Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing


'N FILOSOFIE VAN DIE
OPVOEDING WAT FUNDAMENTEEL WIL WEES

INHOUDSOPGAWE

  1. INLEIDEND: FILOSOFIE = FUNDAMENTEEL

  2. BREZINKA, W. 1992. KLASSE VAN OPVOEDINGSTEORIEË

    2.1 Wetenskap van opvoeding

    2.2 Filosofie van die opvoeding

    2.3 Praktiese pedagogiek (Praksiologie van die opvoeding)

    2.4 Kommentaar

  3. ORNSTEIN, A.C. & LEVINE, D.U. 1989. FILOSOFIESE DIMENSIES

    3.1 Die dimensies

    3.2 Nadere beskrywing, met kommentaar

  4. OZMON, H. EN CRAVER, S. 1990. DENKVERMOË

    4.1 Denke

    4.2 Begripsverheldering

    4.3 Eietyds

    4.4 Gesprek

    4.5 Verwagting

  5. PRATTE, R. 1992: METODOLOGIE EN NORMATIWITEIT

    5.1 Uitleg

    5.2 Kommentaar

  6. MUSOLFF, H-U: FILOSOFIE VAN DIE OPVOEDING OOR DIE PEDAGOGIEK

    6.1 Uitleg

    6.2 Kommentaar

  7. AANBEVELINGS

  8. VERWYSINGS


oo000oo


'N FILOSOFIE VAN DIE OPVOEDING
WAT FUNDAMENTEEL WIL WEES

  1. INLEIDEND: FILOSOFIE = FUNDAMENTEEL

    Aangesien die begrip filosofie dui op 'n kritiese analise van dit wat fundamenteel (begrondend) is, sal 'n outentieke filosofie van die opvoeding fundamenteel dit wil sê begrondend moet wees.

    In die lig van hierdie stelling sal daar in hierdie stuk soos volg te werk gegaan word: 'n aantal resente beskrywings van filosofie van die opvoeding sal van naderby bekyk word, spesifiek met die doel om vas te stel of daaruit afleidings gemaak kan word aangaande die fundamentele aard van daardie perspektief van die opvoedkunde wat as filosofie beskryf kan word.

    Daar sal nie aandag gegee word aan 'n evaluering van die verskillende bestaande opvoedingsfilosofieë nie, maar daar sal krities-analities gekyk word na opvoedingsfilosofie-as-sodanig soos blyk uit verskillende beskrywings en interpretasies daarvan.

  2. BREZINKA (1992:1-65,167-207,208-231): KLASSE VAN OPVOEDINGSTEORIEË

    Brezinka onderskei tussen die volgende klasse van opvoedingsteorieë (teoretiese perspektiewe op opvoeding).

    2.1 Wetenskap van opvoeding (Opvoedingswetenskap): die beskrywing en uitleg van opvoeding as sodanig (education as fact). Dus van opvoedingshandelinge in opvoedingsituasies (die opvoedingswerklikheid)

    d.w.s. - opvoedingsdoelstellings (ideale)

    - subjekte van opvoeding (opvoeders)

    - objekte van opvoeding (opvoedelinge)

    - opvoedingshandelinge - soos ingebed in die omringende sosiokulturele omgewing waar dit veral gaan om verskynsels wat verband het met opvoeding.

    Op beskrywing volg uitleg (interpretasie, verklaring), bv. in terme van die omstandighede wat die verwerkliking van opvoedingsdoelstellings raak en verskillende interpretasies van opvoedingsdoelstellings in die samelewing.

    2.2 Filosofie van die opvoeding

    Volgens Brezinka (beoefenaar van analitiese filosofie) is dit nodig om wetenskaplike en nie-wetenskaplike uitsprake (oor opvoeding) van mekaar te skei. Laasgenoemde is uitvloeisels van 'n wêreld-en-lewensopvatting in die lig waarvan teoretiese en praktiese probleme hanteer kan word op 'n wyse waartoe die wetenskappe nie in staat is nie (p.71). 'n Wêreld- en lewensopvatting filosofie van die opvoeding verskil nie van die wêreldbeskouing-filosofie waarop dit gebaseer is nie, maar interpreteer dit in terme van opvoedingsverskynsels, eise wat gestel word aan opvoedelinge, opvoeders en politici (p.179). Op dié wyse word opvoeders voorsien van kennis (insigte) wat hulle nodig het ten einde nie hulpeloos te wees in konkrete opvoedingsituasies nie (p.192). Dit gaan om waardeoordele en normatiewe bepalinge wat gegrond is in 'n wêreld- en lewensopvatting en wat die aanhangers daarvan as bindend vir hulle beskou (p.193).

    2.3 Praktiese pedagogiek (Praksiologie van die opvoeding)

    Opvoedingswetenskap het ontwikkel uit praktiese teorieë oor opvoeding, maar het die teorieë nie oorbodig gemaak nie omdat dit onontbeerlik is. Die verwagting bestaan egter dat die teorieë verbeter kan word deur die toepassing van wetenskaplike insigte (p.208).

    Brezinka definieer soos volg: 'n teorie van praktiese pedagogiek is 'n mengsel van normatief-deskriptiewe uitsprake wat opvoedingstake en opvoedingsmiddele aan die lig bring vir partikuliere sosio-kulturele groepe opvoeders, wat hulle sal inspireer tot opvoedingshandelinge in ooreenstemming met 'n wêreld- en lewensopvatting. 'n Normatiewe filosofie van die opvoeding regverdig sekere waardes en norme vir toepassing in 'n partikuliere praktyk (p.215).

    Praktiese pedagogiek bevat die volgende elemente:

    1. 'n situasie-analitiese element

      Opvoeders moet georiënteer word ten aansien van die sosio-kulturele situasies waarin hulle moet handel (p.225).

    2. 'n teleologiese element

      Verheldering van opvoedingsdoelstellings (p.225-226).

    3. 'n metodologiese element

      Instruksies en reëls vir opvoedingshandelinge en vir die strukturering van opvoedingsinstellings moet baseer wees op die tegnologiese kennis wat ontwikkel is deur die opvoedingswetenskap (pp.227-228).

    4. die professioneel-etiese georiënteerde motiverende elemente

    Die professionele etos van die opvoeders (p.229).

    2.4 Kommentaar

    Daar kan verskil word van Brezinka oor sy indeling vir opvoedings-wetenskap, filosofie van die opvoeding en praktiese pedagogiek.

    Uit sy uitleg kan daar die volgende afgelei word oor dit wat as fundamenteel beskryf kan word.

    1. Begryping van die opvoedingswerklikheid.

    2. Interpretasie van die opvoedingswerklikheid.

    3. Begryping van lewensopvatlikheid as universele verskynsel.

    4. Interpretasie van lewensopvatlikheid vir partikuliere sosio-kulturele groepe.

    5. Begryping van onderwyspraktyk.

    6. Interpretasie van onderwyspraktyk in terme van wetenskaplike insigte en normatiewe opvattings.

  3. ORNSTEIN EN LEVINE (1989:HOOFSTUK 6): FILOSOFIESE DIMENSIES

    3.1 Die dimensies

    Die wyse waarop die opvoeder (onderwyser) onderwyshandelinge en onderwysprobleme hanteer, openbaar sy opvoedingsfilosofie. Die beleid en prosedures van 'n skool reflekteer 'n onderliggende filosofie (p.200).

    'n Filosofie van die opvoeding wend die volgende basiese begrippe aan:

    (i) Metafisika: handel oor die aard van werklikheid.

    (ii) Epistemologie: handel oor die aard van kennis en ken(ning).

    (iii) Aksiologie: handel oor die aard van waardes.

    (iv) Logika: handel oor die aard van redenering (p.201).

    In die lig hiervan kan daar gesê word dat Filosofie van die opvoeding die filosofiese dimensie van opvoedkunde is wat handel oor:

    * opvoedingswerklikheid

    * opvoedkundige kennis (en opvoedingskennis)

    * opvoedingswaardes

    * opvoedkundige beredenering.

    3.2 Nadere beskrywing

    1. Metafisika vra na die aard van die werklikheid wat gereflekteer moet word in skoolvakke, ervarings en vaardighede in die kurrikulum (p.201).

      Kommentaar:

      Die fundamentele metafisiese vraag vir die opvoedkundige is: wat is die essensies van die opvoedingswerklikheid wat behoort verwerklik te word in die onderrig van skoolvakke, die deelname aan skoolervarings en die oefening van vaardighede?

    2. Epistemologie handel met die aard van kennis en ken(ning) en is nou verbind aan metodes (p.201).

      Kommentaar:

      Wanneer van fundamenteel gepraat word, is die metodes fenomenologies, hermeneuties, dialekties en kontradiktories, aangevul met metodes wat daarmee verenigbaar is. Met metodes word bedoel metodes van onderrig, leer en die van wetenskaps-beoefening.

    3. Aksiologie beskryf die waardevolle. Etiek ondersoek sedelike waardes en die voorwaardes vir goedkeurenswaardige gedraginge, terwyl estetiek handel met waardes ten aansien van skoonheid (p.201).

      Kommentaar:

      Fundamenteel beteken dat opvoedingsessensies as besondere waardes en die verwerkliking daarvan as besondere behoorlikheidseis gesien word.

    4. Logika gaan oor die vereistes vir korrekte en geldige denke, die korrekte en geldige formulering van uitsprake en argumente (p.202).

      Kommentaar:

    Fundamenteel beteken om in die eerste instansie fenomenologies te werk te gaan veral met die uitskakeling van valse redenering.

  4. OZMON EN CRAVER (1990:354-366): DENKVERMOË

    4.1 Denke

    Die belangrikste funksie van filosofie van die opvoeding is nie om 'n denkskool of sisteem tot stand te bring nie, maar om opvoeders se denkvermoë te ontwikkel (p.257).

    Kommentaar:

    Dit kan gedoen word deur die volgende fundamentele handelinge:

    (i) kritiese probleemgerigte denke te beklemtoon

    (ii) denkmiddele te beskryf en te operasionaliseer

    (iii) voorwaardes vir wetenskaplike denke te beskryf en

    (iv) bedreiginge vir outentieke denke te ontmasker en te neutraliseer (en selfs te vernietig).

    4.2 Begripsverheldering

    Filosofie van die opvoeding moet sorg vir begripshelderheid, veral ten aansien van basiese begrippe wat opvoeding beskryf (p.359).

    Kommentaar:

    Dit beteken dat die volgende as fundamenteel raakgesien en hanteer word:

    1. Identifikasie van kategorieë vir die opvoedkundige denke.

    2. Omduiding van kategorieë tot kriteria.

    3. Kategorie-beskrywing en aanduiding van die betekenis daarvan vir die stigting van opvoedingspraktyk.

    4.3 Eietyds

    Filosofie vir die opvoeding moet hom bemoei met the pressing issues of the contemporary scene (p.359).

    Kommentaar:

    Dit raak die volgende fundamentele aangeleenthede:

    * die aanwending van tot kriteria omgeduide pedagogiese kategorieë vir die beoordeling van die huidige sosiale, ekonomiese en politieke toneel en die implikasies daarvan vir die realisering van outentieke opvoeding (verkieslik in noue samewerking met sosio-opvoedkunde, sosiopedagogiek (sociology of education).

    * bepaling van hoe sosiale, ekonomiese en politieke omstandighede essensie-verwerkliking raak (insluitend opvoedingsdoelstellings).

    Dit vereis 'n begryping van opvoeding in 'n kontekstuele sin (p.362), meer in besonder in die konteks van die hedendaagse samelewing, ekonomie en politiek as besondere vorme van actual contexts of activities and events (p.362).

    4.4 Gesprek

    Filosofie van die opvoeding is 'n lewensbelangrike gesprek waaraan 'n verskeidenheid gespreksgenote deelneem en wat veral gaan om die volgende fundamentele aangeleenthede:

    1. die herondersoek van ou argumente

    2. die inisiëring van nuwe rigtings

    3. die raaksien van verskillende filosofiese uitgangspunte as stemme in die gesprek wat lig wil werp op

    * die verskillende bestaande standpunte

    * inkonsekwenthede

    * onoorbrugbare verskille

    * nuwe sake en nuwe relevansies.

    Kommentaar: (p.365)

    Filosofie van die opvoeding sal, ten einde fundamenteel te wees, aandag moet gee aan

    * opvoedingsfilosofieë in Suid-Afrika (Landman, 1992)

    * outentieke argumentering wat vry is van valse redenering (Landman & Jansen, 1992)

    * eklektiese denke (Landman, 1993)

    4.5 Verwagting

    Opvoeders het die reg om die volgende te verwag van 'n filosofie van die opvoeding:

    1. aandag aan opvoedingsprobleme (algemene en skoolse)

    2. verheldering van opvoedkundige begrippe en denkrigtings

    3. 'n kritiese analise van onderwysbeleid

    4. die bepleiting van die rasionele gesprek en sin van navorsing

    5. aandag aan samehangende betroubare argumentering ten aansien van die opvoedkundige werklikheid

    6. aanmoediging om uitdagings te aanvaar en skerp bevraging (positiewe skeptisisme) te beoefen, dit wil sê om 'n weetgierige rusteloosheid te wek wat 'n steeds voortgaande soeke na toereikender (beter) denkwyses oor opvoeding sal dra (pp.365-366).

    Kommentaar:

    Ten einde fundamenteel te wees, sal 'n Filosofie van die opvoeding moet konsentreer op

    1. die skoolse verwerkliking van fundamentele opvoedingsessensies (Landman (Red.):1981)

    2. die bydrae wat Filosofie van die opvoeding kan maak tot die begryping van lesgee en leer (Landman 1979,1982)

    3. Begripsverklaring (Van Rensburg & Landman:1990)

    4. Denkrigtingverheldering (Jansen:1993)

    5. Perspektiewe op onderwysbeleid (Hesse & Badenhorst:1992)

    6. die opvoedkundige gesprek tussen die Suid-Afrikaanse rolspelers (Landman:1992)

    7. Navorsing waarby die fundamentele opvoedingstrukture en opvoedingsessensies kategoriaal en kriteriaal betrek word

    8. Valsheidvrye en essensie-openbarende argumentering oor die opvoedingswerklikheid (Landman & Jansen:1992)

    9. skoling in kritiese denke (Landman & Jansen:1992).

  5. PRATTE (1992:xiv-xxiii, 65, 72-83, 162-164): METODOLOGIE EN NORMATIWITEIT

    5.1 Uitleg

    Van 'n filosofie van die opvoeding is nodig:
    (i) metodologiese begronding, en

    (ii) 'n normatiewe basis

    en wel

    (i) 'n metodologie as vertrekpunt, met 'n

    (ii) normatiewe dimensie (p.xiv)

    maar dan

    (i) 'n metodologie wat getemper word deur die nie-neutrale funksionering daarvan, en

    (ii) 'n onomwonde verklaring dat 'n stel normatiewe beginsels, ideale, konsepte, veronderstellings en opvattings bevorder gaan word, met die doel om die kategorieë vir die denke te versag (p.xv).

    Ten einde 'n funksionerende metodologie te verseker, moet kritiese denke sterk beklemtoon word met die oog op

    (i) verheldering van opvoedkundige aangeleenthede, en

    (ii) regverdiging van opvoedkundige standpunte (p.xv).

    Dit beteken dat 'n Filosofie van die opvoeding gekenmerk word deur

    (i) kognitiewe aktiwiteite

    (ii) affektiewe aktiwiteite (p.xiii).

    Vir die begryping van opvoedkundige sake, verkies Pratte die kognitiewe aktiwiteite van analitiese metodologie (die fenomenoloog sal fenomenologie en daarmee aanverwante metodes verkies). Vir die normatiewe dimensie verkies hy die affektiewe aktiwiteite van wat hy normatiewe filosofie noem.

    Die opvoedkundige sal sy uitsprake moet regverdig, dit wil sê hy sal in sy argumentering redes daarvoor moet gee (p.65). Daar is dus sprake van regverdigingsargumentering (justificatory argument) en die opvoedkundige moet die eise van geldige argumentering ken (pp.72-83).

    Opvoedkundige taal en konsepte moet verryk word deur die normatiewe tradisie sodat 'n verbrede filosofie van die opvoeding tot stand kan kom. Dit beteken dat waarde-oordele uitgespreek moet word (p.162). Vir Pratte gaan die oordele oor aangeleenthede soos menswaardigheid, persoonwees, agting vir ander wat konteksgebonde is, dus wat behoort tot 'n partikuliere tradisie (p.xxiii). Pratte (Hoofstuk 5) voeg die volgende by: besorgdheid, versorging, verdraagsaamheid, empatie, diens.

    5.2 Kommentaar:

    Ten einde fundamenteel te wees, sal 'n filosofie van die opvoeding besondere aandag moet gee aan metodologiese verantwoording dus aan metodologie wat by 'n filosofiese perspektief soos die opvoedings-werklikheid pas. Hier word gedink aan die fenomenologiese, hermeneutiese, dialektiese en kontradiktoriese metodes. Synde 'n vorm van filosofie sal filosofie van die opvoeding ook in verband met die metodologieë die moontlikheidsvraag moet vra. Nou verbonde aan die moontlikheidsvraag (op grond waarvan is hierdie metodes moontlik?) is die verantwoordelikheidsvraag (welke beskermingsfunksie het Filosofie van die opvoeding ten aansien van hierdie metodes?). Filosofie van die opvoeding sal ook kan (moet) vra na metodes wat kan dien as versterking (sinvolle aanvulling) van hierdie metodes, byvoorbeeld die analitiese metode. Ooreenkomste en verskille kan met vrug aangetoon word, asook implementeringsmoontlikhede.

    Om fundamenteel te wees sal Filosofie van die opvoeding ook waarde-oordele oor die opvoedingswerklikheid moet uitspreek. Onder andere beteken dit om opvoedingsessensies raak te sien as besondere norme en om die sosiale, ekonomiese en politieke omstandighede wat die verwerkliking daarvan raak te beoordeel, maar dan aan die hand van besondere kriteria. As besondere kriteria geld definisies van fundamentele opvoedingsessensies wat in vraagvorm herformuleer is.

    'n Filosofie van die opvoeding sal ook die betekenis van lewens-opvatlikheid (as universele verskynsel) se struktuurstatus in die lig moet bring en die betekenis van 'n aantal partikuliere lewensopvattings (byvoorbeeld Christelik, liberaal, konserwatief, radikaal ens.).

  6. MUSOLFF, H-U (1992:3-17): FILOSOFIE VAN DIE OPVOEDING EN DIE PEDAGOGIESE

    6.1 Uitleg

    Die eenheid van normatiewe eise en empiriese bewussyn is die absolute moontlikheidsvoorwaarde vir 'n (moderne) Filosofie van die opvoeding. Dit gaan om die openbaring van die aktuele (die essensiële) en die normatiewe, om wat is (Sein) en wat behoort te wees (Sollen) en om die sintese daarvan. Dit gaan om die universeel waardevolle wat in 'n praktyk werksaam word. Universele waardes word geïnterpreteer vir 'n alledaagse praktyk. Filosofie van die opvoeding moet die waarde-inhoude van 'n histories geworde opvoedingswerklikheid waarneem en verduidelik hoe die pedagogiese daardeur in beweging kom (p.9).

    Wanneer die begrip die pedagogiese nie werklikheidsgetrou gedefinieer word nie, verdwyn dit. Dit beteken dat alles wat as pedagogies kwalifiseer gedefinieer moet word. Daar word gesoek na 'n outentieke begryping van die pedagogiese. Dié begrip moet die eksistensiële spanning wat daar bestaan tussen is en behoort te wees en die operasionalisering (praktykwording) daarvan in die hedendaagse samelewing openbaar (pp.10-11).

    6.2 Kommentaar:

    'n Filosofie van die opvoeding uit fundamenteel, dit wil sê outentiek filosofies wil wees, moet aandag gee aan die volgende:

    1. Normbeskrywing. Die pedagogiese essensies se normerende krag moet beklemtoon word. Lewensopvatlikheid (as universele verskynsel) en die lewensopvatlike toelaatbaarheid van wetenskaplike (insluitende navorsings-) handelinge moet uitgelê en geïnterpreteer word. Die lewegewende funksie van die partikuliere lewensopvatting moet beskryf en gedemonstreer word.

    2. Essensie-openbaring as moontlikheidsvoorwaarde vir outentieke begryping van die pedagogiese moet verduidelik word. Die gevaar van atomisme (resp essensialisme) bestaan slegs as sinsamehange nie raakgesien en verwoord word nie. Skrik vir moontlike atomisme kan lei tot 'n verval in oppervlakkigheid en algemene gepratery.

  7. AANBEVELINGS (BEd, MEd, DEd)

    Dat, Filosofie van die opvoeding, nie sal afwyk van dit wat tot die einde van 1992 onder die naam Fundamentele Pedagogiek bedryf is nie, met dien verstande dat die volgende in aanmerking geneem word:

    1. Metodologie:

    1.1 Dat die fenomenologiese, hermeneutiese, dialektiese en kontradiktoriese metodes op datum gebring word, met byvoeging van

    1. die moontlikheidsvraag ten aansien van dié metodes

    2. die beskermingsfunksie van Filosofie van die opvoeding ten aansien van dié metodes

    3. die aansluiting van hierdie metodes by die hedendaags populêre analitiese metode en relevante empiriese metodes.

    2. Opleiding vir die wetenskaplik verantwoorde hantering van argumentering met die uitskakeling van valse redenering.

    3. Die impak van nuwere denkrigtings op hedendaagse opvoedkundige denke soos byvoorbeeld rekonstruksionisme en postmodernisme.

    4. Sosiale, ekonomiese, politieke omstandighede vir die verwerkliking van opvoedingsdoelstellings. (Die fundering deur Filosofie van die opvoeding en die huidige situasie in die RSA deur Sosio-opvoedkunde).

    5. Vir UNISA met sy geweldige heterogeniteit wat studente-samestelling betref en gepaard daarmee 'n groot verskeidenheid lewensopvattings, word die volgende voorgestel:

    1. Aandag aan die lewensopvattingstruktuur, dit wil sê die struktuur van lewensopvatlikheid (soos in die verlede gedoen)

    2. Uitleg van die verband tussen lewensopvatlikheid en partikuliere lewensopvattings (lewensbeskouings)

    3. 'n Werkopdrag waarin 'n student geleentheid kry om die eie lewensopvatting aan te wend vir verlewendigende inhoudgewing.

    6. 'n Aantal hedendaagse sienings oor wat Filosofie van die opvoeding beteken met onderstreping daarvan dat 'n filosofie van die opvoeding fundamenteel moet wees.

    7. Oorweging van die volgende:

    * opvoeding = 'n besondere vorm van die agogiese.

    * opvoeding = die pedagogiese + die andragogiese + die gerontagogiese

    * Opvoedkunde = Pedagogiek + Andragogiek + Gerontagogiek

    * opvoedingsessensies (en strukture) is soms pedagogiese essensies, soms andragogiese essensies en soms gerontagogiese essensies (en strukture) afhangende van die besondere situasie.

    * Die mens is Homo viator. In sy opwegwees word pedagogiese essensies andragogiese essensies en word andragogiese essensies gerontagogiese essensies (en strukture).

  8. VERWYSINGS

    Brezinka, W. 1992. Philosophy of Educational Knowledge. An introduction to the foundations of science of education, philosophy of education and practical pedagogics. Dordrecht, London: Kluwer Academic Publishers.

    Heese, C & Badenhorst, D. 1992. The South African Equation. Pretoria: Van Schaiks.

    Jansen, C.P. 1993. Navorsingsprojek. Universiteit van Suid-Afrika.

    Landman, W.A., Roos, S.G. & Mentz, N.J. 1979. Fundamentele Pedagogiek leerwyses en vakonderrig. Durban: Butterworths.

    Landman, W.A. (Red.). 1981. Kind en skool. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.

    Landman, W.A., Mentz, N.J., Roos, S.G. & Möller, T. 1982. Fundamentele Pedagogiek en lesgee. Durban: Butterworths.

    Landman, W.A. & Jansen, C.P. 1992. Argumentering en valse redenering in 'n navorsingsverslag. Studiereeks, Instituut vir Opvoedkundige Navorsing, Universiteit van Suid-Afrika.

    Landman, W.A. 1992. Opvoedingsfilosofieë: die Suid-Afrikaanse Toneel. Studiestuk, Instituut vir Opvoedkundige Navorsing, Universiteit van Suid-Afrika.

    Landman, W.A. 1993. Eklektiese denke en eklektisisme. Studiestuk, Instituut vir Opvoedkundige Navorsing, Universiteit van Suid-Afrika.

    Musolff, H-U. 1992. Der Begriff der Pädagogischen und die Moderne. Pädagogische Rundschau Heft 1 46 Jahrgang. Januar - Februar.

    Ornstein, A.C. & Levine, D.U. 1989. Foundations of Education. Fourth Edition. Boston: Mifflin.

    Ozmon, H. & Craver, S. 1990. Philosophical foundations of education. Fourth Edition. Ohio: Merrill.

    Pratte, R. 1992. Philosophy of Education. Two traditions. Springfield: Charles C Thomas.

    Van Rensburg, C.J.J. & Landman, W.A. 1990. Fundamenteel-pedagogiese begripsverklarings. Pretoria: NG Kerkboekhandel, Transvaal.

    --- oOo ---