Terug na titels van publikasies
Terug na Tuisblad
AANWENDING VAN DIE EIE ERVARING IN 'N NAVORSINGSVERSLAG
(WERKSTUK, SKRIPSIE, VERHANDELING, PROEFSKRIF)
W A Landman
Instituut vir Opvoedkundige Navorsing
Universiteit van Suid-Afrika
INLEIDEND
Baie nagraadse studente in die opvoedkunde beskik oor waardevolle
ervaring. Dié ervaring kan betekenisvol daartoe bydra om navorsing te
verryk. So kan daar byvoorbeeld op grond van die eie ervaring vrae
ontstaan. Wanneer dié vrae geformuleer, saamgevoeg en georden word, kan
'n probleemstelling ontstaan. Die eie ervaring kan ook aangewend word
om die uitsprake wat deskundiges maak te toets (verifieer). Op die wyse
sal 'n mens nie in 'n valsheid verval soos die volgende nie: "Omdat A
('n outoriteit) so gesê het, is dit waar". Verder kan die eie ervaring
ook gebruik word vir probleemoplossing. Uit 'n artikel wat bestudeer
word kan byvoorbeeld blyk dat die skrywer erken dat hy nie daartoe in
staat is om sekere vrae te beantwoord nie. Iemand met ervaring kan
moontlik oor 'n antwoord wat deur ervaring voortgebring is, beskik. Dit
is ook noodsaaklik dat aanbevelings wat voortspruit uit navorsing wat
onderneem is aan iemand se ervaring getoets moet word.
Uit die voorgaande paragraaf kan daar afgelei word dat die ervaring
wetenskaplik betekenisvol kan wees. Dit beteken beslis nie dat die
ervare persoon sy ervaring op onwetenskaplike wyse mag aanbied nie. Die
kanse is groot dat navorsers op dun ys beweeg wanneer die eie ervaring
aangebied word onder aanlope soos:
¨ Die ervaring het my geleer dat .....
¨ In die lig van die ervaring wat ek gehad het, staan die saak so
.....
¨ Soos my eie ervaring bewys het .....
¨ Dit is vanselfsprekend dat ..... omdat ek dit persoonlik ervaar
het.
¨ Sonder vrees vir teenspraak kan ek op grond van my eie ervaring sê
...
¨ Niemand wat dieselfde ervaring as ek gehad het, sal die volgende
stelling in twyfel kan trek nie .....
¨ Vir enige ervare mens sal die volgende stelling duidelik wees .....
¨ Daardie opvatting is waar omdat mense met onderwyservaring sê dis
waar.
ERVARING EN BELANGSTELLING
Dit gebeur dikwels dat daar belangstelling bestaan vir 'n saak waarvan
daar op die een of ander wyse ervaring opgedoen is. Die onderwerp
(probleem) wat in die ervaringswêreld van 'n nagraadse student voorgekom
het, spoor hom/haar aan tot persoonlike inspanning en tot entoesiastiese
deelname. Verdere winste van die belangstellende (vanweë ervaring)
student is aktiewe selfbetrokkenheid by die navorsing vir 'n werkopdrag
of navorsingsverslag (M/D) wat gepaard kan gaan met inisiatief,
produktiewe kritiese denke, skerp navorsingsingesteldheid en aanvaarding
van volle verantwoordelikheid vir die kwaliteit van die
navorsingsverloop. Dit beteken dat die student 'n tema vir sy/haar
werkopdrag/skripsie/verhandeling/proefskrif moet kies waarvoor daar
ervaring bestaan en vanweë ervaring, belangstelling.
In die lig van die voorgaande stellinge sal dit sinvol wees om 'n
prosedure te ontwerp wat aangewend kan word om die student se
persoonlike tersaaklike ervaring op wetenskaplik verantwoorde wyse te
mobiliseer en te organiseer. Dit is die doel van hierdie studiestuk om
so 'n prosedure te beskryf.
Die gevaar bestaan dat die student sy eie ervaring as waarheid kan
verklaar en sodoende ongegrond wetenskaplike status daaraan gee. Om
werklik wetenskaplike status te hê, sal die student sy eie ervaring
duidelik in die lig moet stel, dus verantwoordelik verwoord en dan
oorgaan tot 'n sistematiese analise en evaluering daarvan.
Met die neerskryf (verwoording) van die eie ervaring sal die student
vooraf moet weet dat hy die volgende gaan doen:
1. Hy gaan homself openbaar aangesien die beskrywing van sy ervaring
eintlik 'n selfbeskrywing is. Die student stel hom dan daarop in
om ter wille van sy selfbeeld 'n beskrywing te gee waarvan die
kwaliteit en tersaaklikheid nie bevraagteken kan word nie.
2. Hy gee in sy ervaringsbeskrywing 'n weergawe van sy persoonlike
wêreld vanuit sy persoonlike standpunt. Sy beskrywing moet
derhalwe in die eerste persoon wees sodat
(a) hy voortdurend sal weet dat dit persoonlike uitinge is wat
neergeskryf word.
(b) hy by die herlees van sy beskrywing telkens kan vra of dit
werklik sy eie ervaring is wat neergeskryf is, of dit die
allerbeste wyse van neerskryf is en of die treffendste en
tersaaklikste voorbeelde van die eie ervaring geselekteer is
vir beskrywing.
3. Hy sal in sy beskrywing aandag gee aan die interpretasie van
gebeurtenisse waarby hy betrokke was. Sy eie betrokkenheid moet
duidelik beskryf word en dit moet duidelik wees waar beskrywing van
die student se werklike ervaring ophou en waar sy interpretasie
daarvan begin. Om die student hiermee te help sal dit raadsaam
wees om gebruik te maak van opskrifte soos 'Beskrywing van eie
ervaring' en 'Interpretasie van eie ervaring'. Laasgenoemde
opskrif kan soms uitgebrei word na: 'Eie interpretasie van my
ervaring' en 'Kollegas se interpretasie van my ervaring'.
4. Die student se beskrywing van sy eie ervaring is openbaring van
betekenisse wat hy ervaar en beleef het. Dit beteken dat hy klem
sal laat val op betekenisvolle momente in sy ervaring en dat hy ook
sal interpreteer in terme van betekenis. Dit beteken dat hy slegs
betekenisvolle ervarings sal beskryf en ook sal sê wat dit beteken.
Hy sal byvoorbeeld 'n vraag soos die volgende moet beantwoord: Wat
beteken hierdie besondere ervaring vir die oplossing van die
probleem waaroor my navorsing gaan?
5. Hy sal die beskrywing van sy ervaring en die interpretasie van die
betekenis daarvan, voortdurend krities moet evlaueer.
PROGRAM VIR DIE NEERSKRYF EN ONTLEDING VAN DIE EIE ERVARING
EERSTE STAP:
Neem die navorsingsonderwerp (werkstukopdrag, skripsie, verhandeling-,
proefskrif-tema) en skryf neer aspekte daarvan wat ervaar is.
Byvoorbeeld:
Tema: Leerling-voorkeure en -belangstelling se invloed op
kurrikulering.
Ervaringsaspekte:
(i) Onderrig van spysverteringsappe.
(ii) Ekologie
TWEEDE STAP:
Skryf die DRIE duidelikste (treffendste, skerpste, mees betekenisvolle)
eie ervaringe neer.
Ervaring 1: (Byvoorbeeld)
Elke leerling het 'n tabel waarop die spysverteringsappe verskyn voor
hom/haar. Terwyl ek die terme in die tabel verduidelik en die werking
van die sappe met mekaar vergelyk, merk ek op
(i) gebrek aan belangstelling wat blyk uit slaperige voorkoms en 'n
rondvroetel met die biologie-handboek.
(ii) gebrekkige en onentoesiastiese deelname aan die bespreking.
(iii)swak en min antwoorde toe daar gekontroleer is of die leerlinge
begryp
het, dui op swak leerlingdeelname.
Ervaring 2: (Byvoorbeeld)
Elke leerling word voorsien van 'n biologie werkkaart wat oor 'n
bepaalde ekologiese probleem handel.
Terwyl ek die samestelling en vereistes van die werkkaart verduidelik,
merk ek op:
(i) sterk belangstelling wat blyk uit 'n op-en-wakker voorkoms van die
leerlinge.
(ii) leerlinge se entoesiasme is sodanig dat hulle dadelik wil
begin met die voltooiing van die werkkaart.
(iii)leerlinge begin met mekaar gedagtes te wissel en vrae van my kant
af
word met die verwagte kwaliteit beantwoord. 'n Wil-deelneem word
opgemerk.
Ervaring 3:
Met die biologie-eksamens vergelyk ek die gemiddelde punte wat behaal is
met die spysverteringsvraag en die ekologie-vraag.
Ek merk op:
(i) 'n betekenisvolle beter prestasie met die ekologie-vraag as met die
sap-vraag.
(ii) dat leerlinge ten aansien van die ekologie-vraag beslis
addisionele leeswerk gedoen het. Hieruit kan afgelei word dat
daar belangstelling in en entoesiasme vir ekologiese
vraagstukke bestaan en 'n gewilligheid om deel te neem aan die
oplossing daarvan.
Ervaring 4:
Aan die einde van die skooljaar het ek 'n vraelys aan elke leerling
gegee vir voltooiing. Die vraelys het bestaan uit die inhoudsopgawe van
die biologie-handboek, met die volgende beoordelingskaal langs elke
item:
4 - hou besonder baie van
3 - hou baie van
2 - hou nie van
1 - hou niks van
Die uitslag was soos volg vir
(a) Spysverteringsappe
4 - 0%
3 - 10%
2 - 40%
1 - 50%
(b) Ekologiese temas
4 - 50%
3 - 40%
2 - 10%
1 - 0%
Eie interpretasie:
Die meeste st. 8 leerlinge hou betekenisvol meer van ekologie as van
spysverteringsappe. (Terwyl die st. 8 seun veral daarop ingestel is om
homself vaak te eet en dan daarna honger te slaap).
DERDE STAP:
Tree in gesprek met kollegas en met erkende deskundiges ten einde
(i) die eie interpretasie te toets (d.w.s. te verifieer)
(ii) soortgelyke ervarings met leerling-voorkeure en -belangstelling te verneem.
VIERDE STAP:
Neem DRIE stellings (gedagtes, uitsprake, idees) in die vertelling
(beskrywing van eie ervaring) en doen die volgende:
Stap 1
Reduseer elke stelling tot een of twee sleutelwoorde en gee die
woordeboekbetekenis en vakwoordeboekbetekenis indien begrippe
(sleutelwoorde) gebruik word wat opheldering nodig het.
TABEL
Eerste ervaring
Sleutelwoord 1 Gebrek-aan-belangstelling
Sleutelwoord 2 Gebrekkige entoesiasme
Sleutelwoord 3 Swak leerlingdeelname
Tweede ervaring
Sleutelwoord 1 Sterk belangstelling
Sleutelwoord 2 Motiverende entoesiasme
Sleutelwoord 3 'n Wil-deelneem
Derde ervaring
Sleutelwoord 1 Beter prestasie
Sleutelwoord 2 Aansporende belangstelling
Sleutelwoord 3 Opwekkende entoesiasme
Vierde ervaring
Sleutelwoord 1 Voorkeur
Sleutelwoord 2 Afkeur
Sleutelwoord 3 Geen
Stap 2
Beantwoord die volgende vraag ten aansien van die tabel. Is die student
tevrede dat al die sleutelwoorde
1. sy ervaring die beste beskryf? JA/NEE
2. nie weggelaat kan (mag) word in die beskrywing nie? JA/NEE
Let wel:
(a) JA by 1. en 2. beteken dat die sleutelwoorde essensies genoem mag
word.
(b) NEE by 1. en 2. beteken dat die student weer van vooraf moet begin.
Stap 3
Die essensies (sleutelwoorde) is 'n weerspieëling van die sake uit die
student se ervaring wat hy wil beklemtoon, dus wat hy as baie belangrik
ag. Indien daar by die bestudering van die tabel ander sake is wat van
belang is wat hy vergeet het of oorgesien het, skryf hy dit neer.
Stap 4
Bekyk die tabel weer eens krities en beantwoord die volgende vraag: Is
die student seker dat daar geen verdraaiings (foutiewe voorstellings,
verkeerde weergawes) in voorkom nie? JA/NEE.
Opmerking: Waar NEE geantwoord word moet die besondere weergawe
(essensie, sleutelwoord) geskrap word. So kom die ware feite (waarheid
ten aansien van die eie ervaring) aan die lig.
Stap 5
Is daar enige weersprekings in die voorgaande tabel? JA/NEE.
Opmerking: 'n NEE-antwoord beteken dat die wesenlike van die eie
ervaring nou helder skyn.
Stap 6
Skryf die tema (of boodskap) wat spreek uit die voorgaande tabel neer:
leerling-voorkeure en -belangstelling moet in aanmerking geneem word by
kurrikulering.
Opmerking: Dit wat as 'n tema (boodskap) verskyn kan as die wesenlike
van die eie ervaring beskou word.
VIERDE STAP
Stel nou die tema (boodskap) van die eie ervaring in hipotesevorm:
Leerling-voorkeure en -belangstelling is kurrikulumdeterminante.
VYFDE STAP
Welke navorsingsprosedure(s) word opgeroep deur die hipotese wat so pas
gestel is? Vraelys, onderhoude, literatuurstudie. (Literatuur wat
bestudeer moet word is byvoorbeeld tydskrifartikels wat die volgende
woorde in die betiteling bevat: kurrikulering en die sleutelwoorde wat
in die tabel verskyn.
SESDE STAP
Skryf 'n verslag.
o-0-o
|