- INLEIDING
Begrippe is die boustene van enige wetenskap.
Navorsingsmetodologiese grondbegrippe is die boustene van die
effektiefste wyse om wetenskap te beoefen naamlik navorsing;
meer spesifiek gestel, stappe van die navorsingsprogram
(navorsingsontwerp).
Dit beteken dat die navorser 'n program kan ontwerp en ook in
verfynde vorm ten uitvoer kan bring deur te let op die
definiëring van basiese navorsingsmetodologiese begrippe. 'n
Analise van die definisies van navorsingstappe openbaar die
substappe wat die navorser kan volg.
Basiese navorsingsmetodologiese begrippe kan nageslaan word
in:
LANDMAN, W.A. 1988. Navorsingsmedotologiese
grondbegrippe/Basic Concepts in Research methodology. Serva-Uitgewers, Pretoria.
- KRITIESE DENKE
Wanneer wetenskaplike ondersoeke gedoen word, word die
verwagting dat dit krities sal wees, dikwels uitgespreek. Dit
geskied veral in die sin van skerp refleksie, korrekte en
skeptiese evaluering van stellings en uitsprake, die
doelbewuste en onbevooroordeelde soeke na waarheid, die
vermyding van algemene gepratery, naïewiteit,
oppervlakkigheid, en dubbelsinnigheid.
McPeck, J E (1981:45) gee 'n lys van aktiwiteite wat hy
kritiesedenkaktiwiteite noem wat vir die kwaliteit van die
navorsing betekenisvol is en wat die M- en D-student moet
aanlê as kriteria vir die beoordeling van 'n geskrewe stuk:
* begryping van die betekenis van 'n uitspraak;
* beoordeling of daar dubbelsinnigheid voorkom in 'n wyse
van redenering;
* beoordeling of uitsprake wat gemaak word mekaar
weerspreek;
* of 'n noodwendige gevolgtrekking gemaak word; of "dus"
werklik geregverdig kan word;
* of 'n uitspraak spesifiek genoeg is; dit wil sê ter sake is;
* of 'n uitspraak wat op grond van observasie gemaak is,
betroubaar is;
* of iets 'n aanname (veronderstelling) is;
* of 'n definisie toereikend is; en
* of 'n uitspraak wat deur 'n gesaghebbende gemaak is, aanvaarbaar is; dit wil sê 'n uitspraak is nie aanvaarbaar
omdat 'n outoriteit dit gemaak het nie.
McPeck noem ook (1981:7) 'n aantal kritiese denkvaardighede
wat ter sprake kom by die uitvoering van 'n navorsingsprogram,
en wat die M- en D-student kan aanwend as kriteria om sy eie
werk te beoordeel (voordat dit aan die leier of promotor
oorhandig word vir nasien):
* intellektuele weetgierigheid; (teenstelling van napratery);
* objektiwiteit; (teenstelling van subjektivistiese beoordeling - "ek"; "my opinie"; "myns insiens");
* onbevooroordeeldheid; (teenstelling van oorgeërfde vooroordele);
* intellektuele skeptisisme; (blyk dikwels wanneer gemotiveer moet word waarom daar met 'n uitspraak
saamgestem word);
* intellektuele eerlikheid; (byvoorbeeld deur nie vooraf te besluit welke oplossing
of saak ondersteun gaan word nie);
* om sistematies te wees;
* beslistheid; deur nie halfhartig stellings te maak nie; en
* agting vir ander se standpunte (McPeck:59) deur onbevooroordeeld daarna te kyk.
McPeck se definisie van kritiese denke plaas die kersie op die koek.
Kritiese denke is denke wat die skerpsinnige aanwending van
reflektiewe skeptisisme vereis, wat getemper word deur
ervaring sodat dit kan lei tot toereikender probleemoplossing.
Leer om krities te dink is om te leer wanneer om iets te
bevraagteken en watter soort vrae gevra behoort te word
(McPeck:7).
Die M- en D-kandidaat moet
- verslag kan doen waarom hy 'n besondere uitspraak of bevinding van 'n outoriteit aanvaarbaar vind;
- geleentheid kry om sy eie ervaring wetenskaplik te mobiliseer, te evalueer en veral verifiërend
aan te wend. (Vgl. Landman, W.A., SATO-artikel, vol. A Nr 2 1989).
Strukturering van die eie ervaring vir navorsingsdoeleindes.
- verslag te doen oor die vrae wat hy gevra het toe hy literatuurstudie gedoen het.
- NAVORSINGSDOEL
Die navorser weet dat die doel van sy navorsing probleemoplossing is.
Uit die definisie van "probleemoplossing" lei hy die volgende navorsingstappe af:
- Vrae (wat beantwoord moet word). Die eerste vrae is om die sleutelbegrippe in die onderwerp van die navorsing in
vraagvorm te formuleer);
- Hipoteses (wat getoets moet word). Die eerste hipotese is om die onderwerp in hipotesevorm te herformuleer;
- Stappe (wat gevolg gaan word): Welke probleemoplossingstappe word beoog? (Die nagraadse student moet 'n beeld
hê van die navorsingsprogram wat hy wil volg - literatuurstudie, empiriese metodes ens.)
- PROBLEEMSTELLING
Daar kan, ter wille van skerp navorsing, nie volstaan word met
aanvangs-vrae, hipoteses en stappe nie. Vraag-, hipotese en
stapverfyning moet geskied.
Die navorser gaan eerstens oor tot probleemstelling en
hiervoor bekyk hy die definisie "probleem: stelling van" en
sien die volgende stappe raak:
- identifikasie van veranderlikes (of sentrale begrippe -essensies - in die titel of onderwerp);
- formulering van geïdentifiseerde veranderlikes (of essensies) in vraagvorm (byvoorbeeld deur 'n definisie daarvan
in vraagvorm te herformuleer);
- formuleer vrae ten aansien van onderlinge verbande;
- vooruitskouing (aangaande data wat versamel moet word ten
einde die gestelde vrae te beantwoord).
M- en D-kandidate
Van dié data is meesal in boeke en tydskrifartikels.
Kandidate moet opdrag kry om tersaaklike tydskrifartikels te
versamel, met die titelsleutelwoorde as soektogwoorde.
'n Goeie plan is om die eerste studie van hierdie artikels te
beperk tot die probleemstellings.
Probleemstellingstudie bring aan die lig:
* vrae wat reeds deur navorsers gevra is;
* vrae wat nie gevra is nie;
* vrae wat swak gevra is.
Hiermee kan afgelei word welke leemtes in die bestaande
navorsing bestaan. Hierdie leemtes kan dien as motivering van
die navorsing wat die kandidate moet onderneem.
- HIPOTESEVORMING
Sommige leiers en promotors verkies om hipoteses te laat
skrywe (veral by empiriese navorsing) terwyl ander dit nie
noodsaaklik ag nie.
Vervolgens raadpleeg die navorser die definisie "hipoteses" en
bring daaruit die volgende stappe aan die lig:
- Neerskryf van spesifieke tentatiewe stellings wat die
verwagting of vermoede wat die probleemoplossing moontlik
kan wees, formuleer;
- Operasionalisering van stellings; d.w.s. die herskrywe
daarvan in navorsbare vorm.
- Stel van alternatiewe hipoteses;
- Hipotesevormingstudie met die geselekteerde literatuur.
- Stel 'n program vir hipotesetoetsing op. (Hy kan
ondersoek instel na metodes en prosedures wat deur die
gestelde hipoteses opgeroep word).
M- en D-kandidate
* Kandidate moet geleentheid kry om te sê welke
navorsingsprosedures hulle wil aanwend.
* Die keuse van prosedures moet gemotiveer word op 'n wyse
wat die leier (promotor) kan aanvaar. Die leier moet
weet dat die sterkste motivering is die feit dat 'n
geselekteerde prosedure die beste prosedure sal wees om
'n besondere hipotese te toets.
- HIPOTESETOETSING
Ten einde hipotesetoetsing uit te voer, moet die navorser
aandui welke metodes hy gaan aanwend. Die aanwendingstappe
kan ontdek word deur bestudering van die definisie van metode:
- Metodes wat pas by die aard van die ondersoekgebied; (byvoorbeeld: outobiografiese teksmetode wanneer ervaring en
belewing ondersoek moet word).
- Seleksie uit die moontlike metodes met die gestelde
hipote ses as seleksiekriteria; Byvoorbeeld sekere
hipoteses kan slegs deur onderhoudevoering
getoets word (byvoorbeeld baie sensitiewe sake).
- Ordening van die metodes in 'n besondere stelsel
(sisteem).
- Hier word verwys na die volgorde van toepassing van die
geselekteerde prosedures en metodes. Welke volgorde is
die effektiefste?
- INTERPRETASIE VAN RESULTATE
Uit die toepassing van die geselekteerde metodes en prosedures
vloei resultate voort. Die resultate word krities geïnterpreteer. Dit beteken dat die navorser moet bepaal welke
interpretasiestappe hy sal kan verbesonder deur 'n analise van
die definisie van "kritiese denkaktiwiteite", en "kritiese
denke":
Die volgende stappe word raakgesien:
- Weergawe van die betekenis van die resultate (in terme
van die navorsingsdoel) d.w.s. in terme van
probleemoplossing.
- Beoordeling of dubbelsinnighede in die beskrywing of uitleg
van die resultate voorkom (en die uitskakeling daarvan);
- Beoordeling of weersprekinge in die resultate voorkom (en moontlike verklarings
daarvoor met die implikasies daarvan vir probleemoplossing);
- Beoordeling of die resultate:
- sinchroniseer met sekere beginsels (teorie)
- spesifiek genoeg is
- betroubaar is.
Die aktiwiteite (i) - (iv) word voltrek in die lig van:
- skerpsinnige reflektiewe skeptisisme
- ervaring
- beoordeling of die beste moontlike vrae gevra is.
Die navorser volg sy interpretasie op met gevolgtrekkings en
aanbevelings.
Die navorser beskik nou oor 'n reeks verfynde
probleemoplossingstappe. Voordat hy egter daartoe oorgaan om
sy ontwerpte program toe te pas, kan dit nog verder verfyn
word. Die navorser maak 'n deeglike studie van ander
tersaaklike (dit wil sê wat die saak van sy probleemoplossing
raak) navorsingsmetodologiese grondbegrippe en die definiëring
daarvan. So ontwerp hy verder probleemoplossingstappe en voeg
dit op die paslikste plekke in in sy reeds ontwerpte program.
Uiteindelik beskik hy oor 'n gedetailleerde navorsingsprogram
wat sy kanse om sinvolle navorsing uit te voer, aansienlik kan
verhoog.
Die navorser wat fenomenoloog is, sal begin deur te kyk na die
definisie van navorsing: fenomenologiese metode en merk dan
die volgende stappe op:
- Bepaling van hoe die geïdentifiseerde probleem (wat
aanleiding gegee het tot die navorsing) in die leefwêreld
voorkom;
- Deurdring tot die eidos daarvan volg, dit wil sê
essensie-openbaring. Die essensiële word uitgelig
en geskei van die nie-essensiële, dit wil
sê van die wegdinkbare, die kontradiktoriese en die nie-tersaaklike.
- DIE NAVORSINGSINGESTELDHEID EN NAVORSINGSMETODOLOGIESE
GRONDBEGRIPPE
(Kan in eerste gesprekke met M- en D-kandidate
bespreek word).
Dit is 'n geoperasionaliseerde ingesteldheid op (ingestemdheid
op) navorsing wat die uitvoering van die navorsingsprogram
dra. Die navorser bekyk die definisie van "navorsing:
fenomenologies" ten einde daarin te soek na gesindhede wat
sinvol sal bydra tot 'n werkbare navorsingsingesteldheid:
- Kies vir 'n radikale deurskouing (analise) van die
problematies geworde werklikheid;
- raaksien van navorsingstappe as wyses om die tot
probleemgeworde werklikheid tot spreke te bring (deur vrae daaroor te vra tydens
probleemstelling);
- wyses van denkende soeke na dit wat die na te vorse
werklikheid maak dat dit is soos dit is en nie iets
anders nie (navorsingstappe word denkend (krities)
aangewend);
- wyses van essensie-openbaring;
- wyses om essensies wat nodig is vir
probleemoplossing radikaal sigbaar te maak;
- wyses om essensieblindheid te vernietig;
- refleksiewyses wat relevante probleemoplossing bevorder.
- besluit deur die navorser op inagneming van lewensopvatlike
toelaatbaarheid, deur
* geen navorsingshandeling uit te voer wat in stryd is met sy besonder lewensopvatting nie;
* raak te sien dat lewensopvatlik toelaatbare navorsingshandelinge op 'n besondere wyse lewendig is;
* indink-betrokkenheid aangevul moet word deur inleef-betrokkenheid, dit wil sê die rasionele benodig die
affektiewe en die skerpste vorm van affektiwiteit is lewensopvatlikheid;
* aanvaarding van lewensopvatlik gewaarborgde winste vir
wetenskapsbeoefening (ook in die vorm van navorsing)
naamlik entoesiasme, verantwoordelikheid, gemoedsekerheid
en verhelderende insig.
- DIE NAVORSINGSVERSLAG EN NAVORSINGSMETODOLOGIESE GRONDBEGRIPPE
Die navorser kan uit sekere navorsingmetodologiese
grondbegrippe kriteria aflei waaraan sy navorsingsverslag
moet voldoen. Hy kan onder andere 'n analise maak van die
definisie van die begrip "navorsing".
Die volgende kriteria vir beplanning van die navorsingsverslag
kom in die vorm van besondere vrae aan die lig:
- Hoe kan daar op die treffendste wyse verslag gedoen word
van nuwe kennis wat deur die navorsing geskep is?
(Tabelle, grafieke, skerp paragrawe ens.)
- Wat moet deur die verslag op die voorgrond gebring word?
- Hoe moet die probleemoplossing die treffendste verwoord (of voorgestel) word? (Kyk ook (i)).
- Hoe moet die afdeling, wetenskaplike analisemetodes (metodologiese verantwoording) georganiseer word?
- Formeel: welke ordening van die verslag sal kan kwalifiseer as "beste vorm"?
- Sistematies: Welke "beste vorm" sal aan die eis van sistematiek voldoen?
- Aan welke vereistes moet die betoog voldoen ten einde aanspraak op intensiwiteit te mag maak?
- Hoe moet die kontroles wat tydens die navorsing toegepas is, opmerkbaar gemaak word?
- Hoe word veralgemenings hanteer?
- Welke wyse van interpretasie sal die aanvaarding van die aanbevelings bevorder?
* Wetenskaplike eerlikheid
Om aan die eis van wetenskaplike eerlikheid te voldoen en om
duidelik te maak teen welke agtergrond daar geïnterpreteer
gaan word, kan die navorser vasstel watter kriteria vir sy
verslag, voortvloei uit 'n analise van die definisie van
"paradigma":
- Waar in die verslag sal dit die effektiefste wees om die
vooronderstellings wat die navorsing begelei, te stel?
- Wanneer moet dit blyk welke navorsingstradisie deur die navorser inaggeneem word?
- Welke vooronderstellings wat eie is aan die gekose (gehuldigde) navorsingstradisie gaan dien as agtergrond
waarteen daar geïnterpreteer gaan word?
* Aanwending van definisies
Ten einde aan kerngedagtes prominensie te verleen in 'n
verslag, kan dit gerade wees om dit te definieer. Definisies
se hantering in 'n verslag kan geskied op wyses wat afgelei
word uit definisies van die begrip "definisie":
- Betekenisbeskrywing in eenvoudiger of meer omvattende
terme telkens wanneer groter helderheid dit vereis;
- Verklaring van terme soos dit gebruik word deur die meeste mense, veral wanneer die alledaagse leefwêreld (by
uitstek die vertrekpunt vir wetenskapbeoefening) beskryf word;
- Telkens wanneer beskrywings nodig is van begrippe in terme van die betekenis van die waarneembare en evalueerbare
kenmerke daarvan, die funksies waarin dit tot uitdrukking
kom en wanneer begrippe in 'n praktyk geïdentifiseer moet
word.
OPMERKING
Die navorser kan ook sinvol tot verfynde probleemstelling kom
deur definisies van essensies (wat verbesonder word uit
beskrywings soos byvoorbeeld literatuurstudie) in vraagvorm te
herskryf.
Essensie - definisie - Definisies in vraagvorm = verfynde probleemstelling.
M- en D-kandidate
Kandidate kan opdrag kry om elke tydskrifartikel in
essensietabelvorm vir die leier (promotor) te bring.
* Literatuurstudie
Literatuurstudie vorm die skering en inslag van die meeste
navorsingsprojekte. Dit is derhalwe vanselfsprekend dat die
navorser daaraan besondere aandag sal gee in sy verslag.
Riglyne vir die aanwending van literatuurstudie in diens van
probleemoplossing, kan afgelei word uit die definisies van
"literatuuroorsig" en "literatuurstudie":
- Voorsiening van agtergrond en konteks vir die
navorsingsprobleem (ook die moontlike hipoteses):
* Probleemstellingstudie
* Hipotesevormingstudie
* Probleemoplossingstudie
- Motivering vir die noodsaaklikheid van die onderhawige navorsing (in terme van die leemtes wat met (i) ontdek is);
- Aanduiding van die navorser se kennisbesit ten aansien van die betrokke navorsingsgebied;
- Weergawe van resente kennis ten aansien van die navorsingsgebied;
- Literatuuranalise om bevindinge wat die navorser se
bevindinge (resultate en gevolgtrekkings) ondersteun, of
in konflik daarmee is, aan die lig te bring.
Die voorgaande was 'n eksemplariese uiteensetting van hoe
definisies van basiese navorsingsbegrippe deur die navorser
aangewend kan word om sy navorsingsplan (navorsingsontwerp) te
verfyn en om sy navorsingsverslag te verskerp.
Die navorser wat basiese navorsingsbegrippe begryp omdat hy
die definisies daarvan ken, kan as outentieke beoefenaar van
wetenskap in die vorm van navorsing, gereken en geag word.