Professor W A Landman


Terug na titels van publikasies

Terug na Tuisblad

DIE TEGNIESE KOLLEGE AS OPLEIDINGSMODEL

W A LANDMAN
INSTITUUT VIR OPVOEDKUNDIGE NAVORSING
UNIVERSITEIT VAN SUID-AFRIKA
Posbus 392
Pretoria 0001

1.  INLEIDEND

Die uitgangspunt vir die organisering en operasionalisering van opleidingsprogramme moet wees

(i) eerstens maksimale aanwending van bestaande strukture (organisasies, inrigtings)

(ii) daarna uitbreiding van (i)

(iii) laastens die skep van nuwe strukture.

Dit is finansieel verantwoordelik om alle bestaande strukture te evalueer in terme van die maksimale gebruik daarvan voordat daar verder beweeg kan word. Soms is die opgradering van bestaande strukture 'n sinvolle belegging. So kan daar byvoorbeeld gekyk word na welke Tegniese Hoërskole opgegradeer kan word tot Tegniese Kolleges en dan verder welke Tegniese Kolleges hulle leen vir opgradering na Technikons.

Wanneer daar gekyk word na die volgende syfers, kan daar die afleiding gemaak word dat (veral wat swartes betref) dit sinvol en haalbaar mag wees om 'n program vir opgradering van Tegniese Kolleges na Technikons aan die gang te sit. Waar opgegradeerde Tegniese Kolleges 'n leemte laat kan daar gekyk word na die opgradering van Tegniese Hoërskole (of soortgelyke fasiliteite) na Tegniese Kolleges.

TECHNICAL COLLEGES, INSITITUTES AND TECHNIKONS

PROVISION OF TECHNICAL EDUCATION BY RACE GROUP*

(No. of students in brackets)

Technikons Technical Colleges

Africans 3 (1 604) 43 (n/a)

Coloureds 1 (2 765) 7 (8 648)

Indians 1 (3 680) 2 (4 300)

Whites 8 (51 069) 72 (115 835)

* Figures from 1985 - 1987 to provide composite picture

(Source: Indicator SA; Vol. 5 No. 3; 1988; p.44 & SAIRR Yearbook; 1987/88; p.176) (Sached, 1990:37).

Die voorgaande stellings berus vanselfsprekend op die geslaagdheid daarvan om tegniese onderwys aan die massa leerders te verkoop. Een van die verkoopvoorwaardes sal beslis 'n hoë mate van waarborg vir indiensneming (werkplasing) wees wat hoofsaaklik 'n ekonomies-maatskaplike vraagstuk is.

Die verryking van elke tipe tegniese opleidingsinrigting in sy eie reg is op sigself noodsaaklik en is finansieel verantwoordelik. Een wyse van verryking is die operasionalisering en uitbouing van raakvlakke tussen formele onderwys (FO) en nie-formele onderwys (NFO). In hierdie paragraaf sal daar ten aansien van Tegniese Kolleges aan hierdie saak aandag gegee word.

Twee sake verdien besondere aandag:

(1) Tegniese Kolleges as institute vir nie-formele onderwys.

(2) Tegniese Kolleges as vennote in kurrikulumontwikkeling vir nie-formele onderwys.

In vraagvorm gestel:

* Op grond waarvan kwalifiseer die Tegniese Kollege as instituut vir nie-formele onderwys?

* Waarom kan die Tegniese Kollege beskou word as instituut wat by uitstek geskik is vir die sinchronisering van formele tegniese onderwys (FTO) en nie-formele tegniese onderwys (NFTO)? Anders gevra: Waarom het Tegniese Kolleges die potensiaal om te dien as inrigtings vir raakvlakoperasionalisering ten aansien van FO en NFO?

* Wat behels die Tegniese Kollege se vennootskap in die kurrikulumontwikkeling vir nie-formele tegniese onderwys?

2.  WAT IS 'N TEGNIESE KOLLEGE?

'n Tegniese Kollege is 'n inrigting vir naskoolse onderwys, onderrig en opleiding -

(a) wat verskaf word met die oog op die uitoefening van 'n beroep of die ontwikkeling van 'n sosiale of ontspanningsvaardigheid; en

(b) wat hoofsaaklik bedoel is vir persone wat nie ingevolge 'n bepaling van een of ander wet aan skoolplig onderworpe is nie of wat van so 'n bepaling vrygestel is; en

(c) wat by die toepassing van 'n bepaling van een of ander wet met betrekking tot skoolplig geag 'n skool ooreenkomstig die bedoeling van daardie wet te wees, en iemand wat ingevolge daardie wet verplig is om 'n skool by te woon en wat 'n tegniese kollege gereeld en op 'n heeltydse grondslag bywoon word geag aan al die vereistes met betrekking tot sodanige skoolplig te voldoen. (RSA, 1981 Artikel 3 en woordverklaring).

Kommentaar

1. Formele en nie-formele onderwys wat betekenis het vir beroepsbeoefening kan aan 'n Tegniese Kollege aangebied word aan nie=skoolpligtige en skoolpligtige persone; ook aan nie-skoolpligtige persone wat nog leerpligtig is.

2. Nie-formele onderwys met sosiale en ontspanningsbetekenis kan aangebied word.

3. Om betekenis te hê vir beroepsbeoefening sal nie-formele onderwys aan 'n tegniese kollege 'n sinvolle afronding en aanvulling vir formele tegniese onderrig moet bied; en selfstandige beroepsbeoefeningbetekenis moet hê, wat impliseer dat kurrikulering spesifiek met die oog op beroepsbeoefening; en skakeling met die private sektor as werkgewer moet geskied.

3.  DIE BEGRIP NIE-FORMELE ONDERWYS

(i) Nie-formele onderwys is onderwys wat bepland en hoogsaanpasbaar verloop in inrigtings, organisasies en situasies wat buite die formele onderwys en informele onderwysvoorsiening val, byvoorbeeld indiensopleiding in die werksituasie (RGN, 1981:93-94).



Kommentaar:



(i) Die Tegniese Kollege het waardevolle ervaring met beplanning vir en aanpassing van kursusse vir nie-formele onderwys.



(ii) Die Tegniese Kollege kan georganiseerde en sistematies geselekteerde leerervarings in nie-formele onderwysopset aanbied aan beide volwassenes en kinders (skoolpligtiges).



(iii) Die Tegniese Kollege kan sinvol kurrikuleer vir

geselekteerde leerervarings in beide formele en nie-formele afdelings.



(iv) Tegniese Kolleges se ervaring met skakeling met die private sektor kan lei tot relevante beroepsopleiding en die organisasie van werkervaring vir leerders. Daar kan ook 'n besondere bydrae gemaak word ten aansien van kurrikulering vir beroepsbetekenisvolle leer- en werkervaringe.



(v) Die Tegniese Kollege is by magte om hom in te stel vir hoë status nie-formele onderwys en om deel te neem aan die kurrikulering daarvoor.



(ii) In die Handleiding vir die hantering van naskoolse onderwys by Tegniese Kolleges word nie-formele onderwys gedefinieer as onderwys wat volgens 'n beplande program aangebied word, maar nie lei tot die verwerwing van 'n erkende Nasionale Sertifikaat nie. (Departement Onderwys en Kultuur, 1987:25).



Kommentaar:



Die klem op beplande open die moontlikheid dat daar vir nie-formele programme wetenskaplik gekurrikuleer sal kan (moet) word.



Die moontlikheid van sertifisering van nie-formele kursusse word nie uitgesluit nie. 'n Kollegeraad sal self moet besluit oor die wyse van sertifisering en hoe hy te werk sal gaan om sy sertifisering erken te kry in die gemeenskap (insluitende Handel en Nywerheid) wat hy bedien.



Die kwaliteit van die kurrikulering sal 'n baie belangrike bepaler wees van die aanvaarding van die sertifisering. Nou hiermee hang saam die Kollegeraad se bemarking van sy nie-formele kursusse.



In hierdie verband is die volgende beskrywing van nie-formele kursusse in die Handleiding betekenisvol: Die kursusse is hoogs aanpasbaar en is soms die voorloper tot 'n volwaardige kursus in formele onderwys. Dit beteken dat nie-formele kursusse wat hulle waarde en standaard bewys, mettertyd as formele kursusse verklaar kan word.



Die bepaling hoogs aanpasbaar sal vir die Tegniese Kollege van die toekoms ook moet beteken aanpasbaar ten aansien van werkvereistes waaraan formele tegniese onderwys nie (kan) voldoen nie. Dit beteken dat werkontledings kan dien as sinvolle vertrekpunt vir kurrikulering vir aanpasbare nie-formele kursusse. Die betrokke beskrywing dui ook op deurstromingsmoontlikhede (raakvlakke) tussen die formele en nie-formele afdelings van 'n Tegniese Kollege.



Die voorskrif dat nie-formele Tegniese Kollege-kursusse selfonderhoudende (p.25) kursusse moet wees, is besonder sinvol aangesien dit die behoud en uitbou van die kolleges kan waarborg vanweë die feit dat dit deur die betrokke leerders self gefinansier word.

4.  KURRIKULERING VIR TEGNIESE KOLLEGES

Op hierdie stadium is dit van pas om enkele opmerkings te maak oor kurrikulering vir Tegniese Kolleges:



(a) Wetenskaplik verantwoordbaar



In die Tegniese Kollege gaan dit om onderwysinhoude wat op formele en nie-formele wyse aangebied moet word na wetenskaplik verantwoorde kurrikulering. Die kurrikulering vir nie-formele tegniese onderwys (NFTO) moet van so 'n gehalte wees dat dit daartoe sal meewerk dat dié kursusse eventueel erkenning as formele kursusse sal kan kry. Kurrikulumbeplanning in die lig van wetenskaplik verantwoorde beginsels en kriteria moet aan die Tegniese Kollege lei tot effektiewe formele en nie-formele onderwys.



(b) Doelgerigtheid



Aan die Tegniese Kollege moet in die doelgerigte en sistematiese beplanning van die verbetering van leerprogramme met praktykbetekenis rekening gehou word met beide formele en nie-formele moontlikhede. Daar moet skerp kennis geneem word van die eise vanuit die private sektor (werklewe) en hierin kan werkontledings 'n besondere funksie verrig.



(c) Doeltreffendheid



Aan die Tegniese Kollege is besondere kriteria vir beoordeling van kuurrikulêre effektiwiteit (doeltreffendheid) doelstellings wat blyk uit werkontledings. Sommige van hierdie doelstellings sal die beste in die formele afdeling en ander weer in die nie-formele afdeling van die Tegniese Kollege verwerklik kan word.

5.  VERWYSINGS NA TEGNIESE KOLLEGES IN DIE WITSKRIF OOR ONDERWYSVOORSIENING IN DIE RSA, 1983

(a) Verwysings



Die inskakeling en uitbouing van nie-formele onderwys in die onderwysstelsel van die Republiek van Suid-Afrika as moontlike oplossing van onderwysprobleme, figureer skerp in die Witskrif oor Onderwysvoorsiening in die RSA. 1983.



(b) Kommentaar:



1. Tegniese Kolleges word uitgesonder as die sinvolste plek vir beplande aanbieding van nie-formele onderwys. Beplanning verwys onder andere na kurrikulering en die opstel van programme asook na doelbewuste benutting van raakvlakke tussen FO en NFO.



2. Die Tegniese Kollege is in staat daartoe om formele en nie-formele bedrywighede met mekaar te sinchroniseer, d.w.s. om die raakvlakke wat bestaan te benut.



3. Sinchronisering van formele en nie-formele onderwys kan daartoe lei dat die Tegniese Kollege 'n volwaardige loopbaaninstituut kan wees. Hier word veral gedink aan horisontale deurbeweging wat tydens loopbaanopleiding bewerkstellig kan word en 'n natuurlike oorgang van skoolplig (Tegniese Kollege se formele been) na die daaropvolgende leerplig (Tegniese Kollege se nie-formele been) asook Kollege-opleiding na voltooiing van leerplig (formele en nie-formele opleiding).

6.  BRUGMODULE BY DIE UITTREEPUNT UIT DIE FORMELE ONDERWYS (RSA, 1983:25-26 WITSKRIF)

(a) Brugmodule



Die Regering aanvaar in beginsel die aanbeveling vir 'n brugmodule wat na die basiese onderwys sal dien as begeleiding tot die nie-formele onderwys en/of die beroepslewe vir persone wat op daardie stadium die formele onderwys verlaat.



(b) Kommentaar:



1. In 'n Tegniese Kollege sal dit betreklik maklik wees om 'n formele kursus wat hy self aanbied af te rond sodat daar sinvol beweeg sal kan word na die nie-formele Tegniese Kollege-opleiding wat 'n aanvullende opleiding kan wees met die oog op groter beroepsdoeltreffendheid. Dit is so omdat daar presies vasgestel sal kan word welke begeleiding en afronding nodig is en wanneer die afronding so 'n peil bereik het dat uittrede uit die formele Tegniese Onderrig realisties sal wees.



2. Die Tegniese Kollege sal vanweë die deskundigheid van sy lede (veral bestuurspersoneel) sinvol begeleidingswerk kan doen ten aansien van leerders se inskakeling by die beroepswêreld na voltooiing van die nie-formele Tegniese Onderwys (par. 7.4.2(c) van die Witskrif).



3. Die Tegniese Kollege sal betekenisvol daartoe in staat wees om die kurrikulering vir sy formele en nie-formele bene te sinchroniseer sodat onder andere onnodige duplisering en fragmentering uitgeskakel sal kan word en die beroepsbekwaamheid van sy leerders aansienlik kan verhoog. Dit is eintlik raakvlak-operasionalisering waarom dit hier gaan.

7.  HORISONTALE DEURBEWEGING (RSA, 1983:26-27 WITSKRIF)

Die volgende kommentaar ten aansien van die wisselwerking tussen formele en nie-formele onderwys aan Tegniese Kolleges, is ter sake:



(i) Herdefiniëring



Definiëring en herdefiniëring van formele onderwys en nie-formele onderwys wanneer albei onder dieselfde dak beoefen word, sal voortdurend skerp en effektief kan geskied. Die neerslag van hierdie definiëring in kurrikula sal ook makliker voltrek en geëvalueer kan word. NFTO as versterking van beroepsbeoefeningbekwaamheid is hier van besondere betekenis.



(ii) Verskuiwing



Verskuiwing vanaf formele onderwys na nie-formele onderwys en omgekeerd binne 'n Tegniese Kollege sal maklik bewerkstellig kan word. Nie-formele kursusse moet voortdurend evalueer word met die oog op die ontwikkeling daarvan tot volwaardige formele kursusse. Die kurrikulering wat sodanige ontwikkeling kan stimuleer moet 'n voortdurende aktiwiteit (proses) wees.



(iii) Aanpasbaarheid



Nie-formele kursusse wat in Tegniese Kolleges aangebied word beskik oor die moontlikhede om toe te neem, veral in die sin dat aanverwante kursusse maklik ingestel kan word. Dié toename kan aangehelp word wanneer werkgewers raaksien dat NFTO betekenisvol bydra tot 'n toename in beroepsbekwaamheid.

8.  TEGNIESE EN BEROEPSONDERWYS (LOOPBAANONDERWYS) (RSA, 1983:36-38 WITSKRIF)

Die volgende kommentaar is relevant:



(a) NFO en loopbaanopleiding



Nie-formele onderwys besit die moontlikheid om meer toegespitste spesifieke loopbaanopleiding te word. Dit beteken dat kurrikulumontwikkeling ingestel moet wees op die verheffing van nie-formele onderwys se beroepsbeoefeningbetekenis. Hierdie stelling impliseer dat 'n besondere navorsingsweg gevolg sal moet word. Dit is die weg van werkontleding tot nie-formele onderwys.



(b) Stabiliteit



Die Tegniese Kollege beskik vanweë sy infrastruktuur oor die potensiaal om enige onstabiliteit in nie-formele onderwys te voorkom en uit te skakel. Verder is die Kollege daartoe in staat om voortdurende opleiding te verseker wat nie beïnvloed hoef te word deur wisselinge in die ekonomie nie.



(c) Publisiteit



Die Tegniese Kollege beklee die ideale posisie om weerstand teen tegniese onderwys te verminder en selfs te vernietig. Die Kollege sal vrugbaar kan deelneem aan programme om tegniese onderwys in die regte perspektief te stel. Die deelname sal egter goed beplan moet word en huidige pogings sal verskerp moet word.



(d) Balans en mannekragbehoeftes



Toekomstige kurrikulumontwikkeling van Tegniese Kolleges sal rekening moet hou met die inbou van algemeen vormende aktiwiteite in die loopbaanonderwys wat hy aanbied. Hierdie aktiwiteite sal geïdentifiseer moet word en sinvol ingeskakel moet word in opleidingsprogramme. Verder moet in gedagte gehou word dat loopbaanonderwys as sodanig algemeen vormend is. In hierdie verband sal daar ook skerp gekyk moet word na die didaktiese riglyne in die betrokke sillabusse.

9.  KURRIKULUMDIENSTE (pp.41-42 WITSKRIF 1983)

Die volgende is tersaaklike kommentaar:



(a) Situasie-analise



Situasie-analise ten aansien van nie-formele tegniese onderwys sal onderneem moet word ten einde die essensiële daarvan uit te lig. In die lig van hierdie essensies sal die volgende onderneem moet word:



(i) Skerp doelwitformulering sodat doelwitopleiding realisties kan geskied. Doelwitopleiding het behalwe opleidingswaarde, besondere vormende waarde veral vanweë die dissiplineringswaarde daarvan.



(ii) Duidelike identifisering van betekenisvolle leerervaringe vir die nie-formele onderwysleerders, veral daardie ervaringe wat te make het met verskerping van beroepsbeoefeningbekwaamheid.



(iii) Bepaling van relevante (beroepsbetekenisvolle) inhoude

as inhoude wat spesifiek toegespits is op doeltreffender beroepsbeoefening.



(iv) Leersituasie-ontwerp sodat doelwitopleiding effektief kan geskied.



(v) Evaluering, veral in terme van beroepseffektiwiteit.



(b) Navorsing



Belanghebbendes by kurrikulering vir nie-formele tegniese onderwys sal eers geïdentifiseer moet word en daarna sal beplan moet word vir gesamentlike kurrikulumnavorsing, kurrikulumontwerp en kurrikulumontwikkeling.



(c) Behoeftebepaling



Kurrikulering vir nie-formele tegniese onderwys moet as 'n besondere hedendaagse behoefte raakgesien word, veral wanneer die kurrikulering afgestem moet wees op die bydrae wat NFTO moet maak tot groter beroepseffektiwiteit.



(d) Gebruikersinspraak



Tegniese Kolleges moet in georganiseerde verband geleentheid kry tot inspraak ten aansien van kurrikulumnavorsing, -ontwerp en -ontwikkeling (ook met betrekking tot nie-formele tegniese onderwys en die raakvlakke wat dit het met formele tegniese onderwys).



(e) Diens



Kurrikuleringsaktiwiteite ten aansien van nie-formele onderwys sal moet sinchroniseer met kurrikuleringsaktiwiteite van formele onderwys en dit is juis moontlik omdat daar raakvlakke bestaan tussen FO en NFO. Hierdie sinchronisering kan besonder sinvol geskied in Tegniese Kollege-opset omdat formele onderwys en nie-formele onderwys onder dieselfde dak verkeer.



(f) Prosedures



Prosedures vir kurrikulumnavorsing in nie-formele tegniese onderwys sal aangepas moet word met die oog op die effektiefste wyse van toepassing in nie-formele onderwyssituasies.



Die volgende moontlikhede moet ook sterk oorweeg word:



(i) Identifisering van sekondêre skole wat die potensiaal het om evolusionêr te ontwikkel tot Tegniese Kolleges.



(ii) Evaluering van bestaande kursusse aan sekondêre en primêre skole met werkontledings as kriteria ten einde te bepaal of skerper beroepsgerigtheid van skoolvakke nie moontlik is nie, sonder om die beklemtoning van die vormende waarde van daardie vakke af te water.



(iii) Die idee van buite-kampusse vir Tegniese Kolleges moet

beslis oorweeg word aangesien op die wyse tegniese onderrig nader aan die gemeenskap gebring word. Daar kan in hierdie verband moontlik begin word met die nie-formele afdeling van 'n Tegniese Kollege.

10.  SAMEHANG TUSSEN FORMELE EN NIE-FORMELE ONDERWYS IN TEGNIESE KOLLEGES

(a) Uitleg



Volgens die verslag van die Wetenskapkomitee van die Presidentsraad (Presidentsraad, 1984, moet doelgerigte pogings aangewend word om skakeling tussen formele onderwys en nie-formele onderwys te bewerkstellig. As motivering word gestel dat daar onderlinge verbande d.w.s. raakvlakke tussen hierdie twee onderwysvorme is, hulle afhanklik van mekaar is en dat die verband daarom bevorder moet word. Bevordering van die verband kan betreklik maklik aan Tegniese Kolleges gebied word waar albei hierdie onderwysvorme onder dieselfde dak aangebied kan word.



Die Wetenskapskomitee is egter voorwaardelik ten gunste van 'n benadering van integrering van formele en nie-formele onderwys, naamlik dat die buigsame aard van nie-formele onderwys, die belangrikste bate daarvan, behoue moet bly. Waar albei in dieselfde instelling (Tegniese Kollege) beoefen word, is hierdie integrasie (deurstroming) byna 'n vanselfsprekende saak.



Ter ondersteuning van hierdie gedagte kan gemeld word dat Unesco ook reeds gedurende 1972 beweer het dat die kunsmatige en uitgediende skeiding tussen formele en nie-formele onderwys opgehef moet word. Hierdie opheffing sal aan 'n Tegniese Kollege sinvol kan geskied.



Wat hier raakgesien moet word, is dat die sentrale begrip waarom dit gaan, onderwys is en dat die voorvoegsels, naamlik formele en nie-formele, slegs 'n aanduiding is aan watter afdeling van die Tegniese Kollege die onderrig geskied. Wanneer van 'n opheffing van skeiding tussen die twee onderrigsvorme gepraat word, beteken dit dat toereikende onderwys aan die leerder beide vorme van onderwys kan insluit.



Die integrering van formele en nie-formele onderwys, oftewel die deurstroming tussen hierdie twee onderwysvorme is reeds aan die orde van die dag by Tegniese Kolleges.

12.  AKKREDITERING EN SERTIFISERING VAN NIE-FORMELE ONDERWYS AAN TEGNIESE KOLLEGES

(a) Uitleg



Elke opleidingsinrigting strewe na die maksimale erkenning van sy opleiding deur instansies wat vir daardie inrigting belangrik is in terme van die sin van sy bestaan. Hierdie instansies verleen as't ware bevoegdheid aan 'n bepaalde inrigting om opleiding te onderneem. Die inrigting weer sal op een of ander wyse wil verklaar dat sy opleiding aan besondere gestelde vereistes voldoen. Hy (of 'n beherende instansie wat oor hom wetlike toesig het) wil sertifiseer dat hy die bevoegdhede wat erken word, gerealiseer het. Hierdie aanloop bring 'n mens midde in die problematiek van akkreditering en sertifisering.



(b) Millard, R M (1983:9-28)



Millard se uiteensetting van akkreditering eerstens as 'n toestand, tweedens as 'n proses en derdens as 'n gemeenskaplike aktiwiteit:



(i) Akkreditering as 'n toestand dui op die status wat aan 'n opvoedkundige/onderwysinrigting of program toegeken word wanneer 'n portuurgroep (insluitende professionele verteenwoordigers en verteenwoordigers van die publiek) bevind dat die betrokke inrigting/program voldoen aan gehalte- en verrigtingskriteria;



(ii) Akkreditering as 'n proses het twee sake in die oog , naamlik om te getuig van die kwaliteit van die instansie/program, en hulp ter verbetering van daardie kwaliteit;



(iii) Akkreditering as gemeenskaplike aktiwiteit, die saamwerk van akademiese en professionele gemeenskappe, behels om:

- standaarde te ontwikkel en te valideer

- die toereikendheid van hul eie praktyke te evalueer

- portuurgroepbeoordeling en voorligting aan te bied ten einde studente en die publiek van die integriteit en gehalte van die onderwys te oortuig.



(c) Definisie van sertifisering



Gilley, J W en Galbraith, M W (1986:60-61)



Gilley en Galbraith definieer sertifisering as ...the process by which a professional organization or an independent external agency recognizes the competence of individual practitioners. Sertifisering kan hiervolgens dan beskryf word as 'n prosedure waardeur 'n verklaring by wyse van 'n sertifikaat deur 'n inrigting of 'n groep inrigtings of 'n daartoe gemagtigde instansie of liggaam uitgereik word dat 'n persoon voldoen het aan al die vereistes wat met betrekking tot 'n bepaalde kwalifikasie geld.



Uit die voorgaande kan afgelei word dat waar akkreditering te make het met die evaluering van onderrigprogramme, dit by sertifisering gaan om die evaluering van die bekwaamhede of vaardighede van individue.



(ii) Sertifisering in die geval van Tegniese Kolleges



Die Wet op Tegniese Kolleges, 1981 (Wet 104 van 1981) magtig nie Tegniese Kolleges om self te eksamineer en te sertifiseer ten aansien van formele kursusse nie. Hierdie funksie berus by die Departement van Onderwys en Kultuur (Administrasie Volksraad) vir Blanke Tegniese Kolleges, en dieselfde Departement verrig die eksaminerings- en sertifiseringsfunksie op agentskapbasis vir Tegniese Kolleges van die ander bevolkingsgroepe. Alle studente volg dieselfde formele kursusse/sillabusse en skryf dieselfde eksamens. Hierdeur word eenvormigheid van standaarde verseker. Die praktyk het in die verlede bewys dat ten einde die aanvaarbaarheid van die kwalifikasies te verseker, sowel die werkgewers as die kandidate een eksamen verkies wat deur een sentrale eksaminerende liggaam vir alle bevolkingsgroepe afgeneem word. Wat kursusse in die nie-formele afdeling van 'n Tegniese Kollege betref, word eksamens intern afgeneem en reik die Kollegeraad sertifikate uit. Daar is nie gemeenskaplike sillabusse ten aansien van nie-formele kursusse nie en derhalwe ook nie eenvormigheid van standaarde vir soverre dit die kursusaanbieding in die nie-formele afdelings betref nie. Omdat kurrikulering, eksaminering en sertifisering op eie inisiatief geskied, kan afgelei word dat sertifikate beperkte erkenning sal geniet.



Kommentaar:



Kollegerade kan in samewerking met en op advies van hulle Studierade die hele aangeleentheid van akkreditering hanteer. Vooraf sal egter deeglike kurrikulering onderneem moet word ten einde te verseker dat nie-formele kursusse ontwerp sal word wat bruikbaar en aanvaarbaar sal wees vir die nywerhede in die bedieningsgebied van die betrokke Tegniese Kollege.



Studierade sal 'n deeglike studie moet onderneem van die riglyne vir die instelling en bedryf van die stelsel van akkreditering deur die Departement van Mannekrag (1986) op die eerste vlak asook van die riglyne vir die instelling en bedryf van die stelsel van akkreditering deur 'n Raad in Nywerheidsopleiding op die tweede vlak. In die lig van hierdie studie sal Kollegerade geadviseer moet word.



Wat die nie-formele onderwyssektor betref, wat ook die nie-formele afdeling van Tegniese Kolleges insluit, blyk dit dat akkreditering tans nie bestaan nie en verder dat sertifikate wat in die voormelde sektor uitgereik word, beperkte erkenning geniet.



Om die gehalte van opleiding/programme in die nie-formele afdelings van Tegniese Kolleges te verseker, beteken dat akkrediteringsliggame binne die nie-formele onderwys gekonstitueer moet word wat die opleiding/programme in die nie-formele afdelings kan akkrediteer - 'n voorbeeld van sodanige akkrediteringsliggame is die voorgestelde Nywerheidsrade vir Ambagsmanopleiding. 'n Soortgelyke liggaam of liggame kan gekonstitueer word wat die handel betref.



Die verlening van status en erkenning aan sertifikate wat deur kollegerade ten aansien van opleiding/programme in die nie-formele afdelings van Tegniese Kolleges uitgereik word, kan bewerkstellig word deur die akkreditering van Kollegerade deur die S A Sertifiseringsraad om eksamens af te neem en sertifikate in die naam van die Sertifiseringsraad uit te reik. By implikasie sal daar 'n noue verbintenis tussen die Sertifiseringsraad en die akkrediteringsliggame vir die handel en die nywerheid moet wees.



Die akkreditering en sertifisering van die opleiding/programme in nie-formele afdelings van Tegniese Kolleges vereis aanvaarbare kurrikulering wat beteken dat kurrikula relevant moet wees en in die gedifferensieerde behoeftes van gebruikers moet voorsien. Aanvaarbaarheid van kurrikula impliseer dat sowel die handel en die nywerheid as die Sertifiseringsraad inspraak by die ontwerp en ontwikkeling van kurrikula vir nie-formele afdelings moet hê.



Die raakvlakke wat daar bestaan tussen FTO en NFTO, veral wanneer albei onder dieselfde dak aangebied word bied die volgende twee moontlikhede: (Landman, van der Merwe, 1989)



1. Eerste moontlikheid



Afronding van formele kursusse (Kursusse met N-sertifisering) deur NFTO (kursusse met interne sertifisering) waardeur beroepsbeoefeningbevoegdheid verskerp word.



2. Tweede moontlikheid



Opgradering van nie-formele kursusse deur bywerking van bykomende nie-formele modules spesifiek met die oog daarop om persone geskik te maak om doeltreffend te opereer in die informele sakesektor (wat in die toekoms met rasse skrede gaan toeneem in belangrikheid).



Die Studieraad is die instansie wat vir 'n bepaalde Kollege hierdie twee moontlikhede die beste sal kan operasionaliseer en organiseer. Een wyse om dit te doen is deur middel van studiekomitees wat diepgaande situasie-analises sal moet doen gepaard met behoeftebepaling en marknavorsing.







VERWYSINGS



Departement van Mannekrag 1986. Nasionale Opleidingsraad: Riglyne vir die akkreditering van opleiding. RP 111/1986. Pretoria.



Departement van Onderwys en Kultuur (Administrasie: Volksraad) 1987. Handleiding vir die hantering van naskoolse onderwys by Tegniese Kolleges. Pretoria.



Gilley, J.W., Galbraith, M.W. 1986. Examining professional certification. Training and Development Journal. Vol. 40(6).



Landman, W.A. & van der Merwe, J. 1989. Tegniese Kolleges: Kurrikulumontwikkeling vir nie-formele onderwys. Verslag uit die navorsingseenheid: Nie-formele Onderwys, Universiteit van Pretoria, Projekleier: F.v.d. Stoep.



Millard, R.M. 1983. Accreditation. New Directions for Higher Education No. 43 vol. 11(3).



Presidentsraad 1984. Wetenskapskomitee van die Presidentsraad: Verslag van informele en nie-formele onderwys in Suid-Afrika. Staatsdrukker. Kaapstad.



Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) 1981. Onderwysvoorsiening in die RSA. Verslag van die Hoofkomitee, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Pretoria.



Republiek van Suid-Afrika (RSA) 1981: Wet op Tegniese Kolleges (Wet no. 104 van 1981. Staatskoerant Vol. 197 (7884). Kaapstad.



Republiek van Suid-Afrika (RSA) 1983: Witskrif oor onderwysvoorsiening in die RSA. Staatsdrukker. Pretoria. Vrygestel 23 November 1983.


--- oOo ---