die besondere kom voort uit (ontstaan uit) die algemene. Die denkbeweging kan beskryf word as VERBESONDERING. Verbesondering is 'n wesenskenmerk van deduktiewe denke.

(ii) afleiding is 'n laat voortkom uit: die algemene kom voort uit die besondere. Die denkbeweging kan beskryf word as VERALGEMENING. Veralgemening is 'n wesenskenmerk van induktiewe denke.

2.2 Runes 1968

Deduksie: die Latynse deductio beteken "a leading down": afleiding. 'n Konklusie word afgelei uit 'n aantal voorafgaande (algemeen-geldende) stellings (uitsprake).

Induksie: die Latynse in + ducere beteken "to lead in". 'n Algemene (algemeen-geldige, veralgemeende) uitspraak (stelling, konklusie) word afgelei uit 'n aantal waargenome feite wat kan dien as grond vir so 'n uitspraak. Die algemeen-geldende uitspraak (konklusie) som die feite (die waarnemings) op, en die waarskynlike waarheid van die uitspraak, hang af van die gehalte van die waarnemings (soos ook van die aantal waarnemings).

Kommentaar:

Gemeenskaplik aan beide deduksie en induksie is 'n handeling wat as afleiding (om af te lei) beskryf kan word. By deduksie word die afleiding gekenmerk deur "down" waarvan die tersaaklike woordeboekbetekenis is: "tot 'n punt verder weg". Deur deduksie word daar gevorder wat eintlik 'n vordering is met die openbaring van nuwe KENNIS: kennis aangaande 'n besondere geval wat voortspruit uit kennis van die algemene.

By induksie word die afleiding gekenmerk deur "in" waarvan die tersaaklike woordeboekbetekenisse is: ingesluit in (die waargenome feite word vervat in die algemene uitspraak en word nie oorskry nie, dit wil sê daar word nie meer gesê as dit (kennis) wat die waarneming bied nie). "In" kan ook dui op "skerp geassosieer met": die algemene moet duidelik verbind wees met die besondere. Dit wil sê moet nie meer sê as wat in die besondere vervat is nie. Die probleem is egter wanneer daar VERALGEMEEN word, word daar reeds "meer gesê". (Dieselfde kan geld wanneer daar VERBESONDER word.) Die "in" kan ook beteken "as 'n uitdrukking van". Die algemene is 'n uitdrukking (besondere verwoording) van die besondere (die waargenome feit). VERALGEMENING is 'n besondere wyse van verwoording van die besondere. In hierdie verband gebruik die navorser segswyses soos "Op grond van". "Op grond van my waarneming van 'n aantal pubers, konkludeer (veralgemeen) ek dat alle pubers aggressief en depressief is".

'n Besondere handeling wat in die voorgaande genoem is, is WAARNEEM (of waarneming) met besondere verwysing na die gehalte (kwaliteit) daarvan. Dit is veral die besondere (hetsy as uitkoms van deduksie of as vertrekpunt van induksie) wat blootgestel moet word aan WAARNEEM (waarneming).

2.3 Gouws, LA (red) 1979:48,171

Deduksie is 'n vorm van inferensie wat begin met een of meer stellings (premisse) wat as waar aanvaar word en waaruit volgens logiese reëls 'n enkele stelling of konklusie afgelei word.

Induksie is 'n vorm van inferensie waarin daar op grond van 'n eindige aantal stellings, elk oor 'n besondere geval, tot 'n gevolgtrekking geraak word met betrekking tot alle gevalle. Die stellings word gewoonlik verkry deur waarneming en die konklusie is 'n veralgemening wat 'n wetmatigheid voorstel.

Kommentaar:

Inferensie is 'n denkhandeling wat gemeenskaplik is aan beide deduktiewe en induktiewe denke. Inferensie (afleiding) beteken om te konkludeer op grond van gegewens (inligting, getuienis) waar die konklusie noodsaaklik en logies moet wees.

Vir algemene stellings of besonderhede om WAAR te wees moet dit ten nouste met die werklikheid ooreenstem - dit moet werklikheidsgetrou wees. Dit moet ook geldig wees. Dit beteken dat stellings en uitsprake oor die besondere rekening moet hou met die reëls van die logika en die voorskrifte van argumentasieteorie met 'n afwys van valse redenering (Landman & Jansen 1993).

Beide deduksie en induksie veronderstel WAARNEEM. By deduksie is daar waarneming van die besondere wat voort gevloei het uit die algemene ten einde te bepaal of daar gronde (redes) bestaan vir die afleiding wat gemaak is. By induksie is daar waarneming van die besondere feite of gevalle op grond waarvan daar VERALGEMEEN word.

2.4 Warren,m HC 1934:70,136)

Deduksie is 'n tipe afleiding of beredenering vanuit premisse (stellings, oordele, verklarings, redes, proposisies) tot meer konkrete en spesifieke waarheid. By induksie het die konklusie (die VERALGEMENING) meer algemeenheid ("generality") as die individuele premisse waarop dit gebaseer is. Induksie is die handeling of proses van redenering vanaf die partikuliere (die besondere) na die algemene.

Kommentaar:

Beredenering as die proses van redenering impliseer inagneming van die reëls van die formele logika en die informele logika (Argumentasieteorie en valse redenering). Om meer algemeenheid te verkry vereis VERALGEMENING. In die geval van deduksie bestaan daar reeds veralgemenings om te dien as vertrekpunt. Om te kwalifiseer as vertrekpunt moet hierdie veralgemenings premisse-status hê. Dit beteken dat dit egte vooronderstellings moet wees. Dit moet verder redes wees om die waarheid van die verbesondering (as vorm van konklusie) te aanvaar. Dit moet ook kan dien as motivering om die afleidings wat gemaak word, te aanvaar. Foutiewe (valse, ongeoorloofde, ongeregverdigde) premisse lei tot foutiewe (vals) gevolgtrekkings (konklusies of verbesonderings) (Scriven 1976:77; Walton 1989:109-110).

2.5 Brugger W (red) 1967:175-176

Deduksie beteken om vanuit die wese van 'n objeksgebied (Gegenstand, werklikheidsaspek) te konkludeer tot die noodwendige eienskappe daarvan. Induksie is om uit waargenome individuele gevalle 'n algemene wet (of uitspraak) af te lei wat ook vir die nie-waargenome gevalle sal geld, gesien saam met die formeel-logiese eise van toereikende gronde (voldoende rede).

Kommentaar:

Om te voldoen aan die eis van voldoende rede beteken dat daar met betrekking tot elke stelling (algemene uitspraak wat dien as vertrekpunt vir deduksie) die vraag 'waarom?' beantwoord moet kan word. Voldoende rede moet daarvoor aangedui word. Geen stelling moet gemaak word wat nie gemotiveer kan word nie. Wanneer daar induktief geredeneer word vanaf die besondere (gevalle, uitsprake) word daar gevra of dit 'n voldoende motivering is vir die VERALGEMENING(S) wat gemaak word na dit wat nie WAARGENEEM is nie.

2.6 Snyman en Du Plessis 1987:15,243

Deduksie is 'n vorm van argumentering waarin 'n gevolgtrekking logies uit die premisse van 'n argument afgelei word. In 'n geldige deduktiewe argument is die waarheid van die konklusie reeds implisiet of eksplisiet in die waarheid van die premisse vervat. Induksie verwys na 'n metode van redenering waardeur 'n algemene wet of beginsel afgelei word uit waargenome spesifieke gevalle of verskynsels. 'n Deduktiewe argument maak 'n gevolgtrekking uit inligting wat reeds in die premisse teenwoordig is. Induksie, egter, steun op die beginsel dat die premisse nie tot die waarheid van die gevolgtrekking lei nie, maar 'n voldoende rede bied om die gevolgtrekking te aanvaar.

Kommentaar:

Die navorser moet weet dat iemand wat argumenteer sê op grond waarvan (redes, gegewens, bewyse, getuienis, inligting) 'n gegewe konklusie (gevolgtrekking, slotsom) korrek is (Kaminsky A & Kaminsky J 1979:12). Hy moet ook weet dat hy in valse redenering verval wanneer daar iets verkeerd is met die inligting (gegewens, getuienis, bewyse) wat hy ingesamel het. Hy moet voldoen aan die eise van skerp kennisinsameling wat gekenmerk word deur insameling van relevante kennis (navorsing).

In hierdie verband is die volgende uitspraak van Diemer en Frenzel (1961:67-68) betekenisvol: In die skepping van kennis is daar 'n noue samewerking tussen denke en ken. Kenmerkend van hierdie samewerking is beide DEDUKSIE en INDUKSIE wat twee kennispole is wat met mekaar verbind word. Daarom moet die premisse met relevante kennis gevul wees.

2.7 Ingram, D 1990:117-118

Deduksie is die verklaring of afleiding van die uitwerking (effek) wat die daaraan voorafgaande toedrag van sake het. Induksie is die empiriese bevestiging (stawing, bekragtiging) van wette.

Deduksie en induksie vorm saam 'n metodologies gesofistikeerde stel handelinge wat lei tot die verwerwing van kousale kennis dit wil sê kennis van oorsaak en gevolg of van aanleiding tot 'n uitwerking (uitkoms). Daar moet (deur navorsing) gesoek word na outentieke oorsake in teenstelling met skynbare oorsake.

Kommentaar:

Die denkbeweging vanaf die gekose paradigma (as besondere stel vooronderstellings) is deduktief. Dit beteken dat die paradigma nie los staan van die daaropvolgende navorsingshandelinge nie. (Vgl die voorwoord - Christen en die eerste paragraaf fenomenoloog).

Premisse kan oorsaaklike stellings wees, dus stellings wat oorsake beskryf en die gevolgtrekking beskryf die gevolg of uitwerking of uitkoms. In die voortgaande bedinking vorm die uitwerking (gevolg, uitkoms) die besondere aan die hand waarvan VERALGEMEEN word. Empiriese ondersoek van die besondere kan die veralgemening ondersteun.

In die lig van Ingram se uitleg kan gesê word dat die premisse die gevolgtrekking (konklusie) "veroorsaak" en dat 'n empiries-geverifieerde konklusie VERALGEMENING steun. Empiriese verifikasie behels onder andere WAARNEMING.

Kincheloe (1991:119,152) wys daarop dat die postmodernisme die erkenning van veelvoudige veroorsaking (multiple causation) eis en die moontlikheid van 'n multi-perspektiwiese benadering. Daar moet dus gewaak word teen 'n simplistiese, reglynige oorsaak-gevolg denkskema. Die terme "vanweë" en "aanleiding tot" gee beter erkenning aan veelvuldigheid as byvoorbeeld die terme "as gevolg van" en "gevolglik". Die postmodernisme vooronderstel dat die werklikheid (ook "die besondere" van die induktiewe redenering) kompleks is en dat wisselwerkende kragte werksaam is (p119).

2.8 Muggleton 1990:4,13

Deduksie is die proses waardeur spesifieke uitsprake afgelei word uit meer algemene uitsprake: Premisse, stellings (statements) is meer algemeen as konklusies (gevolgtrekkings), wat meer besonder is. In dié sin is deduksie VERBESONDERING. Induksie lei tot begripsbeskrywing wat meer algemeen is as die stel van voorbeelde (= die besondere) van daardie begrip.

Kommentaar:

Verbesondering as deduktiewe handeling het 'n samevattende uitwerking, terwyl veralgemening as induktiewe handeling die saak van begripsverheldering dien.

2.9 Swanepoel, CH 1986:85

Die deduktiewe redeneringswyse hou verband met konvergente denke en die induktiewe redeneringswyse met divergente denke. Konvergente denke is gerig op die oplossing van 'n probleem terwyl divergente denke kreatief van aard is. Child (1973:187) sê dat The convergent thinker is distinguished by his ability in dealing with problems requiring one conventional correct solution clearly obtainable from the information available, en The divergent thinker, ... is adapt in problems requiring the generation of several equally acceptable solutions where the emphasis is on the quantity, variety and originality of responses. Hierdie prosesse is egter nie uitsluitend nie, en die oplossing van 'n konvergente probleem mag heelwat divergente insette vereis alvorens 'n oplossing verkry word.

Kommentaar:

Deduktiewe denke se bydrae tot probleemoplossing en induksie se bydrae tot kreatiewe denke maak die kombinering daarvan in 'n navorsingsprogram sinvol.

3. DEDUKTIEF-INDUKTIEWE DENKE AS EENHEID

3.1 Besondere en algemene

By deduksie word daar by die besondere uitgekom terwyl daar by induksie met die besondere begin word. By deduksie word daar met veralgemenings begin, terwyl by induksie daar met veralgemening geëindig word. Hierdie stelling open die moontlikheid vir 'n uitleg van deduktief-induktiewe denke as eenheid.

3.2 Die dekuktief-induktiewe benadering

Die deduktief-induktiewe benadering is 'n heen-en-weer beweging wanneer die navorser eers induktief werk vanaf WAARNEMINGS na hipoteses en dan deduktief vanaf hierdie hipoteses na hulle implikasies sodat hulle geldigheid getoets kan word aan die hand van aanvaarde kennis, dit wil sê 'n compatability with accepted knowledge (wat onder andere deur literatuurstudie bekom is). Na hersiening word hierdie hipoteses onderwerp aan verifikasie deur die insameling van gegewens (data) spesifiek met die oog op die toetsing van die hipoteses se geldigheid op die empiriese vlak (vgl waarneming). Die bydrae wat die kombinasie van deduktiewe en induktiewe werkwyses maak is

(i) dit suggereer hipoteses,

(ii) logiese ontwikkeling van hipoteses volg,

(iii) die verheldering en interpretasie van wetenskaplike bevindinge (wetenskaplik verantwoorde insameling en tersaaklike gegewens of inligting), en hulle sintese in 'n konseptuele raamwerk, gedy (Cohen & Manion 1989:4).

3.3 Hipoteses en die besondere

Op hierdie stadium kan dit insiggewend wees om daarop te wys dat 'n hipotese kwalifiseer om "die besondere" genoem te word. Dit is wanneer dit deduktief vanuit 'n aantal algemene stellings, teorieë en selfs algemene hipoteses beweeg word na spesifieke hipoteses wat in werklikheid geantisipeerde waarnemings is. Met induksie begin die navorser met spesifieke WAARNEMINGS (die besondere) en verbind die verwoording (formulering) van die waarneming tot meer algemene stellings of hipotese (die algemene). Dit gebeur byvoorbeeld wanneer daar deur literatuurstudie na 'n aantal spesifieke relevante bevindings (inligting) gesoek word en daaruit 'n hipotese(s) afgelei word (Tuckman 1972:27-28). (Kyk ook: Sprinthall, Schmutte & Sinois 1991:10-12.)

Die verhouding tussen die besondere en die veralgemening daarvan, kan dus in die vorm van 'n hipotese geskryf word. Vanweë die ingewikkeldheid van die opvoedingswerklikheid (en ook van elke aspek daarvan wat vir navorsing afgebaken is) is dit noodsaaklik dat alternatiewe, mekaar uitsluitende dit wil sê nie-oorvleuelende hipoteses, gestel moet word. Elke hipotese moet op 'n verskeidenheid wyses getoets word in verskillende kontekste sodat die hoogste mate van betroubaarheid verkry kan word. Op dié wyse word kumulatiewe komplementerende navorsing gedoen (Brim & Spain 1974:105). (Kyk ook: Stephens, 1968.)

3.4 Deduktief en induktief as teenoorgesteld

Soms word die induktiewe en deduktiewe benaderingswyses nie as eenheid gesien nie, maar word dit teenoor mekaar gestel. Dit word dikwels gedoen wanneer kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsing met mekaar vergelyk word. Uit so 'n vergelyking kan blyk dat kwalitatiewe navorsing induktief is wanneer die navorser poog om die betekenis van 'n besondere situasie(s) te bepaal sonder om reeds bestaande (deduktief-ontstane) verwagtings op die navorsing af te dwing, dit wil sê without imposing pre-existing expectations on the research setting. Kwalitatiewe navorsing begin met spesifieke WAARNEMINGS (= die besondere) en beweeg dan na VERALGEMENING. Dit is in teenstelling met hipoteties-deduktiewe empiriese navorsing wat eis dat die belangrikste veranderlikes eers gespesifiseer moet word en dat navorsingshipoteses geformuleer moet word voor die insameling van gegewens (data, inligting). Die navorser besluit vooraf watter veranderlikes belangrik is en watter verbande tussen hulle verwag kan word. Die strategie van kwalitatiewe navorsing is om toe te laat dat belangrike dimensies (dit wil sê die essensiële) te voorskyn tree uit byvoorbeeld gevallestudies sonder om vooruit te veronderstel wat daardie dimensies sal wees. Die navorser moet naby die gebeure self kom wat hy wil bestudeer en hy staan oop vir dit wat uit die data tevoorskyn tree. Die navorser by being-on-site has less need to rely on prior conceptualizations. Daar is direkte ervaring wat 'n ontdekking-georiënteerde benadering moontlik maak, dit wil sê 'n aan-die-lig-bring ingesteldheid. Induktiewe analise beteken dat sig herhalende reëlmatighede (temas) tevoorskyn tree en nie daarop deduktief afgeforseer word nog voordat die data (inligting) ingesamel word nie. (Bv die vooraf stel van hipoteses en bepaling van veranderlikes.) Die doel is om te bepaal hoe mense hulle leefwêereld ontwerp op grond daarvan wat hulle daaroor bekend maak (Patton 1980:40-46, 125, 306-311).

Robson en Foster (1989:26) wys daarop dat met kwalitatiewe navorsing die navorser nie vooraf 'n helder idee het oor die moontlikhede van die beskikbare data nie maar dat hy tog kan begin met 'n hipotese wat nodig is om byvoorbeeld sy onderhoudgids te ontwerp. Voortvloeiende uit die onderhoude kan nuwe hipoteses opgestel word wat deur verdere ondervraging getoets kan word.

4. ANALOGIE-REDENERING AS VORM VAN INDUKTIEWE REDENERING

4.1 Handelinge

Beredenering aan die hand van analogieë dit wil sê in terme van gedeeltelike ooreenkomste tussen twee sake wat in ander opsigte verskillend is, is 'n kragtige deel van induktiewe denke en sluit die volgende in:

(i) Implementering van die navorser se eie ervaring (Kyk: Landman 1989:9(2)). Na analogie van die eie ervaring word 'n stelling(s) gemaak oor die verwagte uitkoms van 'n bepaalde handeling.

(ii) Mobilisering van ander se ervaring. Ander se ervaring word aangewend om 'n eie standpunt te evalueer, byvoorbeeld in 'n interpretasie gesprek (Kyk: par 7).

(iii) Gebruik 'n situasie B wat soortgelyk is aan 'n situasie A om die uitkoms van situasie A (die situasie waaroor die navorsing gaan) te voorspel. Dit geskied dikwels wanneer die begrip "tipies" gebruik word. Die "tipiese" puber wat in die huislike situasie opstandig is, sal dit ook in ander situasies wees.

(iv) Vergelyk met sake wat van mekaar verskil maar wat wel ooreenkomste het. Byvoorbeeld: ontkenning van die waarde van ontwikkelingpsigologie omdat die wesenlike verskil tussen 'n kind en 'n volwassene, is dat laasgenoemde meer lug verplaas.

(v) Vergelyking van twee sake wat oënskynlik dieselfde (soortgelyk) is maar wat in werklikheid wesenlik van mekaar verskil. Byvoorbeeld mens-dier-vergelyking waar daar op grond van dierestudie afleidings gemaak word oor menswees (rottologieë).

Die redenasie: mens = hoogste ontwikkelde soogdier ("glorified baboon")

Daarom: sy wyse van leer toon wesenlike ooreenkomste met dierlike leer.

Daarom: resultate van dier-eksperimente is geldig om menslike wyse van leer te begryp.

Om terminologie wat eie is aan beskrywings van die diereryk onkrities direk toe te pas op die mens of op menswees, kan beskou word as 'n vorm van ongeoorloofde analogie-redenering.

4.2 Geoorloofde en ongeoorloofde analogieë

Daar moet onderskei word tussen geoorloofde (waardevolle) en ongeoorloofde (ontoelaatbare) analogieë. Om te besluit of 'n analogie toelaatbaar is of nie, moet daar gedink word aan die wyses waarop twee sake gelyk is. Dan word die vraag gevra of die ooreenkomste toereikend is om die konklusie (ten aansien van dieselfde wees) redelik is. Ongeoorloofde analogieë lei tot die afleiding van ontoelaatbare veralgemenings. Toereikende inligting (verkry deur navorsing) is nodig voordat daar besluit kan word of 'n analogie geoorloof is of nie (Hernadek 1972A).

Korrekte, redelike afleidings uit beskikbare inligting stel die navorser daartoe in staat om analogieë te begryp, om te leer uit ervaring, om die essensie (boodskap) van 'n skrywer of spreker raak te sien, om te onderskei tussen gesonde verstand en non-sens, om die verskil raak te sien tussen twee sake wat 'n egte oorsaak-gevolgverhouding (nie-simplisties!) het en twee sake (gebeure) wat eenvoudig naby mekaar in die tyd verskyn (Hernadek 1979B) ).

4.3 Analogie-hipoteses

Analogie is 'n vergelyking waarin punte van ooreenstemming tussen sake uitgelig word, sonder om die punte van verskil te ignoreer. Op grond van hierdie stelling is dit moontlik om analogie-hipoteses op te stel:

As twee of meer sake 'n stel relevante kenmerke het waarin hulle ooreenstem, is dit waarskynlik dat hulle ook een of meer ander relevante ooreenstemmende kenmerke sal hê. Wanneer triviale punte van ooreenstemming beklemtoon word en betekenisvolle punte van verskil word geïgnoreer, word in 'n valse induktiewe redenering verval (Van Veuren 1991:143-145).

Wanneer daar van die besondere na die algemene geredeneer word, bestaan daar vier moontlikhede vir foutering:

(i) Haastige veralgemenings op grond van onvoldoende voorbeelde, gevalle, gegewens.

(ii) Foutiewe analogieë wanneer daar geredeneer word dat aangesien twee sake analoog is in sekere opsigte, is hulle heelwaarskynlik ook ten aansien van ander opsigte dieselfde.

(iii) Valse oorsaak: die besondere veroorsaak die algemene. Die algemene is 'n gevolg van die besondere.

Byvoorbeeld: Vrydag die 13de en swart kat oor die pad veroorsaak ongelukkighede by baie mense (aanduiding van 'n oorsaak wat nie 'n oorsaak is nie).

: Korrelasie geïnterpreteer as kousale verband. Byvoorbeeld terugkeer van die ooievaar en toename in geboortes. (Kyk: Landman & Jansen 1993:37-41.)

5. DEDUKTIEWE EN INDUKTIEWE DENKE: BASIESE BEGRIPPE

In die voorgaande bespreking het veral die volgende basiese begrippe op die voorgrond gekom vir nadere uitleg:

5.1 waarneem (waarneming)

5.2 die besondere

5.3 verbesondering

5.4 die algemene

5.5 veralgemening

5.1 Waarneem (waarneming)

Die navorser kan sy navorsingswerk begin met nabye ("close up") waarneming wat toegespits is op detail. Indien hy die ooreenkomste wat hy raaksien (tussen alles wat hy vir waarneming uitgesonder het) word reeds VERALGEMENING van die grond af opgebou (Van Maanen, Dobbs, Faulkner 1982:16-17).

Wanneer daar van waarneem deur die navorser gepraat word, word daar in die eerste plek mee bedoel dat hy daardie SINTUIE sal inspan wat ter sake is vir sy navorsingsdoel: hy moet die sienbare bekyk, die hoorbare aanhoor, die ruikbare beruik, vasstel hoe die proebare smaak en hy moet die voelbare bevoel en gepaard hiermee die beleefbare beleef (deur inleef en indink). Hy moet met die waarneem, bekyk, vind, opmerk, beleef, leer en afleidings maak. Met die ore moet hy waarneem, verneem, inligting inwin, leer ken, aanhoor, beleef en afleidings maak. Met die neus moet hy waarneem, leer ken, gewaarword en afleidings maak. Met die gevoelsintuig moet hy waarneem, gewaarword, ondersoek, leer ken, afleidings maak en laat verdiep tot invoel (inleef en indink). Deur proe moet hy waarneem, leer ken en afleidings maak.

In die tweede plek dui waarneem daarop dat die sintuiglike waarneming intensiveer sodat sien, skou en aanskou (intensiewe bekyking) word. Hoor intensiveer tot aanhoor (intensiewe luister). Voel word intenser in die vorm van aanvoel (begryping met die gevoel) en empatie (Woordeboek: understanding so intimate that the feelings, thoughts, and motives of one are readily comprehended by another). Dit gaan dus in werklikheid om inleef (verkry insig in diepere betekenisse).

Op hierdie stadium het die navorser 'n teks ontwerp: hy het alles neergeskryf wat die sintuigaanwending (ook in geïntensiveerde vorm) hom laat raaksien het. Die volgende handelinge word nou met hierdie teks uitgevoer:

(i) Skei die essensiële van die nie-essensiële en verwyder laasgenoemde.

(ii) Stel 'n omvattende lys vrae op wat voortvloei uit (i). So kan daar oor elke essensie 'n vraag gevra word. Op dié wyse word 'n vraende bewussyn by die navorser gewek wat hom bybly tot na die afhandeling van sy navorsingsprojek.

In die derde plek gaan die navorser oor tot verdere verskerping van sy waarneming deur prosedure- of tegniekaanwending. Die empiries-ingestelde navorser kan hom wend tot kleinskaalse empiriese ondersoek. Voorbeelde (Landman (red) 1987:Hoofstuk 5) hiervan is die outobiografiese teks (163-169)., die navorsende onderhoud (169-178), die kritiese-insident-tegniek (178-181), gevallestudie (181-184), inhoudanalise (184-189) en post facto navorsing (189-193).

5.2 Die besondere

5.2.1 Die besondere as inligting

"Die besondere" in deduktief-induktiewe navorsing dui op inligting. Die navorser moet onderskei tussen relevante in irrelevante inligting byvoorbeeld deur te onderskei tussen die essensiële (in terme van sy navorsingsdoel omdat die essensiële-as-sodanig nie bestaan nie) en die nie-essensiële, ook tussen die tersaaklike en dwaalweë of wegleidings (Engels: red herring). Die aandag word soms weggelei van die tersaaklike. Hernadek (1979C) wys daarop dat irrelevante stellings gemaak kan word vanweë stres, 'n irrasionele ingesteldheid, nie-begryping van die saak (= die tot probleemgeworde werklikheidsaspek) waaroor dit gaan. Daar bestaan 'n probleem wanneer irrelevante stellings (en vrae) nie herken word nie. Dieselfde geld vir relevante stellings. In dié verband kan 'n vraag soos die volgende, help: is die betrokke stelling ter sake? Irrelevansie/relevansie kan ook getoets word wanneer stellings gemotiveer word. (Vgl die formeel-logiese beginsel van voldoende rede). Irrelevante stellings kan ook beskryf word as 'n vorm van algemene gepratery. Algemene gepratery het die volgende uitwerking op die navorser:

'n Blindelingse gegryp na die nie-essensiële en sinloosheid oorheers, en die vraende verowering van 'n greep op die werklikheidsaspek misluk. Entoesiasme vir die navorsingsprogram gedy nie, want daar word nie weerstand gebied teen die omgaan met die nie-betekenisvolle nie. Die presterende bewussyn van die navorser kan verflou, want prestasie en betekenisloosheid staan kontradiktories teenoor mekaar (Landman (red) 1987:66).

Relevante gegewens moet ingesamel word omdat dit die navorser in staat stel om 'n keuse te maak tussen alternatiewe moontlikhede (bv verklarings of hipoteses). 'n Besondere vraag (vir die navorser) in hierdie verband is: Welke metodes, prosedures en tegnieke sal die mees relevante gegewens kan insamel? Dié wat gekies is, is dié wat die beste rekenskap kan gee van die gegewens (inligting) wat ingesamel is.

Die ingesamelde inligting moet die laaste woord spreek. Ontoereikende inligting spreek 'n ontoereikende woord en kwalifiseer nie om "die besondere" genoem te word nie (Van Veuren 1991:125-145).

By induktiewe beredenering bepaal die kwaliteit van "die besonderre" die kwaliteit van die beweging na die algemene en die kwaliteit van die veralgemening self. Die navorser moet in die beskrywing van die navorsingsontwerp opmerkings maak oor die kwaliteit van die besondere. Die verhouding tussen die besondere en die veralgemening kan in die vorm van 'n hipotese geskryf word. Vanweë die ingewikkeldheid van die opvoedingswerklikheid is dit gerade dat alternatiewe mekaar uitsluitende dus nie-oorvleuelde hipoteses geformuleer word en dit geld ook vir enige aspek van die opvoedingswerklikheid wat afgebaken is vir ondersoek (Brim & Spain 1979:105).

5.2.2 Enkele voorbeelde van "die besondere"

(1) Die steekproef

Die probleem is die omvang van die steekproef. Dikwels is steekproewe klein. Klein steekproewe is deel van die tradisie van baie kwalitatiewe navorsing vanweë die sterk beklemtoning van interpretasie (betekenisonthulling). Interpretatiewe ondersoekmetodes leen nouliks sig vir groot steekproewe (Creemer & Hoeben 1984:135).

Met kwalitatiewe navorsing is die steekproef meesal klein aangesien daar gefokus word op detail van 'n individu of 'n klein groep. Geldigheid hang nie af van die grootte van die steekproef nie, maar van die mate van openbaring van die essensiële van ervaring (Lemmer 1992:292-296).

Kwalitatiewe navorsing noodsaak die versameling van gedetailleerde gegewens oor gebeure (ervarings, belewings) in 'n persoon se lewe. Die aantal hang af van die tyd wat beskikbaar is en kan wissel vanaf die bestudering van een persoon oor 'n gegewe tydperk tot 'n groter aantal persone met 'n doelbewuste inperking van die ondersoek. Die grootte van die steekproef hang af van die aantal persone wat beskikbaar is, ook die beskikbare tyd (Patton 1980:98-99).

Patton wys verder daarop dat die kwalitatiewe navorser bewus moet wees van die moontlikheid van die volgende verwringings in sy ondersoek:

(i) Verwringing in die situasies wat geselekteer is vir waarneming: dit is selde moontlik om alle situasies waar te neem.

(ii) Verwringing ten aansien van die tyd waarop waarnemings gedoen word: is die beste tyd gekies?

(iii) Verwringing in die seleksie van persone: hoe verteenwoordigend is die seleksie? Die navorser moet 'n noukeurige beskrywing gee van hoedanig hierdie verwringings in sy navorsing voorkom (Patton 1980:332-333). Kwantitatiewe navorsing vereis statisties geregverdigde steekproeftrekking (Henry 1990).

(2) Die geval(le)

Gevallestudie staan soms ook bekend as onderwyskundige etnografie, deelnemende waarneming, kwalitatiewe waarneming en veldstudies. Dit word gekenmerk deur die feit dat gegewens (inligting, data) nie gemanipuleer word nie, die aandag op enkelgevalle konsentreer, 'n veelheid van perspektiewe vereis word, 'n totaliteitsbeskouing nagestreef word en daar kennis geneem word van die betekenisgewing van die betrokkenes (Kazin 1982; Sherman & Webb 1988).

(3) Outobiografieë

Beklemtoon die waarde van individuele biografieë as vorm van situasie-analises, dus van biografiese momente wat beleef is deur unieke individue. Persoonlike eksistensie van een individu of van 'n klein groepie geselekteerde individue word ge-eksploreer sodat handelinge (situasies) begryp kan word in terme van die betekenis wat die voorafgaande ervaringe van besondere enkelinge het. Dit vereis 'n heldere beskrywing van tersaaklike ervaring, gepaard met betekenisvolle interpretasie en beoordeling wat 'n uitvloeisel is van 'n intensiewe ontmoeting tussen die persoon wat wil begryp en een of ander verskynsel (gebeure). Die natuurlike word na vore gebring en daar word gebruik gemaak van die lewenskrag van die leefwêreld en op geleefde ervaring as databron. In die lig hiervan beklemtoon Pinar (1975; 1988) die waarde van outobiografiese verslae van ervaring as vorm van situasie-analises. Dit gaan hier primêr om die begryping van persoonlike betekenisse van deelnemers aan lewensituasies. Individuele begryping en belewing van 'n situasie is in 'n besondere mate kenmerkend van daardie situasie. (Kyk ook: Kincheloe 1991:92-83; 133-134; 154-157.)

5.3 Verbesondering

5.3.1 Betekenis

Verbesondering beteken om iets ('n stelling, 'n uitspraak, 'n aantal stellings en uitsprake, gebeure), tot iets besonders te maak wat as "die besondere" beskryf kan word.

5.3.2 Twee wyses

Dié beskrywing kan (deur die navorser) op twee wyses gedoen word:

(i) deur iets as die besondere (van 'n navorsingsprojek) te verklaar sodat induktiewe handelinge aan die gang kan kom. Hier word verwys na besondere verskynsels, gebeure, hipoteses en probleme.

(ii) deur deduktief uit 'n aantal uitsprake en stellings wat deur literatuurstudie en/of gesprekke verkry is, een konklusie af te lei wat die status van "die besondere" het.

Verbesondering is dan in werklikheid 'n deduktiewe handeling wat induksie moontlik maak sodat daar uitbreiding van kennis kan wees.

5.4 Die algemene

Die algemene is die algemeengeldende of die algemeengeldige of die universele wat van toepassing kan wees op die totale leefwêreld (hier: die totale opvoedingswerklikheid) of wat besondere betekenis het vir al die lede van 'n besondere groep byvoorbeeld alle opvoedkundiges of alle opvoedelinge: alle opvoedelinge is steunbehoewend en alle opvoeders is by magte tot steungewing.

Om by die algemene uit te kom word veralgemening vereis.

5.5 Veralgemening

5.5.1 Induksie is veralgemening

Induksie is 'n prosedure waardeur 'n mens aflei dat wat hy reken wat waar is van 'n besondere geval of gevalle, waar sal wees van alle gevalle wat met die besondere gevalle ooreenstem in sekere aanwysbare opsigte. Met ander woorde: induksie is die proses waardeur gekonkludeer kan word dat wat waar is van besondere gevalle of dit wat waar is op sekere tye, waar sal wees in soortgelyke omstandighede ten alle tye (JS Mill soos aangehaal deur Brezinka 1992:116).

5.5.2 Die probleem met induksie

Die probleem met induksie ontstaan wanneer daar op meer aanspraak gemaak word as wat daar deur waarneming vasgestel kan word. 'n Mens kan slegs 'n beperkte aantal individuele feite waarneem. Dit is moontlik om ooreenkomste en verskille ten aansien van 'n aantal feite (waarnemings) te bepaal en om verskynsels waar te neem onder variërende omstandighede met die hoop om reëlmatighede waar te neem wat in gespesifiseerde omstandighede altyd sal verskyn. Die probleem is: kan dit logies geregverdig word om konklusies wat verkry is uit enkelvoudige stellings (wat waargenome data beskryf) as universeel (algemeen geldend) te verklaar. Kan 'n afleiding wat gemaak word uit enkele gevalle veralgemeen word? Dit is logies onmoontlik om 'n nuwe onbekende toedrag van sake af te lei uit voorafgaande bekende gevalle.

5.5.3 Ekstrapolasie

Daar bestaan geen induktiewe prosedure waardeur universele stellings afgelei kan word uit enkelvoudige stellings nie. Streng gesproke kan universele hipoteses nie bewys word nie, afgesien van die aantal ondersteunende stellings wat gebaseer is op waarneming. Wat met induksie gebeur is eintlik ekstrapolasie dit wil sê die uitbreiding van 'n stelling se geldigheidsfeer buite die waargenome gevalle om 'n onbepaalde aantal gevalle te dek. Daar word aangeneem dat reëlmatighede wat in 'n paar gevalle waargeneem word, ook gevind sal word in alle ander gevalle. Daar word 'n wetmatigheid veronderstel wanneer daar gesê word dat dieselfde gebeure altyd sal plaasvind onder dieselfde omstandighede. Daarom: universele stellings wat afgelei word uit enkelvoudige stellings is nie noodwendig waar nie. Hulle is blote hipoteses wat verwerp moet word wanneer nuwe inligting dit weerspreek.

5.5.4 Kontradiktoriese verifikasie

Daar kan gestel word dat universele stellings waarskynlik waar is. 'n Besondere verifikasiemetode in hierdie verband, is die kontradiktoriese metode. Stel vir elke universele uitspraak sy kontradiksie. Indien 'n kontradiksie die moontlikheid besit om waar te wees, is die oorspronklike uitspraak heelwaarskynlik vals. Dit word gevalsifiseer (Popper). Om nie te wil bewys wat waar is nie, maar om te elimineer wat vals is, word die metode van valsifikasie (Popper) genoem (Brezinka 1992:116-119).

5.5.5 Onkritiese veralgemening

Daar moet gewaak word teen onkritiese induktiewe veralgemenings. Hoogs subjektiewe, onkritiese en oorhaastige veralgemenings ten aansien van versamelde gegewens kan nie veralgemeen word nie en is hoogstens waarskynlik. Soms word noodwendigheid of onbetwisbaarheid ingelees. Die navorser moet daarteen waak om nie veralgemeenbaarheid bloot af te lees uit sy gegewens nie (Allen 1978:195-198).

5.5.6 Die induktiewe sprong

Sodra daar in 'n ondersoek, hetsy kwalitatief of kwantitatief, van 'n aantal persone (gevalle) sprake is, ontstaan onmiddellik die vraag na hoe verteenwoordigend die "steekproef" is. Die mate wat 'n steekproef verteenwoordigend is, bepaal die mate waarin die bevindinge van 'n ondersoek veralgemeenbaar is. Veralgemeenbaarheid van bevindinge, of veralgemenings uit bevindinge word soms as 'n eis vir wetenskaplikheid gestel (Sprinthall, Schmutte & Sirois 1991:33). Kan daar werklik vanaf 'n aantal gevalle geredeneer word tot by 'n algemene reël? Byvoorbeeld, 'n reël wat begin met: "Alle mense sal ...." Wanneer daar slegs enkele waarnemings gedoen word is dit meteens duidelik dat daar nie sprake is van 'n statistiek-geregverdigde steekproef nie. Indien daar veralgemeen sou word vanaf ondervraagde persone (gevalle) wat nie 'n verteenwoordigende steekproef vorm nie, na 'n algemene reël (bv alle mense belewe angs) sal die navorser beskuldig kan word van induktiewe spronge dit wil sê spronge vanaf 'n paar na baie en selfs van oorveralgemening (Sprinthall e.a. 1991:8).

5.5.7 Hipotesevorming as doel

'n Besondere doel van nie-veralgemeenbare navorsingsbevindings kan wees om geldige toetsbare hipoteses op te stel wat vir grootskaalse empiriese ondersoek geoperasionaliseer en statistiek-verantwoordbaar geverifieer kan word. Dié stellings impliseer dat die opstel van hipoteses 'n aktiwiteit is wat wetenskaplike regverdiging verdien. Die opstel van hipoteses is vir die wetenskaplike (navorser) die moeite werd aangesien:

(i) dit 'n vorm van samevatting van die essensiële van voorafgaande bedinking en uitleg is,

(ii) dit 'n vorm van organisering en operasionalisering van 'n voorafgenoemde uitkoms van waarnemings, bedinking en uitleg is,

(iii) dit sodanig rigting gee aan verdere navorsing dat alternatiewe hipoteses sinvol verminder kan word en sodoende nie tyd verspil word met die toetsing van hipoteses wat nie kans het om geverifieer te word,

(iv) dit gee leiding (rigting) ten aansien van verdere waarnemings wat gemaak moet word wat andersins moontlik nie raakgesien sou word nie,

(v) dit besondere verklarings is.

5.5.8 Kincheloe se bydrae

Kincheloe (1991:120,135-141) maak 'n besondere bydrae tot die oplossing van veralgemeningproblematiek. Die volgende is 'n kort weergawe van sy idees.

5.5.8.1 Kriteria vir veralgemening

Met veralgemening, wat 'n denkbeweging is vanaf die besondere na die algemene, is die volgende kriteria betekenisvol.

(1) Die geloofwaardigheid (kredibiliteit) van die beskrywing van die besondere. Dit behels die volgende:

(i) uitskakeling van die simplistiese oorsaak-gevolg denkskema,

(ii) erkenning en implementering van die multi-perspektiwiese benadering,

(iii) motivering van uitsprake (stellings) in terme van die aanneemlikheid daarvan alhoewel algemene aanvaarbaarheid nie maklik bereik sal kan word nie. Ongelukkig bestaan daar nie iets soos 'n betroubaarheidskwosiënt nie.

5.5.8.2 Verwagte akkommodasie (Anticipating accommodation)

Dit is om die insig wat verkry is in een konteks toe te pas in 'n ander konteks.

Dit behels die volgende:

(i) doelbewuste uitskakeling van die simplistiese een-dimensionele oorsaak-gevolg veralgemenings.

(ii) die oordrag van navorsingsbevindige van een konteks na 'n ander empiries soortgelyke konteks(te). Dit vereis 'n akkommodering van insigte (uit konteks A) wat relevant is vir konteks B. Die vraag is: welke insigte wat verwerf is deur navorsing in konteks A is relevant vir konteks B, dit wil sê kan in konteks B geakkommodeer (aangepas) word, dit wil sê is betekenisvol vir konteks B. (Voorbeeld: Kliniese ondersoek van 'n gestremde kind (konteks A) veralgemeen (akkommodeer) van bevindinge na 'n klaskamersituasie (konteks B).

(iii) kennis van 'n verskeidenheid vergelykbare kontekste (bv multi-kulturele klaskamers) wat lei tot die begryping van ooreenkomste en verskille. Die navorser leer deur die vergelyking van verskillende kontekste en daar bestaan 'n verwagting dat insigte wat verwerf is deur navorsing in konteks A aangepas sal kan word vir die begryping van konteks B.

(iv) skep nabyheid met die saak wat nagevors word wat impliseer subjektiewe inlewing (nie subjektivisme nie!) en selfs INTUÏSIE (kyk par 6) wat lei tot intieme kennis. Intuïsie is onder andere die vermoë om verbande raak te sien.

(v) laat die klem val op individue (mense) en nie op gemiddeldes nie. 'n Vraag is: wat sê statisties beduidende inligting wat verkry is uit steekproewe, vir besondere individue in besondere situasies? Is dit relevant vir die begryping van besondere individue? Kan dit die individu se uniekheid akkommodeer? Die toets van statistiese beduidendheid moet nie die toets van beleefde ervaring (van die besondere) en van veralgemening in die vorm van akkommodering verdring nie.

(vi) hou die volgende in gedagte: daar bestaan nie slegs een bevoorregte perspektief op die werklikheid nie.

6. INTUÏSIE, DEDUKSIE, INDUKSIE

Die begrip "intuïsie" is afgelei van die Latynse intueri wat beteken om "binne-in te sien, om te oorweeg of te bepeins, om af te kyk op." Dit dui op die handeling of vermoë om direk te ken sonder dat rasionele handelinge 'n rol speel. Dit is 'n informele benadering in teenstelling met 'n analitiese of rasionele benadering. Dit word gekenmerk deur spontaneïteit en onmiddellikheid.

Hierdie definisie definieer intuïsie in terme van wat dit nie is nie, naamlik rasionaliteit wat dui op rede, logika en analise. Dit is ook nie blote waarneming nie. In baie gevalle is die splitsing rasionaliteit/intuïsie geldig. Rasionaliteit strek oor 'n tydperk en verloop gewoonlik stapsgewys. Dit is liniêr. Dit vereis inspanning en 'n doelbewuste intensie. In teenstelling word intuïsie ervaar as 'n enkelvoudige (nie-stapsgewyse) gebeure. Dit gebeur net, soms wanneer dit die minste verwag word, sonder die toepassing van spesifieke reëls. Wanneer 'n konklusie gemaak word op grond van rasionale denke is dit maklik om te bepaal welke denkweg afgelê is. Intuïsie is onverklaarbaar.

Maar: rasionaliteit en intuïsie is nie teenstellend nie, maar komplementêr. Rasionaliteit kan intuïsie voorafgaan en daarop volg. 'n Mens beredeneer, analiseer, versamel inligting en dan is daar 'n intuïtiewe deurbraak. Dan volg verdere beredenering met die oog op verifikasie, uitbreiding en toepassing. Soms kan intuïsie rasionele denke voed en stimuleer en die uitkomste daarvan evalueer. Intuïsie is 'n deel van rasionele denke.

Daar kan ook sprake wees van intuïtiewe verbindings tussen rasionele stappe. 'n Mens mag begin deur iets te analiseer, dan volg 'n spontane ingewing wat lei tot 'n wysiging in die weg wat beplan is gevolg deur verdere beredenering en dan verskyn 'n nuwe hipotese skielik wat lei tot die soeke na nuwe gegewens (data) of 'n nuwe wyse van analise verskyn.

Intuïsie kan selfs deel wees van (deel neem aan) formele rasionele denke. DEDUKTIEWE logika is 'n stel reëls wat 'n mens in staat stel om te beweeg van 'n algemene stelling(s) na 'n spesifieke toepassing. Daar word beweeg vanaf self-evidente premisse. Intuïsie voorsien die aanvaarding dat iets self-evident is. Dit kan gebeur dat 'n algemene stelling 'n ingewing is, dit wil sê dit het intuïtief ontstaan. Byvoorbeeld die opvoedkundige het 'n ingewing (voorgevoel) dat daar 'n betekenisvolle verband is tussen twee opvoedingsessensies en gebruik dan die ingewing deduktief om by die('n) besondere band uit te kom.

Wanneer die navorser probeer om logies te wees in ingewikkelde situasies, wanneer by gedwing word om te werk met onvolledige inligting of dubbelsinnige premisse, is hy afhanklik van intuïsie om te bepaal of hy op die regte pad is. Intuïsie kan die navorser in die regte rigting laat beweeg na betekenisvolle inligting en na 'n beginpunt vir beredenering.

Intuïsie kan help met die evaluering van konklusies wat logies afgelei is. In onbekende of weens komplekse situasies kan intuïsie help met die erkenning van vals (ongeldige) premisse. Dikwels lei 'n gevoel van "dit laat my tevrede (gemaklik) voel" en "dit is reg" tot die aanvaarding van 'n premis. Dit dui op die werking van intuïsie.

INDUKSIE is die beredenering vanaf besondere gevalle (voorbeelde) na algemene beginsels. Intuïtiewe insigte kan induksie laat vlam vat, die soektog na relevante inligting en verbande lei en help om die induktiewe afleidings te evalueer. Daar bestaan geen formele reëls vir die stel van induktiewe stellings nie of vir die bepaling van hulle geldigheid nie. Hulle is altyd waarskynlik, aangesien induksie die kom tot 'n gevolgtrekking (konklusie uit 'n bepaalde aantal waarnemings), behels.

Intuïsie kan doen wat beredenering (rasionaliteit) nie kan doen nie. Logika vereis onbetwyfelbare inligting, en elke stap moet korrek afgehandel wees voordat daar tot 'n volgende stap oorgegaan kan word. In komplekse situasies is dié inligting nie altyd beskikbaar nie. Ook kan kreatiewe ontdekkings en innovasies nie verkry word deur die nou liniêre weg van logika te volg nie. Daar moet ongewone en verbeeldingryke verbande raakgesien word wat nie opvallend is nie. Dit is intuïsie wat 'n sprong maak oor die afgronde van ontbrekende inligting en wat ongewone, selfs onlogiese verbande in die lig bring.

Dit beteken nie dat intuïsie antwoorde uit niks uit aflei nie. Dit werk met die rou materiaal van inligting, maar dit kan werk met inligting wat nie bewus teenwoordig is nie, wat in die verlede opgegaar is. Rasionele bedinking moet werk met inligting waarvan die navorser bewus is.

Intuïsie is dikwels 'n vae aanvoeling wat 'n vermoede voorsien. Dié feit maak intuïsie nie minder waardevol nie, slegs moeiliker om te evalueer. Intuïsie kan ook slegs gedeeltelik korrek wees en mag interpretasie vereis.

Intuïsie werk die beste by hoogs gemotiveerde persone, wat met vertroue skerp betrokke is by die te ondersoeke werklikheid. Dit is so omdat daar aanhoudend vrae is oor dit wat werklik (vir die navorser) van belang is. Om waarde te heg aan intuïsie versterk hierdie motivering en ook die kwaliteit van die intuïsie. Die navorser moet daarop ingestel wees om sy intuïsies te evalueer met die hulp van analitiese en kwantitatiewe toetse. Wanneer dit gaan om evaluering en verifikasie kan rasioneel-empiriese metodes besonder doeltreffend wees. Dit help ook om die nodige objektiwiteit te verkry.

Die navorser moet homself ook dwing om sy intuïsies logies te verdedig. Kyk of daar beskikbare inligting is wat die intuïsie ondersteun. Tree in gesprek met deskundiges (Goldberg, P 1983:31-39,90,202).

7. DEDUKTIEWE EN INDUKTIEWE NAVORSING: TRIANGULASIE (Denzin 1989:13-26,234-241)

7.1 Inleidend

Begrippe en navorsingsmetodes saam (gesamentlik) open 'n gebied(e) vir WAARNEMING. Saam verskerp hulle die empiriese gevoeligheid van wetenskaplike waarneming. Uit hierdie stelling (hipotese) vloei die volgende voort:

(i) indien elke geïmplementeerde metode (resp prosedure, tegniek) lei tot kennis van verskillende wesenstrekke van 'n besondere werklikheid (bv die opvoedingswerklikheid) kan geen metode op sy eie 'n volledige beeld verkry van al die relevante wesenstrekke van 'n besondere werklikheid nie, en

(ii) derhalwe moet 'n aantal navorsingsmetodes aangewend word vir die analise van dieselfde empiriese gebeure. Dié handeling staan bekend as die TRIANGULASIE van metodes en poneer dat enkel-metode navorsing nie aanvaarbaar is nie. Die kombinasie van 'n aantal metodes in 'n enkele navorsingsprojek sal lei tot toereikender kennis.

'n Probleem ('n tot probleem-geworde aspek van die werklikheid), moet vanuit 'n aantal metodologiese perspektiewe ondersoek word. So word inherente swakhede in elke enkele metode voorkom. Triangulasie (as die kombinasie van metodes) as die handeling van die maak van 'n driehoek (triangle) kan teruggevoer word na die Grieks: die lokalisering van 'n onbekende punt (soos in navigasie) deur die vorming van 'n driehoek wat die onbekende punt en twee bekende punte in berekening bring. So ontstaan 'n triangulated perspective. Triangulasie in landmeetkunde is om met behulp van 'n stelsel van driehoeke te meet. Trianguleer is om triangulasie toe te pas. 'n Getrianguleerde perspektief (in sosiale navorsing) is 'n perspektief wat saamgestel is uit 'n aantal sinvol saamgevoegde benaderingswyses (metodes, prosedures, tegnieke).

Elke metode is 'n verskillende wyse waarop daar met die werklikheid gehandel word en daarom sal elke metode verskillende aspekte (betekenissse) van die werklikheid openbaar - verskillende waarnemings kom tot openbaring.

Triangulasie (as die aanwending van 'n aantal metodes) is 'n plan van aksie wat die navorser verhef bokant die vlak van persoonlike vooroordele wat vervat is in baie enkel-metode benaderings.

7.2 Soorte triangulasie

In die voorgaande paragraaf is triangulasie bespreek as 'n samevoeging van metodes. Daar is egter ook ander relevante samevoegings soos byvoorbeeld die samevoeging van data en van navorsers.

7.2.1 Data-triangulasie

Die navorser soek eksplisiet na soveel as moontlik data-bronne wat betrekking het op sy ondersoekveld (tema van ondersoek). Databronne moet onderskei word van metodes om data te genereer. Laasgenoemde verwys na navorsingsmetodes per se en nie na bronne van data as sodanig nie. Die navorsingsmetodes wat gekies word, word toegepas op soveel databronne as wat nodig is (bv verskillende groepe). Dit gaan om verskillende data-bronne waarin dieselfde gebeure voorkom. (Byvoorbeeld die opvoedingsgebeure in 'n gesin, laerskool, hoërskool, ens.) 'n Mens het hier te make met verskillende (nie eenders nie) vergelykbare groepe wat saam 'n steekproef vorm, maar wat ook die moontlikheid vir triangulasie bied (gesinsdata + laerskooldata + hoërskooldata). Deur die seleksie van nie-eenderse databronne word dit moontlik vir die navorser om te bepaal wat gemeenskaplik is daaraan. (Wat is gemeenskaplik ten aansien van gesin, laerskool en hoërskool?) Die gemeenskaplikheid kan uitgedruk word in terme van begrippe wat die basiese begrippe kan wees wat in die formulering van die navorsingstema verskyn. (Bv begeleiding van die leerder in die gesin, laerskool en hoërskool). Op dié wyse word die unieke eienskappe (dit wil sê essensies) van so 'n begrip in verskillende situasies openbaar (bv die essensies van begeleiding wat verskyn in die gesin en die laerskool en die hoërskool).

Aangesien begeleiding in al drie genoemde situasies gesinsituasie, laerskoolsituasie, hoërskoolsituasie om persone gaan, moet die navorser persoonsanalise doen.

Daar bestaan 3 vlakke van persoonsanalise:

(i) Saamgestelde analise:

Individue word geselekteer en nie groepeer nie en daar word geen aandag gegee aan die verhouding tussen die geselekteerde individue nie. 'n Beeld (verslag) word saamgestel uit bydraes deur individue uit die 3 genoemde groepe (toevallige seleksie). Die individuele onderhoudmetode en/of outobiografiese teks word aangewend.

(ii) Interaktiewe analise

Persone in wisselwerking met mekaar, word waargeneem. Kleinskaalse empiriese ondersoeke word onderneem (Landman, Bondesio, Coetzee, Jacobs 1987:Hoofstuk 5).

(iii) Kollektiwiteit:

Daar word ondersoek ingestel na strukture: die gesinstruktuur, die laerskoolstruktuur en die hoërskoolstruktuur. Persone en hulle interaksies word bestudeer in terme van druk en eise uit 'n totale kollektiwiteit (bv gesin, laerskool, hoërskool) ten einde te bepaal wat die effek van dié druk en eise is (op begeleiding byvoorbeeld - watter essensies van begeleiding tree die skerpste na vore?)

(iv) Geheelbeeld

Die navorser stel 'n geheelbeeld saam uit (i) + (ii) + (iii). Op die wyse word selde 'n enkele samehangende, vaste beeld verkry van die situasie(s) wat bestudeer is.

Dit is so omdat die werklikheid altyd teenstrydighede bevat en sosiaal (mens kan nie in skemas vasgevat word nie) gekonstrueer is. Data-triangulasie is dus altyd onbepaald en oop.

7.2.2 Navorser-triangulasie

Meer as een navorser werk aan dieselfde projek (vgl spannavorsing). Navorser-triangulasie lei tot die verwydering van vooroordele en verseker meer betroubaarheid van waarneming. Verskillende waarnemers sal nie ooreenstem oor dit wat hulle waarneem nie. (Interpretasiegesprekke is dus noodwendig.)

7.2.3 Teorie-triangulasie

Dit sal waardevol wees wanneer ingesamelde data geëvalueer word vanuit verskillende perspektiewe en interpretasies.

Dieselfde data word blootgestel aan verskillende teoretiese benaderings. (In die opvoedkunde sal dit sinvol wees om dieselfde data bloot te stel aan evaluering deur verskillende opvoedkundige dissiplines - interdepartementele navorsing is nodig.)

STAPPE VAN TEORETIESE TRIANGULASIE

1. 'n Omvattende lys van alle moontlike interpretasies word opgestel. (Byvoorbeeld: Fenomenologie, post-modernisme, krities-analities, Dooyeweerdianisme ens.

2. Die werklike navorsing word uitgevoer en data (kennis) versamel.

3. Die verskillende teorieë word gefokus op die ingesamelde data.

4. Daardie interpretasies wat nie 'n direkte verband het met die ingesamelde data nie, word verwyder (geïgnoreer).

5. Daardie interpretasies wat betekenis gee aan die data, word versamel.

6. 'n Geheelbeeld van die interpretasies word gegee.

8. DIE INTERPRETASIEGESPREK

Die uitkomste van deduktiewe en induktiewe bedinking, beredenering, navorsing, moet geëvalueer word. Sinvolle evaluering vereis interpretasiegesprekke.

Kommunikasie is die aktivering van gedeelde begryping (Gadamer). Dit is die intersubjektiewe deling van betekenisse. Interpretasie beklemtoon begryping deur kommunikasie (Desilet 1991; Schubert 1988). 'n Groep persone in gesprek (met mekaar of met 'n teks) is daartoe in staat om ryker betekenisse te ontdek as wat 'n individu alleen sou kon doen. In die gesprek word betekenisse vrygestel en dit is wat met interpretasie bedoel word (McBrien 1990). In die interpreterende dialoog gaan dit om 'n wisselwerking van interpretasies met die besef dat finale interpretasies nie moontlik is nie en aangesien die subjektiwiteit van die interpreteerder sentraal staan, kan daar nie sprake wees van net een korrekte interpretasie nie. Die groep (interpretasie-gesprek) moet dus alternatiewe interpretasies teen mekaar opweeg. Daar moet 'n wisselwerking van betekenis-gebonde interpretasies wees (Smith & Blase 1991; Anderson 1990). Navorsers moet ook die moontlikheid ondersoek wat triangulasie bied: geen enkele metode kan volledig al die relevante kenmerke van die werklikheid (resp. opvoedingswerklikheid) bemeester nie en die navorser moet dus verskillende metodes aanwend. Dit beteken dat hy kennis moet dra van die strategieë vir veelvoudige triangulasie (kombinasie van metodes) (Denzin 1989:Hoofstuk 10) en van die betekenis van eklektiese denke (Landman 1993).

VERWYSINGS

Abbagnano, N 1960. Wissenschaft und Freiheit. In: Wisser, R (Ed) Sinn und Sein. Tübingen. Niemeyer.

Allen, D 1978. Structure and creativity in religion. New York: Mouton.

Anderson, T 1990. A psychodynamic approach to the teaching of writing: the hermeneutic dialogue. Teaching of Psychology 17(4).

Brezinka, W 1992. Philosophy of Educational Knowledge. Dordrecht: Kluwer.

Brim, JA & Spain, DH 1974. Research design in anthropology. Paradigms and pragmatics in the testing of hypotheses. New York: Holt, Rinehart & Winston.

Brugger, W (red) 1967. Philosophisches Wörterbuch. Freiburg: Herder.

Cohen, L & Manion, L 1989. Research methods in Education. London: Routledge.

Creemer, BPM & Hoeben, W TH TG 1984. Onderzoek tussen onderwijsontwikkeling en wetenschapsontwikkeling. S-Gravenhage: Stichting voor onderzoek van het onderwijs.

Denzin, NK 1989. Third Edition. The Research Act. A theoretical introduction to sociological methods. New Jersey: Prentice-Hall.

Derbolav, J 1959. Frage und Anspruch: pädagogische Studien und Analysen. Henn.

Desilet, G 1991. Heidegger and Derrida: the conflict between hermeneutics and deconstruction in the context of rhetorical and communication theory. Quarterly Journal of Speech 77(2)

Diemer, A & Frenzel, I 1961. Philosophie. Frankfurt am Main Fischer.

Goldberg, P 1983. The intuitive edge. Understanding and developing intuition. Los Angeles: Tarchen.

Gouws, LA (red) 1979. Psigologie-woordeboek. Johannesburg: McGraw-Hill.

Hernadek, A 1979A. Reasoning by Analogy. Pacific Grove: Midwest Publications.

Hernadek, A 1979B. Inference. Pacific Grove: Midwest Publications.

Henry, GT 1990. Practical Sampling. London: Sage.

Ingram, D 1990. Critical Theory and Philosophy. New York: Paragon House.

Kaminsky A & Kaminsky, J 1974. Logic: a philosophical introduction. Massachusetts: Addison-Wesley.

Kazin, AE 1982. Single-case research designs. Oxford: University Press.

Kincheloe, JL 1991. Teachers as researchers: qualitative inquiry as a path to empowerment. London: Falmer.

Landman, WA (red) 1978. Die navorsingsprogram vir geesteswetenskaplike navorsing. Johannesburg: Perskor.

Landman, WA 1989. Strukturering van die eie ervaring vir navorsingsdoeleindes. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Opvoedkunde 4(2).

Landman, WA 1993. Eklektiese denke en eklektisisme: hedendaagse uitdagings. Ongepubliseerde referaat. Instituut vir Opvoedkundige Navorsing, Universiteit van Suid-Afrika.

Landman, WA & Jansen, CP 1993. Argumentasie en valse redenering in 'n navorsingsverslag. Instituut vir Opvoedkundige Navorsing: Universiteit van Suid-Afrika.

Lemmer, EM 1992. Qualitative research methods in Education. South African Journal of Education 12(3).

McBrien, PJ 1990. Conversation: a discipline for studying and teaching Sunday lectionary. Religious Education 85(3).

Muggleton, S 1990. Inductive acquisition of expert knowledge. Workingham, England: Addison-Wesley.

Patton, MO 1980. Qualitative evaluation methods. London: Sage.

Pinar, W 1988. Contemporary Curriculum Discourse. Scottsdale: Gorsuch Scavisbrick.

Pinar, W 1975. Curriculum Theorizing: The Reconceptualists. Berkeley: McCutchan.

Robson, S & Foster, A 1989. Qualitative research in action. London: Arnold.

Runes, D (ed) 1968. Dictionary of Philosophy. Littlefield: Adams.

Sherman, RR & Webb, RB (eds) 1988. Qualitative research in education: focus and methods. Basingstoke: Falmer.

Schubert, WH 1988. Reconceptualizing and the matter of paradigms. Journal of Teacher Education 40(1).

Scriven, M 1976. Reasoning. New York: McGraw-Hill.

Smith, JK & Blase, J 1991. From empiricism to hermeneutics: educational leadership as a practical and moral activity. Journal of Educational Administration 29(1).

Snyman, JJ & du Plessis, PGW 1987. Wetenskapsbeelde in die geesteswetenskappe. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

Sprinthall, RC, Schmutte, GT & Sinois, L 1991. Understanding educational research. London: Prentice-Hall.

Stephens, WN 1968. Hypotheses and Evidence. New York: Crowell.

Swanepoel, CH 1986. Die aard en meting van standerd 7-leerlinge se belangstelling in die natuurwetenskaplike studierigting. Ongepubliseerde DEd-proefskrif: Universiteit van Suid-Afrika.

Tuckman, BW 1972. Conducting Educational Research. Second Edition. New York: Jovanovich.

Van Maanen, J, Dobbs, JM & Faulkner, RR 1982. Varieties of qualitative research. London: Sage.

Van Rensburg, CJJ & Landman, WA 1990. Sesde hersiene druk. Fundamenteel-pedagogiese begripsverklaringe. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Van Veuren, P 1991. Argumente, Kriteria, Kritiek. Pretoria: RGN-studies in Metodologie.

Walton, DN 1989. Informal Logic: A handbook for critical argumentation. Cambridge: Cambridge University Press.

Warren, HC 1934. Dictionary of Psychology. Cambridge: Riverside.


--- oOo ---