Professor W A Landman


Terug na titels van publikasies

Terug na Tuisblad

VAKBONDWESE EN OPLEIDING

W A LANDMAN
Instituut vir Opvoedkundige Navorsing
Universiteit van Suid-Afrika Posbus 392
PRETORIA 0001

1.  INLEIDEND

In die Republiek van Suid-Afrika het daar veral die afgelope dekade 'n besondere faktor op die arbeidshorison sigbaar geword en dit is die vakbondwese.

Die vakbondwese wat primêr gemoeid moet wees met die volgehoue daarstelling van toereikende diensvoorwaardes vir sy lede, het vir homself die reg toegeëien om op die politieke terrein te beweeg. Van hierdie saak sal daar kennis geneem word in die onderhawige artikel maar sal daar veral gekonsentreer word op die arbeidsveld.

Ten aansien van die arbeidsveld is daar veral twee sake wat aandag sal moet kry:

(a)die opleiding van werkers om sinvol deel te neem aan vakbondbedrywighede. In hierdie verband sal na die moontlikhede wat nie-formele modules bied, gekyk moet word;

(b)vakbondgoedkeuring van opleidingsprogramme. In hierdie verband sal daar fyn vasgestel moet word of die vakbonde hulle hoegenaamd met opleiding bemoei en hoedanig daardie bemoeienis is.

2.OPLEIDING VAN WERKERS OM DEEL TE NEEM AAN VAKBONDBEDRYWIGHEDE

Voordat daar oor opleiding gepraat kan word, moet daar eers vasgestel word welke vorme van deelname daar van werkers verwag kan word. Die volgende modelle kan onderskei word.

2.1Die model van Kester (1987:1)



Kester stel die volgende doelwitte vir 'n projek wat hy geloods het.



1.om vakbonde te help om 'n kragtige aandeel te neem in die soektog na nuwe vorme van arbeidsverhoudinge. Dit impliseer

1.1analise van werkerdeelname;

1.2bevordering van self-bestuur (self-management);

2.om die vakbonde te help om 'n eie beleid vir deelname (participation) te formuleer en te implementeer in die lig van

2.1werkers se belange;

2.2die gemeenskap se belange.

Kester gaan verder en operasionaliseer die gestelde doelwitte (1987:1-2):

(a)Opleiding van vakbondleiers op plaaslike vlak

"om tersaaklike inligting te versamel wat hulle in staat sal stel om 'n aandeel te neem aan die bepaling van beleid en strategieë vir deelname aan vakbondbedrywighede;

"om vakbondleiers op te lei om werkers op die grondvlak inligting te gee oor hoe om die beste gebruik te maak van bestaande deelname-strukture (participatory structures) en hoe om dit te verbeter;

"om vakbondleiers 'n goeie begrip te gee van die verskynsel van deelname en van die meganismes wat doeltreffende deelname bevorder of verhinder.

(b)Daarstelling van opvoedkundige programme (opleidingsprogramme) ten aansien van deelname aan vakbondbedrywighede).

(c)Om van werkeropleiding en werkerdeelname 'n kontinue aktiwiteit te maak.

Kester (1987:2) sien dié opleiding as 'n verantwoordelikheid van die vakbond self, maar sien blykbaar nie raak dat inrigtings wat werkers oplei 'n sinvolle rol kan speel nie. Die afwesigheid van opleidingsprogramme word as 'n besondere nood beleef. Daar is "dors" na opleiding (Kester, 1987:7). Daar word wel gewag gemaak van samewerking tussen universiteite en vakbonde (Kester, 1987:12,14).

Die volgende temas vir opleiding kan dien as leidraad vir opleidingsinstansies (Kester, 1987:17):

a)A brief history of labour and labour relations.



b)A description and analysis of the main, present day labour relations, institutions and structures against the background of the social, political and economic development in the country.



c)A brief history of the trade union movement.



d)The present structure, functions, main activities and policies of the trade union organisation.



e)The present structure and activities of workers' education conducted by the trade union organisation(s) and by other parties, such as government.



f)Past and present experience with forms of workers' participation at enterprise and national level.



Uit die Kersterse (Kester, 1987:53) projek het voortgevloei 'n Workers' participation and Development -



A Manual for Workers' Education.

Institute of Social Studies, P O Box 90733,

2509 LS The Hague, Netherlands.



Die inhoudsopgawe daarvan kan terselfdertyd dien as voorstel vir 'n leerplan vir werkersopleiding in deelname aan vakbondaktiwiteite:



Workers' Participation and Development - Contents



Workers in the Workplace and Society



Workers in the Workplace

Workers and the Economy

Workers and Labour Relations



Workers' Participation at Workplace Level and Beyond



What is Workers' Participation?

The Suggestion Box

Shop or Office Floor Participation

Works Council

Workers on the Board of Directors

Participation in Profits and Ownership

Workers' Self Management

Workers' participation at the Workplace - a General Evaluation



Participation Beyond the Enterprise



Towards Effective Workers' Participation



Workers' Influence

Using Participation

New Relations for Workers and Managers

Participation for All - Women Workers

Participation and Trade Unions

Profit Sharing and Participation in Ownership

Participation and Information

Participation and Individual rights.



Kester (1987:63-82) maak in 'n afsluitende hoofstuk onder andere die volgende stellings:



1.Opleiding van vakbondleiers (in Afrika) kan lei tot 'n toename in hulle demokratiese vermoë en kan dus bydra tot die gedying van demokratiese prosesse.



2.Opleiding van vakbondleiers kan lei tot 'n kragtiger deelname aan die ontwikkelingsproses, dus aan die ontwikkeling en verbetering van die sosiale, ekonomiese en politieke posisie van vakbondlede.



3.Werkeropleiding in deelname aan vakbondaktiwiteite is noodsaaklik as voorbereiding tot deelname. Opleiding vir deelname, en daarvoor is relevante tersaaklike inligting nodig wat net deur navorsing verkry kan word.



4.Opleiding wat tans in die meeste Afrikalande maar 'n lukraak aangeleentheid is, moet beter gestruktureer word en moet werklike toestande skerp verreken.



Opmerking



Dit moet aan inrigtings wat besig is met werkeropleiding (mensekragopleiding) opgedra word om opleiding in die deelname aan vakbondbedrywighede te behartig. Tegniese Kolleges en Technikons sal dit by wyse van gestruktureerde nie-formele kursusse kan doen.



'n Verdere saak is dié van bestuursopleiding van die hoogste kategorieë vakbondleiers. Hier kan Technikons en Universiteite 'n aandeel neem, desnoods ook in die vorm van gestruktureerde nie-formele modules. Dit is fundamenteel vir die ekonomie van 'n land dat die vakbondwese doeltreffend en demokraties moet funksioneer en opleiding kan 'n betekenisvolle bydrae lewer.

2.2 South African Breweries se model (Clutterbuck D, 1976:42-46).



South African Breweries het reeds in 1976 raakgesien dat bedinging 'n gesofistikeerde proses is en dat werkers en bestuurders opgelei moet word om daaraan deel te neem. Werkers en bestuurders moet opgelei word in onderhandeling en probleemoplossing.



Die opleiding is ingestel op gesindheidsvorming. Wyses van optrede word voorgestel en dan kry deelnemers die geleentheid om deur rollespel dit te oefen en uiteindelik word die gewenste gedraginge byna tweede natuur.



Aandag word gegee aan



"probleemoplossing

"voorbereiding van 'n saak

"onderhandeling



Vir elke deel van die opleiding ontvang die deelnemers 'n lys van belangrike sleutelfaktore ten aansien van hoe daar gedra moet word. Byvoorbeeld:



"Identifisering van dit wat gemeenskaplik is vir albei partye.

"Daar moet seker gemaak word dat albei partye die voorgestelde ooreenkoms begryp.

"Help deelnemers om hulle terugrapportering aan die lede wat hulle verteenwoordig, voor te berei.



Gedragspatrone word versterk deur rollespel - oefeninge waarin die deelnemers alternatief bestuurders en werkers is.



Die volgende beskrywing is betekenisvol:



The first session always takes some time, says Sutton. We start by telling them how to think when solving a problem as a group. Then we keep them doing role-playing exercises until the patterns of behaviour become automatic. At first they cannot see where they went wrong. But by the fourth exercise they can see if, for example, they have chosen the wrong solution because they settled too early. At the end of each exercise, the participants analyse their performance in terms of the appropriate list of desirable behaviours.



The number of exercises necessary varies according to the educational level of the participants, and the part of the course. If there is a high level of illiteracy among the black workers, the group finds it difficult to memorize things and cannot visualize the process as a whole. As a result, the managers' courses are shorter than those for the workers. The first session, on problem-solving, takes at least six and often ten role-playing exercises for most groups. Preparing a case and presenting a case take somewhat less. But negotiation, in which all the other three aspects are included, usually receives at least eight exercises.



Die kursusleiers (uit die personeelafdeling) help die deelnemers om hulle eie insette te analiseer en om te leer om te luister eerder as om hulle gewig rond te gooi.



Opmerkings



Tydens die opleiding van potensiële werkers sal 'n program soos hierdie sinvol in die vorm van nie-formele modules kon verloop. Werkers in die werkomgewing sal dan reeds in 'n mate paraat wees om deel te neem aan die onderhandelingsproses.



Dit is duidelik met hierdie stelling dat met opleiding van werkers om deel te neem aan vakbondbedrywighede daar geheel en al nie beoog word om die volgende te bereik nie: COSATU (Congress of South African Trade Unions) has launched an education programme that ...politicises, mobilises and conscientises the working class so that they play the leading role in the liberation of society... (Davies-Webb, 1987:47-67).



Politisering kan nie die hoofdoel van verantwoordelike opleiding (as vorm van onderwys) wees nie. Die opleiding gaan primêr om onderhandelingsvaardighede met dit wat as 'n moontlike opleidingsprogram in paragraaf 2.1 bespreek is.

Dit is geheel-en-al onverantwoordelik om opleiding in deelname aan vakbondbedrywighede te ignoreer en slegs te vereis dat daar doeltreffende kommunikasie moet wees met vakbondlede onder andere deur die verspreiding van inligting en deur te verseker dat daar effektiewe ledepartisipasie is. (Vakbonde moet "Workers' Education Departments" daarstel met die doel om werkers se bewusthede van die vakbondwese op te skerp).



Verder kan 'n National Advisory Committee and Workers Education waarby ook opleidingsinrigtings betrek word, in die lewe geroep word. So 'n komitee moet werkers se opleidingsprogramme wat werkers vanaf die onderste vlakke betrek, evalueer en keur en ook Regeringsfinansiering probeer verkry (Zimbabwe, Department of Research and Planning, 1984:73-74).



Opmerking:



Samewerking tussen opleidingsinrigtings en vakbonde word dus aanbeveel en 'n mens wonder of 'n Departement van Mannekrag nie hierin 'n beduidende aandeel sal kan neem nie. Plasing van alle mensekragopleiding onder jurisdiksie van die Departement Mannekrag sal hierdie sake aansienlik kan vergemaklik.



Die Departement Mannekrag is bewus daarvan dat daar by werknemers 'n behoefte bestaan om meer betrokke te raak by besluitnemingsprosesse veral met betrekking tot diensvoorwaardes en werkstoestande. 'n Groot aantal werknemers is nie meer tevrede met sentrale besluitneming deur persone wat nie regstreeks betrokke is by die probleme op die plaaslike vlak nie. Daar bestaan 'n behoefte aan meer regstreekse besluitneming (Departement van Mannekrag, 1984:100).



Gepaard hiermee moet raakgesien word dat daar 'n behoefte bestaan vir opleiding om paraat te word vir deelname aan besluitneming om sodanige deelname te aanvaar. Hierdie opleiding sal tydens die gewone werkeropleiding kan geskied, desnoods met implementering van nie-formele modules.



3.OPLEIDING IN NYWERHEIDSVERHOUDINGE (Wiehahn, 1982:155-156).



Suid-Afrika het 'n aansienlike agterstand op die gebied van nywerheidsverhoudinge. Ten aansien van opleiding wat wel gegee word, word regstellende optrede nodig geag ten einde



"opleiding aan te moedig

"gehalte van opleiers te verbeter

"'n eie karakter aan Suid-Afrika se opleiding te gee

"beheer uit te oefen en beïnvloeding uit te oefen oor die aard en gehalte van die opleiding



Navorsing oor nywerheidsverhoudinge, -opleiding en die verspreiding van inligting is 'n fundamentele saak. Nywerheidsverhoudinge het te make met 'n veelvuldigheid van verhoudinge en hul inhoud binne en voortspruitende uit die werksituasie en impliseer die bestaan van pole of voorwerpe waartussen bande of verhoudinge funksioneer.



Die vernaamste pole is:



"Staat, werkgewer, werknemer.

"Onderneming, taak wat verrig moet word, samelewing.

"Die verhouding tussen werknemers.



Die verhouding tussen werkgewer en werknemer kan as 'n binneverhouding beskryf word en is die primêre verhouding. Die verhouding tussen die staat en die werkgewer en die taak-werkgewerverhouding en verhoudings met die samelewing is van meer sekondêre aard.



Die meeste aangeleenthede wat in die nywerheidsverhouding vervat is, word gereël deur bedinging met ander woorde deur 'n onderhandelingsproses op 'n formeel georganiseerde basis.



Die werknemer word betrek by 'n multidimensionele kompleks van verhoudinge wat bestaan in en voortspruit uit die werksituasie in 'n organisatoriese konteks binne die parameters van 'n sosio-ekonomiese ideologie wat deur die staat bepaal word."



Die regte van die werker in hierdie bestel is die reg om te werk, om te assosieer, om arbeid terug te hou, om te ontwikkel, die reg op kollektiewe bedinging en op beskerming (Wiehahn, 1982:441-452).



Opmerking



Dit is byna ondenkbaar dat werknemers hierdie regte op verantwoordbare wyse sal kan beoefen as hulle nie tydens hulle loopbaanopleiding nie ook hierdie onderrig ontvang het, al sou dit by wyse van nie-formele modules wees.



Een besondere saak wat beroepsopleiding van enige aard sal raak (dus insluitende onderrig in nywerheidsverhoudinge) is die onderwyspeil van die beroepsbevolking wat vir 'n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse beroepsbevolking besonder laag is (Riekert, 1979:20). Dit beteken onder andere dat 'n stelsel van gedifferensieerde opleiding uitgewerk sal moet word.



Die Riekert-verslag (1979:84-87) meld dat die Departement van Onderwys en Opleiding 'n verskeidenheid van opleidingskemas en -skole tot stand gebring het wat die daarstelling van nywerheidsopleidingsfasiliteite vir die Swart werker ten doel het. In soverre daar na sillabusse en vakinhoude verwys word, is daar 'n totale afwesigheid van verwysings na opleiding in nywerheidsverhoudinge (resp. deelname aan vakbondbedrywighede). Dit word blykbaar nie as behoefte geïdentifiseer nie alhoewel daar by leerders ten spyte van 'n swak begrip van deelname aan die nywerheidsdemokrasie daar tog belangstelling daarvoor bestaan (Paul, 1979:10-13).



4.VAKBONDE: OPLEIDINGSPERSPEKTIEF



J P van der Merwe (1989 definieer 'n vakbond (vakvereniging) as 'n permanente organisasie van werkers in 'n sekere onderneming, nywerheid of bedryf wat gestig word met die doel om sake met betrekking tot ekonomiese belang, dit wil sê werkstoestande by wyse van die proses van gesamentlike onderhandeling tussen die vakbond en die werkgewers in die betrokke onderneming, nywerheid of bedryf te reël met die oog op 'n algemene verbetering in hulle arbeidslewe en algemene lewensstandaard, terwyl daar ook omgesien word na sake wat van sosiale en nasionale belang mag wees (p.10).



Wanneer hierdie definisie nou vanuit opleidingsperspektief beskou word, kan die volgende raakgesien word:



(i)opleiding om effektief deel te neem aan die organisasie, is 'n vereiste vir die gesonde lewenskragtigheid daarvan;



(ii)gesamentlike onderhandeling berus op die beskikbaarheid van onderhandelingsvaardighede waarvoor daar opgelei kan word. Van werkers wat deelneem aan die onderhandelingsproses word hoëvlakse vaardigheid verwag terwyl die ander werkers se begryping van die onderhandelingsproses as sinvolle ondersteuning kan dien;



(iii)Verbetering in die arbeidslewe impliseer onder andere relevante

opleiding om op die hoogste moontlike niveau deel te neem aan werksprosesse. Die beste moontlike opleiding van vakbondlede is 'n saak van belang vir die vakbond self;



(iv)'n saak wat van sosiale en nasionale belang is, is die begryping van vakbondlede van die aard en wese van die vakbondwese. Daar moet opgelei word vir verantwoordelike deelname aan vakbondbedrywighede sodat onder andere die misbruik van 'n vakbond teengewerk kan word.



J S Boshoff, (1990:100-101) maak spesifieke aanbevelings ten opsigte van die beroepsoriënteringspraktyk (wat opleiding voorafgaan):



"Kurrikulering ten opsigte van arbeidsverhoudinge met spesifieke verwysing na vakbonde, moet indringende aandag geniet. Vakbondoriëntering aan alle leerlinge moet op meer direkte wyse plaasvind.



"Eenvormige handleidings ten opsigte van die kurrikulums vir alle leerlinge is noodsaaklik. Subjektiewe beïnvloeding deur oriënteurs sal hierdeur bekamp word en dit sal ook eenvormige oriëntering aan alle leerlinge in die hand werk.



"Handboeke waarin die kurrikuluminhoude behandel word moet beskikbaar gestel word. Subjektiewe beïnvloeding deur oriënteurs sal sodoende bekamp word.



"Kurrikuluminhoud moet objektief aangebied word op so 'n wyse dat leerlinge soveel moontlik inligting ontvang wat hulle self kan verwerk ten einde standpunt in te neem. Leerlinge moet dus die nodige leiding ontvang, maar moet geensins geïndoktroneer word nie.



"Leerlinge moet voorsien word van betroubare bronverwysings sodat hulle self verder kan oplees oor aspekte wat vir hulle onduidelik is. Die geleentheid sal dus geskep word vir selfverryking asook eiemaking van kurrikuluminhoude.



"Vakbonde moet meer betrek word by opvoedingsinstansies sodat hulle aktief betrokke kan raak by die opvoeding en oriëntering van toekomstige lede. Sodoende kan wedersydse begrip en vertroue opgebou word en moontlike diskrepansie tussen teorie en praktyk voorkom word.



"Verteenwoordigers van vakbonde kan skole besoek ten einde hul funksies aan jeugdiges, ouers en beroepsoriënteurs bekend te stel. Wedersydse kwellinge en vrese kan sodoende die hoof gebied word.



Vakbonde het dus belang by opleiding en waar daar van belang sprake is, kom die kwessie van inspraak na vore. Die vraag is of daar arbeidswetgewing bestaan wat vakbonde se inspraak ten aansien van opleiding, reël.



5.VAKBONDE SE INSPRAAK TEN AANSIEN VAN OPLEIDING: WETGEWING



In die Wet op Mannekragolpleiding (No. 56 van 1981) word die term vakvereniging gebruik. Volgens artikel 1(xxxv) is 'n vakvereniging 'n vakvereniging wat geregistreer is of geag word geregistreer te wees ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge 1956 (xl). Artikel 1 (xl) beskryf 'n vakvereniging as enige aantal werknemers in 'n bepaalde onderneming, nywerheid, bedryf of beroep, wat verenig is met die doel, het sy alleen of saam met ander doelstellings, om verhoudings tussen hulle of party van hulle en hul werkgewer of party van hulle werkgewers in daardie onderneming, nywerheid, bedryf of beroep te reël.



Uit die begripomskrywing van vakvereniging kan daar geen direkte afleiding gemaak word dat vakverenigings hulle mag (kan) bemoei met opleiding nie, alhoewel die bepaling ander doelstellings tog die weg daartoe kan open.



Word daar nader ondersoek ingestel na die bepalings ten aansien van die instelling van 'n Nasionale Opleidingsraad (Artikel 3 Wet No. 56 van 1981), word die volgende opgemerk:



In Artikel 3(a) (b), is daar sprake van behoorlike verteenwoordiging van belange van onderskeidelik die Staat, werkgewers en werknemers met betrekking tot mannekragopleiding...., wat by implikasie die vakverenigings inspraak kan gee ten aansien van opleidingsaangeleenthede.



Artikel 4 gaan oor die werksaamhede van bevoegdhede van die Opleidingsraad. Artikel 4(1). Die raad moet



(a)Die Minister van advies dien oor



(i)beleidsaangeleenthede en

(ii)enige aangeleentheid betreffende opleiding.



Uit artikels 3 en 4 kan dus direk afgelei word dat vereniginge inspraak (adviserend) het ten aansien van opleidingsaangeleenthede.



Artikel 1 (xxv) bepaal nader wat met opleiding bedoel word: Opleiding (is) enige opleiding waarvan die besondere oogmerk is om enige persoon beter te bekwaam vir werk wat in of in verband met 'n nywerheid verrig word, en ook opleiding in arbeidsverhoudings.



Twee aspekte van opleiding, word beklemtoon:



(i)opleiding vir doeltreffende werkverrigting,

(ii)opleiding vir deelname aan arbeidsverhoudinge (wat impliseer opleiding in die verantwoordelike deelname aan vakbondbedrywighede.



Ander betekenisvolle verwysings na opleiding, in die Wet op Mannekragopleiding (Wet No. 56 van 1981) is die volgende:



(i)Artikel 33 bevat nadere bepalings oor opleiding in arbeidsverhoudinge. Slegs Vakverenigings, werkgewersorganisasies, federasies, nywerheidsrade of opvoedkundige inrigtings mag opleiding gee in arbeidsverhoudinge.



'n Vakvereniging mag dus self oplei in arbeidsverhoudinge maar kan ook byvoorbeeld 'n Tegniese Kollege versoek om dit vir hom te doen. So 'n Tegniese Kollege sal dan kursusse in arbeidsverhoudinge in die vorm van nie-formele modules kan aanbied. 'n Tegniese Kollege kan ook op eie inisiatief nie-formele arbeidsverhoudingskursusse aanbied.



Dit is verder ook moontlik vir 'n werkgewer wat opleiding in arbeidsverhoudinge aan sy eie werknemers wil verskaf om 'n Tegniese Kollege te versoek om dit by wyse van nie-formele modules vir hom te doen. So 'n werkgewer sal dan verantwoordelikheid moet aanvaar vir die nodige finansiering.



(ii)Artikel 13 handel oor die aanwysing en omskrywing van ambagte en leervoorwaardes. Aandag word gegee aan leervoorwaardes soos kwalifikasies, bevoegdheidstandaarde, en besoldiging van vakleerlinge per kursus.



Opmerking: Die Nasionale Opleidingsraad het in samewerking met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing ondersoek ingestel en verslae vrygestel oor:



(i)die opleiding van ambagsmanne in die RSA, en

(ii)vaardigheidsopleiding in die RSA, 1989.



Op albei die werkkomitees was verteenwoordigers van vakverenigings (vakunies).



Die volgende stap moet nou wees om te bepaal of vakbonde (vakverenigings, vakunies) in hulle beleidstukke verwys na hulle insprake ten aansien van opleiding.



6.VAKBONDE SE INSPRAAK TEN AANSIEN VAN OPLEIDING: BELEID



COSATU (Congress of South African Trade Unions) publiseer die volgende beleidsverklaring:



EDUCATION



This federation noting:

1.That the present education system in South Africa is designed to maintain the working class in ideological bondage.

2.That the present education system is designed to continue and reinforce the values, ideas and practices of the ruling clases.

3.That the present education system is aimed at fostering divisions and antidemocratic values within the working class.

4.That education is vital in the liberation struggle of the working class.

5.That education must serve the interests of the vast majority of people of the country.



Therefore resolves:

1.To establish a national, regional and local education programme for the federation to:

(a)ensure that this education programme politicises, mobilises and organises the working class so that they play the leading role in the liberation of our society and its transformation into an economic, social and political system that will serve the needs of those who are now oppressed and exploited.

(b)develop an understanding and capacity to wage our struggle by democratic means that will allow maximum participation, decision making power for workers both now and in the future society we wish to build.

(c)develop the human potential to the fullest and to create and transform skills and abilities so that they are accessible to the oppressed and exploited.

(d)develop the understanding among the working class that their struggle forms part of the world struggle against oppression and exploitation.

2.To establish a Federation newspaper which will:

(a)express the views and policies of the federation and its affiliates.

(b)record the struggles of the Federation and its affiliates.

(c)counter the dominance of the bosses' media by popularising democratic ideas, values and traditions among the working class.

3.To organise and commemorate the important cultural events and resistance days in the working class calendar, for example May Day and June 16 and Federation Day. (Cosatu Workers Diary, 1987)



In dieselfde Diary verskyn by Woensdag 5 Augustus 1987 die volgende inskrywing: Ma Baard: A trade union is a thing which our people must really understand.



'n Inskrywing by 1 Desember 1987 lui:

December 1 is Federation Day. It marks the launch of COSATU. In the inaugural address to the Congress Cyril Ramaphosa said: 'It is also important to draw people into a programme for the restructuring of society in order to make sure that the wealth of our society is democratically controlled and shared by its people. It is important to realise that the political struggle is not only to remove the government. We must also eliminate unemployment, improve education and health facilities and the wealth of the society must be shared amongst all those that work in this country. Is is important that the politics of the working class eventually become the politics of all the oppressed people of this country'.



COSATU is dus ingestel op education en dat dié education aandag moet gee aan:



(i)begryping van die vakbondwese,

(ii)opheffing en ontwikkeling van die working class deur onderwys,

(iii)die onderwys moet gepolitiseer word. (Kyk ook Bird, 1991)



Daar kan tot die gevolgtrekking gekom word dat vakbonde inspraak sal wil hê vir opleidingsprogramme (en by implikasie kurrikulering daarvoor).



VERWYSINGS



Bird, A. 1991. Negotiation for change: The COSATU view of changes needed

in the provision of adult education and training in South Africa.

Mannekragontwikkeling vir die nuwe Suid-Afrika. Nasionale Simposium 2-4

Oktober 1991. Volume 1.



Boshoff, J.S. 1990. Vakbonde uit 'n beroepsoriënteringsperspektief.

Ongepubliseerde M.Ed.-verhandeling. Universiteit van Pretoria.



Clutterbuck, D. 1976. Teaching workers how to negotiate. International

Management, October, vol. 31, no. 10.



COSATU 1987. Resolutions adopted at inaugural Congress, Johannesburg.

COSATU.



Davies-Webb, W. 1987. Cosatu: An institutional analysis. Southern

African Freedom Review, vol. 1, nr. 2, Spring.



Departement van Mannekrag. 1984. Nasionale Mannekragkommissie: Verslag

oor 'n ondersoek na die verskillende vlakke van kollektiewe bedinging en

werkerrade, die registrasie van vakbonde en werkgewersorganisasies en

verwante sake en die Nywerheidshof. Verslag 3/1984. Republiek van

Suid-Afrika.



Kester, G. 1987. The challenge of workers' participation. Institute of

Social Studies, The Hague, Netherlands. Federation of Dutch Trade

Unions: The Hague.



Paul, L. 1979. Sixteen-year-old's image of work. Personnel Review, vol.

8, nr. 1, Winter.



Riekert, P.J. (voorsitter) 1979. Verslag van die Kommissie van Ondersoek

na Wetgewing rakende die benutting van mannekrag. Staatsdrukker.

Privaatsak X85, Pretoria, 0001.



Van der Merwe, J.P. 1989. Die invloed van vakbonde op die finansiële

komponent van ondernemings in die Suid-Afrikaanse Mynbousektor.

Ongepubliseerde M.Ed-verhandeling. Randse Afrikaanse Universiteit.



Wiehahn N.E. (voorsitter) 1982. Die volledige Wiehahn-verslag met

aantekeninge deur prof N.E. Wiehahn. Dele 1-6 en die Witskrif op elke

deel. Johannesburg: Lex patria.



Zimbabwe, Department of Research and Planning. 1984. Labour and Economy.

Report of the National Trade Unions Survey. Ministry of Labour,

Manpower, Planning and Social Welfare. Harare.





--- oOo ---