Professor W A Landman


Terug na titels van publikasies

Terug na Tuisblad

ONDERSOEK NA WERKGEWERS IN DIE DAVEL
LANDBOUDISTRIK SE GESINDHEID TEN OPSIGTE
VAN NIE-FORMELE ONDERWYS
DEEL 3

  •   KOMMENTAAR

Uit die betrokke gegewens, blyk dit dat daar bepaalde faktore is wat 'n negatiewe inwerking het op die standaard en kwaliteit van die onderwys van plaasskoolleerlinge in die Davel Landboudistrik.

Hierdie faktore is onder meer die volgende:

  1. Die groot aantal primêre skole op die onderskeie plase. Elkeen met sy eie onderwyskundige infrastruktuur bring bepaalde finansiële uitgawes mee.

  2. Die groot getal plaasskoolleerlinge.
  3. Plaasskoolleerlinge wat na skoolvoltooiing in die stede gaan werk.

  4. Leerplanne wat verouderd is.

  5. Swak fisiese opset op skole.

  6. Onderwysers van plaasskole wat nie goed opgelei is nie.

  7. Plaasskoolleerlinge in die algemeen wat nie belangstel om na skoolverlating 'n beroepsrigting in die landbousektor te wil volg nie.

  •   OPMERKING

Positiewe aspekte volgens die vraelysresultate is dat ouers van plaasskoolleerlinge hul kinders aanmoedig om 'n beroep in die landbousektor te volg. Verder dat plaasskoolleerlinge dankbaar is vir hul onderwysgeleenthede en dat werkgewers die betrokke leerlinge nie beskou as deel van die arbeidsmag op plase nie.

Die aanname kan gemaak word dat die kwaliteit en standaard van die onderwys van plaasskoolleerlinge in die Davel Landboudistrik verhoog kan word indien daar 'n nouer skakeling tussen die formele en nie-formele onderwysstelsel is.

Die moontlikheid bestaan dat die betrokke onderwys op 'n meer gesentraliseerde basis kan geskied.

5.2  Voorstelle of riglyne ter verbetering van die onderwys van plaasskoolleerlinge in die Davel Landboudistrik

Uit die vraelysresultate blyk dit dat die werkgewers die volgende voorstelle maak en riglyne aanbied om die onderwys van plaasskoolleerlinge in die Davel Landboudistrik te verbeter, naamlik:

  1. Ouers van plaasskoolleerlinge moet meer by die onderwysgebeure betrek word.

  2. Onderwysers moet deskundig opgelei word.

  3. Skoolfasiliteite moet opgeknap word.

  4. Hoërskoolopleiding moet geredelik beskikbaar wees.

  5. Skole moet gesentraliseer word.

  6. Vervoer van leerlinge na skole moet verbeter.

  7. Befondsing van skole moet verbeter.

  8. Daar moet 'n beter stelsel vir onderwysvoorsiening wees.

  9. Die totale gemeenskap moet by die onderwysgebeure betrek word.

  10. Daar moet beter beheer oor onderwysers en leerplanne wees.

  11. Daar moet 'n beter verhouding wees tussen beskikbare onderwysers en leerlinggetalle.

Die onderskeie voorstelle of riglyne ter verbetering van die onderwys van plaasskoolleerlinge in die Davel Landboudistrik, sentreer rondom die volgende konstituente:

  1. Ouerbetrokkenheid by die onderwys

  2. Onderwyseropleiding en -voorsiening.

  3. Onderwysfinansiëring en -fasiliteite.

  4. Skoolorganisasie en -administrasie.

  5. Sentralisering van skole.

  6. Gemeenskapbetrokkenheid by die onderwys.

  •   KOMMENTAAR

    Indien die onderskeie voorstelle of riglyne ter verbetering van die onderwys van plaasskoolleerlinge in die Davel Landboudistrik geïmplementeer kan word, kan dit sinvol bydra om die bepaalde onderwyspraktyk te verbeter en te verfyn.

    Die onderskeie voorstelle of riglyne is haalbaar indien daar 'n nouer skakeling tussen die formele en nie-formele onderwysstelsels in die Davel Landboudistrik is. Laasgenoemde stelling impliseer dat veral die betrokke gemeenskap (insluitende ouers en werkgewers) by die onderwysgebeure betrokke moet raak.

    Die sinvolle uitvoering en implementering van die onderskeie aanbevelings kan daartoe bydra dat die leerder in die betrokke gemeenskap (RSA 1983:1):

    1. Sy of haar gegewe persoonsmoontlikhede in die nie-formele landboukundige arbeidsektor kan verwerklik;

    2. Gemotiveerd en doelmatig 'n produktiewe bydrae kan lewer tot die verhoging van die eie lewenstandaard en -kwaliteit, deur die skepping van ekonomiese welvaart; en

    3. 'n Realistiese beroepstoekomsverwagting in die betrokke landboukundige sektor sal openbaar.

    5.3   'N SENTRALE GEMEENSKAPSKOLLEGE IN DIE DAVEL LANDBOUDISTRIK

    Uit die resultate van die vraelysondersoek, blyk dit dat 69% van die ondersoekgroep bereidwillig was om 'n finansiële bydrae te lewer om 'n sentrale Gemeenskapskollege in die Davel Landboudistrik te help stig.

    Die stigting van 'n sentrale Gemeenskapskollege in die Davel Landboudistrik hou die voordeel in dat alle nie-formele landboukundige onderwysaksies op 'n gesentraliseerde basis aan die betrokke Kollege aangebied kan word.

    Die feit dat 69% van die ondersoekgroep bereid was om 'n finansiële bydrae te lewer om 'n sentrale Gemeenskapskollege in die Davel Landboudistrik te help stig, dui op 'n positiewe gesindheid wat die betrokke werkgewers ten opsigte van nie-formele landboukundige onderwys openbaar.

    5.4   VERALGEMEENBAARHEID VAN DIE NAVORSINGS RESULTATE

    Vir Landman (1988: 46) dui veralgemening op die proses van oorskryding van observasies wat op 'n bepaalde tydstip gemaak is ten einde meer algemene uitsprake te maak.

    Walizer en Wiener (1978: 430) lê veral klem op die veralgemening van navorsingsbevindinge met die volgende beskouing: "The process of assuming that a relationship found to exist in the data from a research sample would also exist in the data of the research population from which the units of the sample have been drawn."

    In die lig van die bostaande twee beskouinge kan die afleiding gemaak word dat indien die navorsingsbevindinge van hierdie ondersoek op 'n wetenskaplike wyse verkry is, die betrokke bevindinge algemene toepassingwaarde het vir soortgelyke en ooreenstemmende landbougemeenskappe in die RSA.

    Die implementering van die voorgestelde riglyne, kriteria en modelle kan daartoe bydra dat leerders wat hulle in soortgelyke nie-formele landboukundige onderwyssituasies bevind se produktiwiteitsvlak en lewenskwaliteit verhoog kan word, en dat ekonomiese groei daardeur in die betrokke landboukundige gemeenskap gestimuleer kan word.

    6.  SAMEVATTING

    In hierdie ondersoek is werkgewers in die Davel Landboudistrik se gesindheid ten opsigte van nie-formele onderwys verken aan die hand van 'n gestruktureerde vraelys.

    Uit onder meer die resultate van die vraelysondersoek blyk dit dat die werkgewers in die Davel Landboudistrik 'n positiewe gesindheid ten opsigte van nie-formele onderwys het.

    LITERATUURLYS

    • COOMBS, P H. 1968. The world educational crisis : a system analysis. Oxford University Press, New York.

    • KAHN, J E. 1990. Illustrated Reverse Dictionary. The Reader's Digest Association Limited, London.

    • LANDMAN, W A. 1985. Navorsingsprobleme en teikenpunte in die Nie-formele onderwys. Navorsingseenheid: Nie-formele Onderwys, Universiteit van Pretoria, Pretoria.

    • LANDMAN, W A. et al. 1987. Die navorsingsprogram vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Perskor, Johannesburg.

    • LANDMAN, W A. 1988. Navorsingsmetedologiese grondbegrippe. Serva Uitgewers, Pretoria.

    • ODENDAL, F F. et al. 1981. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor-Uitgewery, Johannesburg.

    • PITTENDRIGH, A. 1985. Die RGN/NOR-Ondersoek na die Opleiding van Ambagsmanne in die RSA. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria.

    • REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA. 1983. Witskrif oor onderwysvoorsiening in die RSA. Staatsdrukker, Pretoria.

    • VAN DER STOEP, F. 1984. Non-formal education. Codex Publisher, Pretoria.

    • WALLIZER, M H & WIENER, P L. 1978. Research methods and Analysis Searching for Relationships. Harper and Row, New York.