Professor W A Landman

Negende W A Landman-gedenklesing
van die ATKV-tak, Centurion:
29 Mei 2008

Prof Linda van Rooyen

Terug na Gedenklesings


MORALITEIT IN SUID-AFRIKA: ENTROPIESE,
ATROPIESE EN EKTROPIESE PYLERS

INLEIDING

Suid-Afrika bevind hom tans in, wat waarskynlik die grootste morele verwarring in ons geskiedenis, genoem kan word. Vir die doeleindes van hierdie referaat sal die begrip “morele verwarring” aanvanklik gebruik word, terwyl die begrip “morele verval” – asook ander begrippe - later in die referaat aan die orde sal kom. Die skopus van hierdie referaat is Suid-Afrika en sy mense, alhoewel die verskynsels van morele verwarring en verval ook globaal van toepassing is (Cortland, 2004). Op makro, meso en mikro vlak het daar in Suid-Afrika, veral in die afgelope dekade, ‘n verskeidenheid stemme oor moraliteit en moraliteitsopvoeding opgegaan, daar is verklarings gemaak, werkgroepe gestig en programme gekurrikuleer, en daar is selfs ‘n voorstel ingedien om ‘n skole eed op skoolvlak te implementeer. Die verskynsel van moraliteit (en gebrekkige moraliteit) is egter nie nuut nie, maar is eie aan die wesens-essensie van die mens wat ‘n essensieel-etiese wese is. Moraliteit het daarom saam met die mens gekom Landman (1992).

Die stemme wat opgegaan het en planne wat gemaak is, was niks anders as ‘n uiting van die mens se sporadiese besef en belewing van sy eksistensiële nood en die ewige stryd tussen goed en kwaad nie. Dit is ‘n oeruiting van die mens wat net weer ge-eggo is en uit die verlede gehoor kan word: “Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en baklei. Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag” (Die woorde van Habakuk toe hy gekla het oor die Here se skynbare belangeloosheid in sy volk. [Habakuk 1:3b-4, Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1983, p. 972]). Pythagoras (580 vC) se uitroep dat die mense van sy tyd in ‘n geestelike ‘noute’ verkeer1 ; die uitroep van die Spartaanse leier, Lycurgus (500 vC), dat die Spartane moet terugkeer na hul enigste oplossing, nl. self-beheersing2; Socrates (400 vC) se wekroep om tot egtheid terug te kom; die ongelooflike Romeinse strewe en verklaring (146 vC – 476 nC) om die Griekse ideaal van regverdigheid tot ‘n grootse regskode3 te verwerk; die motief vir die ontstaan van die Katekumene4, Kategete5, Episkopale6 en Klooster7 skole in die begin van die vroeë Christelike opvoeding (en ook later baie ander skole en inrigtings) wat die stryd tussen goed en kwaad wou beveg.

MORALITEITSPROBLEMATIEK IN SUID-AFRIKA

INLEIDENDE OPMERKINGS
In Suid-Afrika kom die ‘simboliese’ stryd tussen goed en kwaad toenemend openlik in die praktyk voor terwyl voorbeelde van morele verwarring en morele verval vandag oor ‘n wye terrein in die samelewing sigbaar is. Hierdie begrippe (morele verwarring en morele verval), word aan die hand van die begrippe entropie, atropie en ektropie toegelig en vorm saam die ‘hoofgereedskap’ waarmee die argument in hierdie referaat gebou sal word. Hierdie begrippe sal telkemale in die teks, voor die bespreking en betoog, kortliks en toeligtend binne die skopus van hierdie referaat, omskryf word.

VERBAND TUSSEN NORME EN MORALITEIT
Ten einde die vergestalting van moraliteit, hetsy positief of negatief, in ‘n samelewing te kan identifiseer, is norme onontbeerlik. Reeds van die vroegste tye is die normbegrip ’n “noodwendige attribuut in die sfeer van die moraliteit” (Botha 1982, p. 47). Die doel en funksie met die aanwend van morele norme is hoofsaaklik om menslike gedrag (gebeure of situasies) te beoordeel of as ‘n standaard vir behoorlike gedrag te stel. Die norm verwys na wat “behoort te wees”, die ideaal. Landman (1992) wys in hierdie verband dat daar drie soorte sedelike oordele in menslike gedraginge is, die handelinge wat die mens behoort uit te voer; nie behoort uit te voer nie en wat ’n keuse laat. Die norm word op hierdie wyse as kriterium aangewend, onafhanklik van menslike willekeur, is met gesag beklee sodat bindende gedragsreëls neergelê word (Hendrikz, 1995, p. 116).

Dit is egter van wesens belang om te besef dat morele norme, anders as wat deur die Nuwe Moralisme beweer en verkondig word, nie in die mens gefundeer is nie (kyk ook in hierdie verband na die bespreking van atropie hieronder). As dit die geval was, sou nugtere gebalanseerde volwasse Suid-Afrikaners instinktief geweet het wat die regte ding sou wees om op die regte tyd en in die regte situasies te doen. Die mens beskik egter nie in homself oor die sedelike oordeel om te bepaal wat as goed of kwaad sou kwalifiseer nie, eenvoudig omdat die mens dit nie in hom het nie! Hierdie norme is, vir die Christen, gesetel in die geopenbaarde wil van God, die Heilige Skrif (Botha 1982, p. 26) en kan alleenlik deur morele opvoeding hierdie norme internaliseer.

MORELE VERWARRING EN MORELE VERVAL
Vir die doeleindes van hierdie referaat sal die begrip morele verwarring verwys na ‘n toestand of situasie van onduidelikheid, onsekerheid en ‘n deurmekaar-wees waarin die mens hom bevind en wat sy vermoë, sin en gevoel ten aansien van wat reg en verkeerd is, asook sy sedelike en geestelike krag, negatief beïnvloed (“moreel>morele – sedelike en geestelike krag wat betrekking het op die gevoel vir wat goed en reg is, wat mense vol moed en geesdrif laat bly” [Odendal, Schoonees, Swanepoel, Du Toit en Booysen, 1979, p. 713], “verwar>verwarring – nie duidelik, nie helder, deurmekaar, van stryk bring” [Odendal et al., 1979, p. 1276]).

Die begrip morele verval verwys in hierdie bespreking na die toestand of situasie wat geleidelik intree. Die gebeur tydens en die mens se blootstelling aan en belewing van ‘n morele verwarring. In die proses is daar ‘n stelselmatige agteruitgaan en ineenstorting van die mens se vermoë, sin en gevoel (waardering) vir reg en verkeerd wat sy sedelike en geestelike krag in so ‘n mate beinvloed dat morele en sedelike waardes hul geldigheid, krag en waarde vir die mens verloor (moreel>morele – soos bo, verval, agteruitgaan en verminder, om geldigheid en waarde te verloor [Odendal et al., 1979, p. 1273]). Daar word verder veronderstel dat, in die afwesigheid van morele opvoeding en vorming wat veral tydens die kinderjare behoort plaas te vind, bg. vermoë, sin en gevoel (waardering) vir morele en sedelike waardes nie na behore ontwikkel nie en daar van ‘n mindere/laer/geringer sedelike en geestelike krag sprake is. Die begrip morele verval word populêr-algemeen gebruik en ook in die media, terwyl Viljoen (2008) na ‘n morele inploffing in Suid-Afrika verwys.

ENTROPIE, ATROPIE EN EKTROPIE
Die begrippe entropie, atropie en ektropie is verwant in terme van die hoeveelheid morele energie wat beskikbaar is en aanleiding gee tot die rigting van die beweging en dinamika wat binne ‘n verskynsel plaasvind (in geval van gebrek aan morele energie word negatiewe groei [rigting: terug] of nie-groei [geen beweging] bedoel). Entropie, atropie en ektropie kan binne ‘n oop of geslote sisteem plaasvind. Hierdie dinamiek word in die volgende diagram visueel voorgestel:


Diagram 1: 'n Diagrammatiese voorstelling van
die dinamiek van moraliteit in die Suid-Afrikaanse samelewing

Die verskynsel van entropie in die Suid-Afrikaanse samelewing
Die begrip entropie (G. entrophia) beteken letterlik “indraai” (verwys ook na die begrip inploffing [Viljoen, 2008]) in ‘n beweging of proses van “afbraak van materie en energie” (negatiewe groei) binne ‘n verskynsel tot by ‘n toestand van inerte (beweginglose) eenvormigheid (Odendal & Gouws, 2005, p. 219), menende dat die unieke kenmerke wat kon aanleiding gee tot die uniekheid en unieke groei patrone van ‘n verskynsel, verloor is.

Binne die konteks van hierdie bespreking, naamlik moraliteit in Suid-Afrika, sal die begrip “entropie” dan verwys na ‘n proses waartydens veronderstel word dat die sedelike en geestelike krag (morele energie) van die mense van Suid-Afrika in so ‘n mate afneem, agteruitgaan of kwyn dat daar van morele verval sprake is. Daar is dus ‘n afname in die morele energie in die Suid-Afrikaanse samelewing, met ander woorde daar is onvoldoende (gebrekkige) morele energie of “beskikbare nie-energie” (Odendal & Gouws, 2005, p. 219), om moreel te groei, morele opvoeding te doen, morele gevormdheid in denke en gedrag te openbaar en die algemene moraal van Suid-Afrikaners te bou.

Die volgende twee voorbeelde van entropie is vir die doel van hierdie referaat geselekteer: 1 Seksualiteit en immorele en onverantwoordelike seksuele gedrag; en 2 Normonafhanklikheid in die leiers van Suid-Afrika;

Met die begripsverklaringe in gedagte en gemeet aan die norme vir seksuele gedrag wat vir die Christen geldig is, word enkele voorbeelde van onverantwoordelike en immorele seksuele gedrag kortliks onder die loep geneem.

  1. Seksualiteit en immorele en onverantwoordelike seksuele gedrag in die Suid-Afrikaanse samelewing
    ‘n Verwysing na menslike seksualiteit word dikwels in die volksgedagte verstaan as ‘n verwysing na seksuele verkeer tussen ‘n man en ‘n vrou en het daarom in die volksmond ‘n werkwoord geword. In hierdie referaat verwys seksualiteit (sinoniem: geslagtelikheid) na ‘n synswyse van die mens, dit wil sê, ‘n dimensie van menslike bestaan. Dit is geen eenvoudige aangeleentheid nie, maar kan beskryf word as ‘n misterie soos wat die mens self ‘n misterie is. Die mens se bestaan vind sy betekenis in sy verhouding met sy God. Die menslike liggaam kan beskou word as ‘n simbool van hierdie misterie wat die mens in sy diepste wese aanraak.

    Met die begrip seksualiteit word twee dimensies veronderstel, ‘n na- binne-gerigte dimensie en ‘n na-buite-gerigte dimensie (wat nie noodwendig met die eerste sal ooreenstem nie) en wat kortliks as volg verduidelik word:

    • ‘n Innerlike dimensie wat verwys na ‘n persoon se wete (besef en begryp) en belewing (voel en ervaar) van die eie geslag (hetsy manlik of vroulik) en die ooreenkomstige liggaamlikheid en die betekenis wat daaraan geheg word;
    • ‘n uiterlike dimensie wat deur die innerlike dimensie beïnvloed word, maar nie bepaal word nie, en verwys na die wyse waarop die seksualiteit uitgeleef word na buite in terme van oriëntering, optrede en gedrag, leefwyse en hoe die seksualiteit gehandhaaf word.

    Met die begrip immorele en onverantwoordelike seksuele gedrag word bedoel alle gedrag wat seksueel van aard is, met menslike seksualiteit en seksuele aangeleenthede verband hou en in stryd is met die norme vir seksuele gedrag wat neergelê word in die Bybel as die enigste Woord van God. Menslike seksualiteit (soos hierbo verduidelik) en verwante seksuele aangeleenthede (kyk onder) kan seksuele gedrag beïnvloed. Seksuele aangeleenthede sluit onder andere die volgende aspekte in:

    • Die eie geslag en geslagtelikheid wat geneties bepaal (maar ook deur omgewingsdeterminante beïnvloed kan word) en deur die geslagskliere geïnisieer en instandgehou word (tot en met die menopouse [vrou] en klimakterium [man] intree);
    • die anatomiese, fisiologiese en funksionele aspekte van die manlike en vroulike liggame;
    • psigiese (kognitiewe en affektiewe) aspekte van geslagtelikheid;
    • norme en gedragskodes van die gemeenskap met betrekking tot elke geslag;
    • tipiese rolverwagting en rolvervullingsmodelle wat kultureel eie is aan elke geslag;
    • higiëniese en gesondheidsaspekte met betrekking tot elke onderskeie geslag;
    • homo- en heteroseksuele interpersoonlike verhoudinge;
    • opvoeding en vorming

    Verantwoordelike geslagtelike gedrag kan vir die doel van hierdie referaat omskryf word as gedrag wat ooreenstem met die aanvaarde norme en lewenswyse soos dit geld in ‘n Christelike samelewing en behoort aspekte in te sluit soos: Agting en respek vir die menswaardigheid van die self asook die ander persoon, ‘n wedersydse aanvaarding van mekaar, wat die swakhede en tekortkominge in die ander persoon insluit, ‘n wedersydse vertroue in mekaar en ‘n weerhouding van die skending van hierdie vertroue, ‘n begrip van die ander se menswees as manwees of vrouwees, ‘n liefdesverhouding wat ‘n diep menslike ontmoeting tussen die geslagte beteken, ‘n religieuse grondhouding as gewetensaak, soos gegrond in die aanvaarding van godsdienstig-sedelike norme (Van Rooyen & Louw, 1994, p. 23). Hierdie norme is gegrond in die waarde van bv. heiligheid van lewe, selfbeheersing, privaatheid, liggaamlike reinheid en kuisheid, die skeppingsorde (man-vrou) en totale toewyding binne die monogame huwelik (Van Rooyen & Louw, 1994, p. 23).

    Die bekende Nederlandse filosoof, Prof. C.A. van Peursen (1987) het die kenmerk van deursigtigheid as tipies van ‘n funksionele samelewing beskryf. In Suid-Afrika is die begrip deursigtigheid goed bekend en kom dit selfs ook in die Grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996) voor. Deursigtigheid in die algemeen, ook met betrekking tot die seksuele, is ‘n opvallende kenmerk van media-beriggewing. Mure en grense het verglas en die mens dring letterlik deur die televisie-skerm tot binne ‘n ander man se slaapkamer en selfs sy dubbelbed. Niemand is van die intieme detail gespaar nie. Hierdie deursigtigheid staan egter nie noodwendig in diens van die waarheid nie, of polities gesien in diens van die demokratiese beginsel van gelyke deelname nie, maar eerder in diens van ‘n sensasie-honger en moreel uitgewaste publiek. Intieme detail, wat volgens die morele waardes van ‘n beskaafde samelewing persoonlik en privaat sou wees en in ‘n egtelike verhouding of intieme kring hanteer sou word, word uitgedop en na buite vertel en vertoon, en wel met smaak en in sensasionele taal – dit is tot almal, ook kinders, se beskikking.

    Ingrypende veranderinge wat die afgelope eeu op morele gebied in Suid-Afrika plaasgevind het, het daaroe gelei dat houdings en gesindhede teenoor seksualiteit en die mens as seksuele wese, ingrypend verander het. Reeds in 1933 het Dr. Willem Nicol – voorsitter van die destydse Onderwyskommissie – ‘n ondersoek onder leiding van Dr. Louis Franklin Freed gelas om navorsing te doen oor die moontlikheid van die instelling van geslagsopvoeding op skool as teenvoeter vir die morele verval in die samelewing (Van Rooyen, 1987). Dit is interessant dat hierdie Verslag wat uitgebring is ook voorbeelde van die morele stand van ons huidige samelewing bevat. Was dit nie ook ‘n eggo van ‘n oerbehoefte om die goeie instand te hou en te bevorder en daarmee die kwaad (in hierdie geval, die morele verval) te beveg nie?

    Daar het verder plaaslik baie gebeur in die ses dekades sedert die Kinsey verslag verskyn het en Masters en Johnson begin het om mites en wanopvattings rondom menslike seksualiteit aan te spreek (Van Rooyen & Louw, 1994, p. 4). Een van die belangrikste en mees ingrypendste veranderinge is die feit dat die begrippe prokreasie en rekreasie van mekaar geskei is, en daarmee saam ‘n nuwe tydvak in die seksuele vryheid van die mens ingelui is. Menslike seksualiteit het stelselmatig ‘n kommoditeit met verkoopswaarde geword en is ontdaan van ‘n verhewe intrinsieke waarde.

    Die seksuele rewolusie het ernstige gevolge ingehou vir veral die opvoeding van die kind asook die voortbestaan van die tradisionele gesin. Die verskynsel van emansipasie en die mens se drang vir selfbepaling en die uitlewing van die self het ‘n ongekende strewe na individualiteit en vryheid in die mens na vore gebring. Die intieme bande met die gesin word losgemaak tot so ‘n mate dat die mens nie alleen sy tradisionele en geestelike bindinge en geborgenheid verloor nie, maar ook in ‘n sekere sin sy behoudende sielsgemeenskap. Hy verloor sy “ek behoort aan”-identiteit en word verswelg deur die massa en verwarrende massawaardes wat deur moderne tegnologie tot binne in ons huise en kinders se hande kom (Van Rooyen & Louw, 1994, p. 5). Alhoewel die heiligheid van die huwelik tog vir sommige kosbaar is, put ander opwinding uit buite-egtelike verhoudings en ‘n verskeidenheid van seksmaats. Die soeke vir opwinding word bevredig in alternatiewe vir die huwelik soos saamwonery, die uitruil van huweliksmaats (swinging), proefhuwelike en geleentheidseks.

    Morele norme vir die belewing en uitlewing van seksualiteit vertoon ‘n dualistiese karakter: dit word deur vele hoog aangeskryf en aan kinders voorgehou terwyl daar nie veel van in die praktyk sigbaar is nie, nie eenvormig toegepas word nie en nie in alle situasies geldig is nie. Daar is min getuienis van volwassenes se lewe wat positief deur waardes gerig en beïnvloed word. Hierdie dualisme versterk die heersende morele verwarring en dra daartoe by dat riglyne vir seksuele gedrag verontagsaam en selfs geminag word en verskynsels soos verkragting, kindermolestering, bloedskande, buite-egtelike seksuele verkeer, tienerseks8, tiener-swangerskappe, seksueel oordraagbare infeksies9 en HIV & VIGS (om maar enkele te noem) onbeheerbaar toeneem. Daar is verder gevind dat jong seuns gemiddeld vyf seksmaats en jong meisies gemiddeld twee seksmaats per week het (Van den Berg, 2004. p. 9). Vrye seksuele verhoudings tussen tieners gee (behalwe vir moontlike swangerskap), ook aanleiding tot ‘n verskeidenheid ander probleme, byvoorbeeld uiteindelike emosionele afstomping, disrespek en verwronge houdings en gesindhede teenoor die eie seksualiteit asook die seksualiteit van die ander geslag (Van Rooyen, 1997, p. 62-66). Daar is ook altyd die sterk moontlikheid om met die HI-virus10 geïnfekteer te word of ‘n geslagsoordraagbare infeksie op te doen (die ouderdomsgroep tussen 15 en 24 toon die grootste MIV-infeksie syfer in Suid-Afrika). Navorsing wat in skole gedoen is en wat gemik is op gedragsverandering by jongmense met die oog op die voorkoming van MIV-infektering het getoon dat ‘n bewus-wees en genoegsame kennis van MIV & VIGS nie lei tot volhoubare verandering in seksuele gedrag nie (Galloway in Hartell, 1999).

    Die aantal tienerswangerskappe in Suid-Afrika (en die wëreld) styg onrusbarend. Ten spyte van vryelik beskikbare voorbehoeding11 en aborsie-dienste was 2 336 skoolmeisies in die Gauteng Provinsie verlede jaar swanger met die jongste meisie so jonk as elf jaar (Maughan, 2008). Hierdie feite dra ook grootliks daartoe by dat al hoe meer pasgebore babas ‘weggegooi’ word (Breytenbach, 2008).

    Tienerswangerskappe kom voor as gevolg van ‘n verskeidenheid faktore, bv. maatskaplike en sosiaal-opvoedkundige probleme wat in ‘n samelewing voorkom en veral verband hou met ‘n gemeenskap se veranderde siening van menslike seksualiteit, seksuele vryheid en morele en seksuele waardes. Seksuele vryheid het ‘n norm geword – let op hoedat oor die jare stelselmatig uit die MIV & VIGS veldtogte gehaal is. Die mens se seksuele verantwoordelikheid is gereduseer tot, “jy is uitgelewer aan die magte”, en “VIGS is ‘n onguns van ‘n wrede noodlot”. In hierdie verband dink ek aan die wêreld VIGS Kongres in Marseille, Frankryk verlede jaar (2007), waar kopieë van ‘n wetenskaplike artikel versprei is, met die titel: “Putting sexuality (back) into HIV/AIDS: Issues, theory and practice” (Boyce, Huang Soo Lee, Jenkins, Mohamed, Overs, Paiva, Reid, Tan & Aggleton, 2006). Dit is interessant dat navorsing (De Wit in Van Rooyen, 1985) wat in die tagtigerjare gedoen is, aangetoon het dat daar ‘n beduidende positiewe verband is tussen jongmense se sin vir seksuele waardes en die mate waartoe hulle kerkdienste bywoon.

    Vrye seksuele omgang hou ook die moreel-degraderende risiko van seksuele uitbuiting van en geweld teenoor jong meisies en vroue, in (hoofsaaklik vanweë die lae status van vroue in sommige Afrika kulture). Laasgenoemde stelling word bevestig deur die feit dat 80 % van die meisies wat aan ‘n ondersoek deelgeneem het (LoveLife in Maughan, 2008), gerapporteer het dat hulle eerste seksuele ervaring sonder hulle toestemming plaasgevind het en op hulle afgedwing is. In nog ‘n ondersoek (Van Rooyen, 2005) het 83,7 % van die respondente (meisies) aangedui dat hulle seksmaats nie hul toestemming hoef te vra nie, dat hulle ‘n ondergeskikte en onderdanige rol speel in seksuele aktiwiteite en dat hulle eenvoudig beskikbaar moet wees. “Some cultural practices even subject women to sexual violence” (Van den Berg, 2004. p. 85). Onderhandelinge of seks mag plaasvind en of ‘n kondoom gebruik kan word, word gesien as onvanpas en selfs ongehoord.

    Dit is ‘n feit dat die kind se omringende wêreld, waarbinne hy sy eie wêreld moet stig, nie positief bydra tot die kind se morele groei en die ontwikkeling van sy morele intelligensie nie. Die kind hoor verskillende boodskappe, terwyl hy nog kind is en nog nie ‘n sedelik selfstandige wese is nie, “… het kind is geen volwassene in zakformaat” (Bladergroen, 1973, p. 16). Kan u u voorstel hoe verward ‘n jong kind moet wees as hy op die voorblad van ‘n dagblad (Beeld, 16 Mei 2008) moet lees dat ‘n drieling gebore is wat deur 2 pa’s verwek is?

    Dink aan die boodskappe wat uit die omgewing en van ander mense op die kind afgevuur word: uit die media, deur die nuwe en vreemde moontlikhede wat deur tegnologiese ontwikkeling binne sy bereik geplaas is, veral deur televisie programme waar die visuele selfs meer versterkend is, ook deur sommige sogenaamde ‘opvoedkundige’ programme wat die boodskap stuur oor die gebruik van kondome, dat “seks in die haak is, net solank jy veilig is”. Ek het een keer ‘n telefoonkaart gekoop om van ‘n publieke foon te skakel. Op die kleurvolle kaart was die woorde in groot vet letters: Use a condom! Ek herinner my ook aan ‘n telefoonkaart kaart wat ek eenkeer in België gekoop het. Daarop was die volgende woorde: Sta boven het tegenwoordige en beschouw wat eeuwig is. Morele entropie is soos ‘n spiraal ondertoe.

  2. Normonafhanklikheid en immoraliteit in die leierskorps van Suid-Afrika
    Vir die doeleindes van hierdie bespreking sal die begrip “leierskorps” verwys na enige leier wat in die Suid-Afrikaanse regering en/of samelewing figureer. Die argumente wat in die betoog aangevoer word kan betrekking hê op enige leier hê wat op enige vlak in Suid-Afrika dien. Daar sal ook waar nodig, na spesifieke leiersposisies, eerder as na die persoon wat in so ‘n posisie dien, verwys word. Die bespreking word nie veralgemeen nie en is gegrond op die aanname dat, die moraliteitsprobleem op alle vlakke van die samelewing voorkom, in die regering, die samelewing of in die gemeenskap op plaaslike vlak.

    Die gebrek aan voldoende positiewe rolmodelle en leierfigure in Suid-Afrika, impakteer negatief op die algemene bevolking, maar veral op kinders en jongmense. Heyns, (2008) is van mening dat die behoefte aan goeie leiers in die regering tot groter skeptisisme en wantroue in Suid-Afrika lei. Alhoewel ‘n land meer bates het in terme van menslike hulpbronne, is dit volgens Heyns (2008) tog maar die leiers wat saakmaak. Die referent huldig die mening dat een van die fundamentele probleme met leiers vandag, ‘n gebrek aan langtermyn visie is - wat een van die grootste vereistes is wat aan ‘n goeie leier en morele leierskap gestel word. ‘n Langtermyn visie en ‘n nugtere en heldere uitsig vorentoe is uiters belangrik vir die mens se oriëntasie en belewing van die tydsdimensies (verlede, hede en toekoms) – want hieruit moet die mens sy plek en rigting bepaal. Wanneer die toekoms nie sterk figureer in ‘n persoon se verwysingsraamwerk nie en die verlede byvoorbeeld swaar weeg, soos wat die geval vir baie mense in Suid-Afrika is, sal die persoon

    • nie ‘n duidelike vorentoe gerigtheid hê nie, maar in sy huidige gesitueerdheid (hede) tussen verlede en toekoms sal skarrel – na die verlede kan hy nie terug nie, maar vorentoe is nie duidelik nie – en in hierdie proses is hy amper onbewus van die minute wat aftik en die geleenthede wat verbygaan. Dink in hierdie verband ook aan die persoon se ewigheidsbegrip en die leier se verantwoordelikheid om vir die spreekwoordelike “duskant”- en “anderkant”-welsyn van sy mense te dink en te besluit. Dat die rol en taak van die leier, in hierdie verband, sterk deur die diversiteit in Suid-Afrika beïnvloed en verswaar word, is waar, maar in hierdie verband is die Grondwet soewerein en nie deur die “dinge van die oomblik” (hede), ‘meesleurbaar nie;
    • gebrekkig kousale verbande (oorsaak en gevolg) openbaar - die oorsaak mag, in terme van tyd, in die verlede (of in die hede) lê, maar die gevolge van besluite, keuses en dade kom dikwels later, dus nie altyd onmiddellik nie en sal in die toekoms spreekwoordelik aan iemand se deur kom klop; die gevolge mag gou gebeur en van felle aard wees, maar dit mag ook eers in die vêrre toekoms en baie subtiel na vore kom, dikwels met vernietigende gevolge. Dink in hierdie verband aan sommige wetgewing wat in die parlement goedgekeur word wat moontlik immorele gevolge en/of maatskaplike en sosiale probleme tot gevolg kan hê, bv. die wet wat reeds in Oktober 2003 goedgekeur is en voorsiening maak vir ‘n derde geslagsidentiteit12, ‘n sg. nuwe seksuele klas, bo en behalwe manlik en vroulik vir persone wat mislukte geslagsveranderingsoperasies ondergaan het. Sulke wette kom ondeurdag voor waarvan die langtermyngevolge, veral ten opsigte van die moraliteit van die bevolking, skrikwekkend is. Wat egter ookal die motivering vir hierdie wetgewing is - daar word veronderstel dat deeglike navorsing die proses voorafgegaan het - die implikasie daarvan bly omstrede en die gevolge vir die toekoms wek bekommernis oor ‘n wye spektrum van die samelewing. In die lig van die stemme wat vry algemeen opgaan (ook in die parlement), ten gunste van die wettiging van prostitusie, bestaan die verwagting ook dat so ‘n wet voor 2010 met die Wêreldbeker Sokker, aan die parlement voorgelê sal word;
    • moeilik lewensdoelstellings kan formuleer, nie net omdat die uitsig vorentoe nie helder is nie, maar ook omdat die persoon as gevolg van ‘n gebrek aan visie, besluite neem suiwer op grond van huidige omstandighede, in die lig van die verlede. Omdat die hierdie persoon ook nie seker is van sy rigting nie, is dit bykans onmoontlik om lewensdoelstellings te formuleer;
    • onverbiddelik vashou aan die status quo nie alleen omdat dit deur die verlede onderskryf word nie, maar ook omdat dit die sekuriteit bied in ter terme van “ek weet wat ek het, maar …”. Dink maar aan die amper-cliché van ‘n “comfort zone” wat niks anders as ‘n toestand van atropie is wat ingetree het nie. Die veiligheid wat die status quo bied, strem persoonlike groei en vorming (omdat die persoon nie nuut hoef te dink of te groei nie). Dit beperk ook aspekte soos waagmoed en vertroue en geloof om uit te reik na ‘n onseker toekoms. In die geval van die leiers van ‘n land kan hierdie houding, aan die een kant, algemene ontwikkeling en vooruitgang verhoed, en aan die ander kant ook daartoe lei dat, indien bv. baie veranderinge plaasvind (en moet plaasvind), belangrike besluite geneem moet word sonder ‘n duidelike uitsig op die pad vorentoe of wat die moontlike langtermyn gevolge kan wees.

    Die belang van visioenêre leierskap, ook en veral ten opsigte van die bou en instandhouding van moraliteit in ‘n land, behoort duidelik te wees. Heyns (1980) wys in hierdie verband daarop dat dit in die eerste plek nie gaan om die tegniese vaardighede van die leier nie, vir hierdie doel kan adviseurs aangestel word. Wat wel van belang is, “is die boodskap van wie ons is en waarheen ons gaan wat deur hierdie persoon oorgedra word” (Heyns, 1980).

    Dit is ongelukkig so dat die wyse waarop sommige leiers hulle verantwoordelikheid versaak, dit voorkom asof hulle eintlik in diens van hulself is en nie primêr in diens van die land en sy mense nie. Voorbeelde van korrupsie en self-verryking in die uitvoering van amptelike pligte is ‘n bewys hiervan en gaan soos skokgolwe deur die Suid-Afrikaanse samelewing en die internasionale gemeenskap (verwys in hierdie verband na die Eskom-debakel wat in wese gaan om die uitbetaling van hoë bonusse aan die toplui en waarna verwys word as ‘n “monster led by greed [and] inefficiency” [Spies, 2008]). Nelson Mandela verwys na die verskynsel van korrupsie en selfverryking as ‘n praktyk wat gevoer word deur “[the] scoundrels who prey on the public purse” (Pretoria News, 24 May 2008, p. 9). Uit alle oorde word die integriteit van sommige van die leiers van Suid-Afrika sterk bevraagteken (Heyns, 1980; Maughan, 2008; Gumede, 2008). Waar is die Mandelas, die Obamas en die Ghandis van Suid-Afrika?

    Enkele voorbeelde van die gedrag van sommige leiers (regering, staatsamptenare en plaaslike regering), wat nie net die moraal van Suid-Afrikaners verlaag nie, maar ook die morele ontwikkeling van ons jeug ernstig skaad, word vervolgens kortliks genoem. In hierdie verband is dit belangrik om te let op die feit dat alle leiers, maar veral leiers in die regering van Suid-Afrika, vir alle kinders en jongmense, rolmodelle en identifikasiefigure behoort te wees.

    Die volgende voorbeelde is direk of indirek in stryd met wetgewing in Suid-Afrika en veral die bepalings van die Grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996): 2.1   Die absolute ignorering, verontagsaming en in sommige gevalle skending van

    • morele waardes (deur byvoorbeeld openlike oneerlikheid, gebrek aan respek, onregverdigheid, rasistiese uitlatings, huweliksontrouheid en onsedelik eid);
    • wetlike voorskrifte en prosedures ten opsigte van en in die uitvoering van amptelike pligte wat strek van laksheid tot ernstige korrupsie.

    2.2   Gevalle van regsverydeling en oënskynlike willekeurigheid in die toepassing van strafmaatreëls, byvoorbeeld

    • individue wat skuldig is aan een of ander vorm van misdaad maar nie vervolg word nie (in bv. die reisskandaal waar daar gepoog word om die skuld af te skryf); ander wat net herontplooi word met onbepaalde, maar betaalde langverlof (in bv. die geval van die polisiehoof) of as straf die geld moet terugbetaal sonder ‘n verhoor, oplegging van tronkstraf of ‘n boete;
    • individue wat skuldig is aan ernstige misdaad en die reg dan deur regsverydeling of een of ander belemmerende of kunsmatige gemanipuleerde faktor, nie sy loop kan neem nie, bv. ‘n misdaaddosier wat verdwyn, ‘n amptenaar wat omkoopgeld aanvaar, ‘n regsaak wat onvoldoende voorberei word vir hofverrigtinge, ‘n misdadiger wat op vreemde wyse tydens die hofverrigtinge of daarna ontsnap, paroolvoorwaardes wat nie nagekom word nie, paroolstelsels wat misluk en misdadigers wat spoedig na inhegtenisname weer hul misdadige lewe in die gewone gemeenskap hervat.

    2.3   Die ignorering of verontagsaming van die kriminele rekord en/of immoraliteit van ‘n persoon wanneer ‘n aanstelling in ‘n hoë posisie gemaak moet word (bv. ‘n misdadiger word as polisiehoof of parlementslid aangestel). Selfs staatshoofde word in Afrika aangestel, sonder inagneming van hulle persoonlike rekord as mens of selfs as staatshoof. Wat wel in aggeneem word vir die aanstelling van leiers, ook in Suid-Afrika, is ‘n rekord van deelname in die “struggle” (Gumede, 2008). Integriteit en eerlikheid blyk nie ‘n vereiste te wees nie. Die boodskap hiervan is, “‘n rekord van misdaad en immoraliteit is nie van belang nie, maak wat jy wil, more is als verby en vergete, net solank …”. Kan daar werklik van ‘onderdaan’ integriteit en eerlikheid verwag of geëis word as ‘owerheid’ nie aan die verwagting en eis voldoen nie? Goeie mense, goeie leiers nodig het!

    2.4   Die buitengewone hoë voorkoms van vele vorme van ernstige misdaad teen persone en eiendom (ook deur kinders13 gepleeg) en die regeringse wyering om dit te erken en beheer oor die situasie te neem en die bevolking van Suid-Afrika te beveilig.

    2.5   Die regering se liberale en simpatieke houding teenoor misdaad en misdadigers in die algemeen en ook uitgeweke staatshoofde uit die buiteland.

    2.6   Die regering se verdraagsaamheid teenoor en een-ogige beskouing van ongeregtighede in ander Afrika-lande, en veral die openlike verdraaiing en verdoeseling van die waarheid in hierdie verband (wanneer standpunt ingeneem moet word bv. in die geval van Zimbabwe en die Verslag wat aan die Verenigde Nasies oor die aangeleentheid gedoen is)14.

    2.7   Die feit dat sommige leiers se spreekwoordelike “woord nie meer hul eer is nie” en vir wie die waarheid as fundamentele grondwaarde, nie meer geld nie. Hierdie feit impakteer ernstig op die opvoeding waar die aanleer en huldiging van die waarde van eerlikheid en ‘n “hou by die waarheid en staan vir geregtigheid onder alle omstandighede”, ingebed is.

    Genoemde voorbeelde dra by tot die feit dat die regering sowel as die regeringstelsel in Suid-Afrika, nie bo alle twyfel, geloofwaardig is nie. Die woorde van Louis Esterhuizen (uit ‘n gedig in sy sewende digbundel, Sloper, p. 48) is veral in hierdie verband van toepassing as hy opmerk:

    “Intussen kan woorde nie
    meer vertrou word nie,
    het die woorde self verwond
    geraak”
    .

    Suid-Afrika (en Afrika as geheel) het ‘n ernstige behoefte aan morele leierskap. Die vraag is, het ons dan ‘n totaal nuwe generasie leiers nodig? (Gumede, 2008) Heyns (2008) beantwoord dalk die vraag as hy sê: “Ons is tans in ‘n doodloopstraat”. Suid-Afrika het behoefte aan leiers wat nie net dinge reg doen nie, maar veral die regte dinge doen, “… mediocrity is just not good enough, so why bear it?” (Ritchie, 2008). Suid-Afrikaners het moeg geword vir leiers wat “Suid-Afrika se goeie naam wegsmyt”, vir rogue democrats wat, as dit vertaal word “skelm, skurk en skobbejak” beteken; vir leiers wat vanaf internasionale platforms Suid-Afrika aan die kant van die wêreld se skurklande teen Westerse demokrasieë skaar (du Plessis, 2008); vir leiers na wie se beleid as “pervers en immoreel” verwys word (Washington Post in du Plessis, 2008). Om goeie mense te word het veral ons kinders goeie rolmodelle nodig! Sou dit die rede wees waarom die jongmense van Suid-Afrika roep: De la Rey, De la Rey?

    Dit is so dat kinders met die leierfigure wat hulle voorgaan, moet kan identifiseer. Kinders wil wees en wil word (Landman) en identifikasie figure is dikwels vir die kind die kompas om sy weg te vind. Persoonlike kwaliteite en karakter vir die oorweging en aanstelling van mense in leierposisies, hetsy in staat of kerk, skool of huis, moet harder spreek as ooit tevore.

    Die verskynsel van atropie in die Suid-Afrikaanse samelewing
    Die begrip atropie, met die “a” wat op die negatief dui, verwys na die afwesigheid van energie of die beskikbaarheid van “nie-energie” (Odendal & Gouws, 2005, p. 219). Hierdeur word ‘n toestand van “geen beweging” of algehele stilstand, veronderstel. In hierdie toestand is die presentering van enige uniekheid of unieke kenmerke nie moontlik nie, omdat geen groei plaasvind nie. Die toestand van atropie kan een van twee dinge beteken: stagnering, wat beteken die verskynsel is in ‘n toestand van “sluimer-slaap” wat Van Peursen (1987) in die geval van die mens, arrivering sou noem of dood, die verskynsel bestaan nie meer nie. In eersgenoemde geval mag die moontlikheid van nuwe ontwaking (generering van energie) en groei nog bestaan.

    Binne die konteks van moraliteit in Suid-Afrika, wys die begrip “atropie” op die afwesigheid van of die gebrek aan morele energie en sedelike en geestelike krag in die Suid-Afrikaanse samelewing. Hierdie toestand vertoon veral ‘n afwesigheid of nie-sigbaarheid van morele norme, sodat denke en gedrag in ‘n vakuum plaasvind. By nadere ondersoek mag oorblyfsels van morele inhoude en waardes straks nog gevind word, maar omdat die morele energie nie voldoende gegenereer word nie, speel dit nie meer enige waarneembare dinamiese rol in die gemiddelde Suid-Afrikaner se oordeel en gedrag nie. In hierdie verband, let op die toepaslike benaming van die formele morele heropbouprogram wat onder leiding van Jacob Zuma sou plaasvind, nl. “Moral Regeneration Campaign” (inderdaad ‘n “regenerering” van morele energie). Die stelling kan gemaak word dat morele norme in die Suid-Afrikaanse samelewing grootliks in onbruik geraak of selfs verval het, asof atropie oorgegaan het in, of verstrengel geraak het met entropie. Dit herinner aan ‘n spreekwoord wat waarsku: “That which does nog grow, dies…”.

    Dit wil verder voorkom asof daar in Suid-Afrika ‘n gees van onbetrokkenheid (moontlike atropie), veral rakende morele opbou, heers. Iets soos ‘n passiewe waarneem van en gedistansieerde deelname (atropie) aan dit wat in die samelewing besig is om te gebeur: Almal is sogenaamde deelgenote, maar ope gesprekvoering en betrokkenheid en neem van verantwoordelikheid, word hoofsaaklik onder mekaar en letterlik op die tuisfront gevoer. Suid-Afrikaners, met uitsondering van enkeles, blyk versigtig te wees vir ope debatvoering. Hierdie feit kan aan ‘n verskeidenheid oorsake toegeskryf word, maar feit bly – dit is elkeen se burgerlike plig om deel te neem aan die oop gesprek oor die rigting en inhoud van ons samelewing se rekonstruksie (Landman, 2007). In reaksie op die appèl wat huidiglik aan Suid-Afrikaners gerig word, behoort elke verantwoordelike landsburger betrokke raak. Soos elke mens vanaf geboorte die verantwoordelikheid het om aan ‘n eie leefwêreld gestalte te gee (Dooyeweerd), so het elke Suid-Afrikaner die verantwoordelikheid om deel te neem aan die skep van ’n wêreld-vir-my in die ‘nuwe’ Suid-Afrika ooreenkomstig dit waarin hy glo en waaraan hy waarde heg. “Dit is ons morele en demokratiese plig om dit oop te praat [die waarheid] – by elke geleentheid en op elke forum” (Landman, 2007). Deelname aan die rigting waarin die samelewing beweeg is niks anders as om gehoorsaam te wees aan die kultuuropdrag nie, of om te antwoord op die eie inherente wesens-smagting na ‘n goeie en sinvolle lewe. So het Christenmartelare oor die eeue gedoen wat hul volgens hul oortuiging moes doen; het Christenridders ‘n mellenium gelede met die Kruistogte begin en gekies om ter wille van wat hulle geglo het reg en geregtigheid is, hulle lewe te gee15; het die Japanse kamikaze-vlieëniers in die Tweede Wêreldoorlog hul vliegtuie as ‘vlieënde bomme” teen veral Amerikaanse oorlogskepe gebruik het16; en was daar sover 315 selfmoordbomdraers (Pape, 2004) wat selfmoordterreur nie primêr gekies het omdat hulle wou sterf nie, maar om ‘n standpunt te stel ooreenkomstig dit wat hulle glo wat reg en verkeerd is. Oor al die eeue staan mense vir iets en heg mense waarde aan iets - omdat hulle in iets glo en inherent, morele wesens is. Morele energie en sedelike en geestelike krag word geken deur beweging en gesien as morele groei en vooruitgang. ‘n Toestand van “geen beweging” (Odendal & Gouws, 2005, 219) en sedelike en geestelike apatie is tekens van atropie. Onbetrokkenheid en passiwiteit, louheid en koudheid – is dit nie ook nie? “The only time when evil wins, is when the good man does nothing” (Anoniem).

    ‘n Ander voorbeeld van atropie hou verband met die koms van ‘n nuwe verskynsel wat, in die naam van opvoeding, die klaskamer binnegekom het, nl. die sg. “value neutral education”17 . Met ‘waarde-neutraal’ word bedoel dat, wanneer die kind aan die hand van inhoud ‘geleer’ word, geen norme of waardes die inhoud vergesel nie. Iets wat uiteraard nie moontlik is nie , onverantwoordbaar is en oneerlik is teenoor die kind (en sy ouers). Die begrip leer is met opset hierbo gebruik omdat die proses waarna verwys word, nie ‘n opvoedingsproses is nie, maar ‘n proses van inligting ‘oordra’. Outentieke opvoeding geskied altyd aan die hand van waardes en norme – opvoeding en vorming is altyd die primêre doel. In die geval van ‘n waarde-neutrale situasie vind die oordrag van inligting plaas ter wille van die inligting self en die boodskap daarvan vir die kind, binne ‘n vacuum, sonder ‘n behoorlikheidseis of norm, of enige waarde wat die inhoud dra en daaraan gestalte gee. Hierdie onderwyser laat die kind in die steek en weerhou op hierdie wyse dit wat die kind in sy vormingsjare die nodigste het. Getrou aan die gees van die Nuwe Moralisme word van die kind verwag om op sy eie die inhoud te interpreteer, weeg en oorweeg, beoordeel en evalueer, sonder dat enige maatstaf (norm of kriterium) verskaf word. ‘n Onregverdige verwagting van die onderwyser, omdat die kind nog kind is en nog nie oor die sedelike oordeel beskik om uitsluitsel te gee oor wat reg en verkeerd, goed en kwaad is, of om verantwoordbaar gehou te word vir die gevolge van sy keuse en dade nie.

    Die onderwyser moet, in alle opvoedingsgebeure by die skool, hetsy binne of buite die klaskamer, ‘n kragtig bydrae lewer tot die vorming van die kind se lewensopvatting. Die Christen ouer verwag dat die onderwyser volgens God se gebod sal lewe, “… en praat op grond van die gesag wat spreek uit die behoorlikheidseise wat hy self gehoorsaam en voorlewe (Landman, 1972). Die klaskamergebeure spreek die kind nie alleen affektief of kognitief aan nie, maar dwing hom ook om normatief standpunt in te neem. Die kind moet gelei word om, deur die inhoud vrywillig die goeie te kies, met ander woorde ‘n sedelik selfstandige keuse te maak. ‘n Onderwyser mag om hierdie rede nooit neutraal staan in enige opvoedingsituasie nie (Van Rooyen in Van Rooyen en Louw, 1994, p. 11). Landman (1972) wys daarop dat enige poging tot ‘n sogenaamde neutrale opvoeding, afkeurenswaardig is.

    Waarde-neutraliteit in die klaskamer is en skep ‘n situasie van atropie omdat die afwesigheid van morele energie “geen beweging” veronderstel, geen groei moontlik maak en geen sedelike en geestelike krag genereer nie. Die afwesigheid van norme skep ‘n morele vakuum, sodat outentieke wording nie kan plaasvind nie – alle denke, leerhandelinge en gedrag vind plaas “op gevoel”, “as dit reg voel, is dit reg vir jou!” (slag spreuk van die loveLife Campaign). Omdat die norme-bewussyn nie ontwikkel nie, is hier eerder van verwording sprake en gaan die kind uiteindelik die lewe binne sonder, aan die eenkant, die sekuriteit en geborgenheid van ‘n begrensende norme en waarde sisteem, en aan die ander kant, die vryheid wat sy binding aan anker waardes hom kon bied. Opvoedkundiges is dit eens, as die kind nie met norme en waardes gekonfronteer is nie, kan die proses van norme en waarde oorweging, die evaluering daarvan, die aanvaarding (of verwerping) van “dit is ‘n norm-vir-my” en norme en waarde internalisering nooit na behore in die kind voltrek word nie. Hierdie kind betree ‘n samelewing wat waarskynlik reeds die kenmerke van morele atropie (of selfs entropie) toon, sonder dat hyself oor die morele energie beskik om homself te handhaaf en ‘n positiewe, gebalanseerde en sinvolle leefstyl te vestig. In terme van morele energie en sedelike en geestelike krag (waardes en norme) kan die kind, as hy dit nie hét nie (omdat hy nooit daaraan blootgestel is of daardeur gevorm is nie), dit nie in sy lewe openbaar en toepas nie.

    Waarde-neutraliteit wat op sigself atropies van aard is, skep ‘n klimaat en teelaarde vir ernstige dissiplinêre probleme.

    Die verskynsel van morele ektropie in die Suid-Afrikaanse samelewing
    Die begrip ektropie dui op ‘n toestand van waarneembare positiewe groei en lewe en ‘n letterlike “opdraai”-na-bo-beweging wat ‘n proses van bou en gebruik van beskikbare energie, veronderstel. In hierdie proses, wat siklies van aard is, word meer energie gegenereer wat weer nuwe en verdere groei inisieer. Die verskynsel self, wat sy wesens-essensie en eie aard betref, neem toe sodat sy unieke kenmerke sterker na vore kom en sy uniekheid selfs toeneem.

    Wanneer die begrip ektropie binne die konteks van moraliteit gebruik word, word daar verwys na ‘n (ideale) proses van dinamiese en morele groei en vooruitgang wat, met behulp van die beskikbaarheid van voldoende morele energie in die samelewing, sedelike en geestelike krag kan genereer. Laasgenoemde behoort in die samelewing waargeneem te word in bv. dryfkrag en inisiatief wat na vore kom, sterker oordeelsvermoë wat aan die dag gelê word, meer deursettingsvermoë en groter sedelike en morele karakter wat geopenbaar word. Die resultaat (dryfkrag, ens.) sal weer nuwe morele energie opwek en vrystel wat sal lei tot hoër moraliteit in die samelewing. In hierdie sikliese proses word die hoër moraliteit in die samelewing self die kragbron (G. dynamus) in die opwekking van morele energie en die instandhouding daarvan. Indien negatiewe veranderlikes (bv. negatiewe sosiale en maatskaplike verskynsels) sou na vore tree en op hierdie siklus sou inwerk, behoort die samelewing moreel sterk genoeg te wees om dit aan die hand van morele norme en waardes, op watter wyse ookal, teë te werk. Daar moet verder daarop gewys word dat dit hierdie morele energie is wat voortdurend vrygestel word wat uiteindelik lei tot die vorming, opbou, stigting, verfyning en opheffing asook die instandhouding van die moraliteit in die Suid-Afrikaanse samelewing. Hierdie proses van lewenslange norme en waarde oordrag wat in ‘n moreel-ektropiese samelewing plaasvind, kan vergelyk word met die proses van lewenslange leer in Uitkomsgebaseerde Onderwys.

    Dit is die verantwoordelikheid van die opvoedingstrukture in die samelewing om norme en waardes waarvolgens gedrag gerig kan word, oor te dra en om dan die kind se gedrag te beloon of te dissiplineer – iets wat deur die ander samelewingsinstellings bevestig behoort te word. Dit is ‘n proses van opbou en vorming waardeur morele gedrag geleer, geoefen en bevestig word. Hierdie proses, indien dit suksesvol verloop, is niks anders as ‘n proses van ektropie nie. Morele energie kan later deur die groter wordende kind gegenereer kon word wat sedelike en geestelike krag in die kind sou bou en tot stand bring. Die gebrek aan dissipline en die versagting van straf en lyfstraf en die legitimering daarvan het egter hierdie opbou en vormingsproses onderbreek wat negatiewe gevolge vir die inoefening en vaslegging van waardes by die kind het.

    Voorbeelde van werklike dinamiese morele energie en morele ektropie, in die algemeen gesien, in Suid-Afrika, is skaars. Daarmee word nie geïnsinueer dat Suid-Afrika morele ektropie totaal afwesig is nie. Die kosbare en moreel versterkende werk word egter nie noodwendig op nasionale vlak of vanaf ‘n publieke platform gedoen nie, maar word eerder op plaaslike forums en in kleiner kringe deur individue en groepe onderneem. Hier word verwys na die baie kragtige werk wat oral in Suid-Afrika gedoen word om geloof te bou, waardes oor te dra en te versterk, opheffing te doen, mense te rig en te lei, kinders op te voed en te leer. Hier, en in stilte, word brûe tussen mense gebou, huise in tuistes verander en onsigbare momente gebou - alles ter wille van ‘n beter lewe en toekoms. Morele energie word op hierdie wyse gegenereer en sedelike en geestelike krag word gebou.

    Op nasionale vlak is verskeie inisiatiewe aan die daggelê om moraliteit te bevorder, bv. die “Moral Regeneration Campaign” wat nie werklik tot noemenswaardige morele hergenerasie gelei het nie, maar aanleiding gegee het tot ‘n nuwe waarde-program, die sogenaamde “Value Programme”. Hierdie program ressorteer onder die Direkteur van die Buro vir Ras en Waardes, met Dr. Grandel Whittle wat aan die hoof daarvan staan. Hierdie program is nog in sy kinderskoene en veel kommentaar kan nog nie daaroor gelewer word nie. ‘n Vraag wat egter gevra kan word is: Hoe opvoedkundig is so ‘n program en waarom val dit nie onder die Nasionale Onderwysdepartment nie? Dieselfde vraag kan gevra word oor die opvoedkundige waarde van die voorgestelde Skole Eed wat ernstige bespreking aan alle kante van die spectrum uitlok.

    Die implementering van waarde-opvoedingsprogramme word egter bemoeilik deur die diversiteit van die Suid-Afrikaanse bevolking. Wie se waardes is moet die inhoud van so ‘n program onderlê? (Tyree & Vance, 1997) ‘n Belangrike hoeksteen in die Suid-Afrikaanse samelewing is egter die Grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996) wat die anker waardes bevat wat die verskillende groepe saambind en deur die reg onderskryf word. Die inhoudgewing in die verskillende kulture of groepe sal verskil maar die waardes word deur almal waardeer.

    ‘n Makliker uitweg wat reeds in Suid-Afrika gevolg word is om, in stede van waarde opvoedingsprogramme, karakter-bou programme aan te bied wat ontwikkel is volgens die waardes wat in die Grondwet asook die Manifesto for Values and Democracy (2003) vervat is. Hierdie programme is uitsluitlik privaat inisiatiewe en totaal onafhanklik van die Departement van Onderwys. Alhoewel hierdie programme nie per se op ‘n Christelik georiënteerde basis gebou is nie, is van hierdie programme uiters waardevol (bv. die Sexuality and Character Education K-12 wat deur Linda Meeks en Philip Heit ontwikkel is en in die skole in Washington DC Distrik aangebied word [Meeks & Heit, 2001] en die karakter-bou program wat deur John Heenan ontwikkel is (Heenan, 2002]). Daar moet egter op gelet word dat karakter-bou programme nie noodwendig as waarde-opvoeding sal kwalifiseer nie. Enkele waardes behoort nie geselekteer en verabsoluteer te word en dan in isolasie aangebied te word nie. Kohn (1997:432) sê egter in hierdie verband die volgende: “Whether or not we deliberately adopt a character or moral educational program, we are always teaching values. Even people who insist that they are opposed to values in school, usually mean that they are opposed to values other than their own”.

    GEVOLGTREKKING

    Dit wil voorkom asof die stemme wat opgaan oor die morele verval in Suid-Afrika meestal ‘n aankondiging van die verval is, terwyl min in die praktyk tot reg kom. In die lig van die erns van die situasie en veral die gevolge daarvan, herinner dit sterk aan die Noag-beginsel – dit gaan seer sekerlik nie oor die aankondig van die storm nie, maar oor die bou van die ark! Werklike morele energie impliseer daarom ‘n dualistiese aksie.

    Aan die een kant is die stel of formuleer van die standpunt, en aan die ander kant, die instaan daarvoor - wat eintlik niks anders is as ‘n besef van verantwoordelikheid om dit waarin geglo (en gepredik word) uit te leef en praktyk te maak nie. Met praktyk-maak is die bedoeling nie ‘n toevallige, gesituasioneerde en kunsmatige aanwending van dit waaraan waarde geheg word (soos uiteengesit in my standpunt) nie. Nee, dit wys op wat iemand self is en doen en wat van alle pretensie ontdaan is – dit wat as leefstyl (styl van lewe) aanvaar is. Outentieke morele integriteit vertoon wanneer ‘n mens alleen en privaat is (Lötter, 2008).

    Die referent huldig egter die mening dat Suid-Afrika nie noodwendig meer in die sogenaamde krisis, of in die brandpunt daarvan is nie, maar reeds in ‘n tipe ‘na-operatiewe’ situasie is. Die krisis van ‘verval’ of ‘in-ploffing’ het sigself voltrek, wat van die volgende geslag in die verwarring, die ‘mop-up generation’ maak! Dit is hulle wat weer sin moet maak wanneer die huidige geslag volwassenes wat verantwoordelik is, nie meer daar is nie.

    Kan die morele verval in Suid-Afrika omgekeer word?

    Wanneer hierdie vraag gestel word, sou die antwoord dieselfde wees as wanneer ‘n kind aan sy opvoeder die volgende vraag vra: “Kan dinge in ons land weer regkom?” As die antwoord “nee” is, sou die opvoeder eintlik daarmee sê dat Christus nooit aarde toe gekom het nie, dat Suid-Afrikaners daarom geen hoop en geen toekoms het nie! Maar as die antwoord positief is, sou die opvoeder kon voortgaan deur te sê: “Ja, hoop in Christus, glo in God, glo in jou land, glo in jou volk en glo in jouself, want daar is vir ons 'n blink môrester aan die horison! Ons hét 'n toekoms in hierdie mooi land van ons!” Deur geloof is alles moontlik.

    Dit is daarom moontlik dat, met die inisiatief van die Suid-Afrikaanse regering, in samewerking met ander samelewingsinstansies (bv. kerke, nie-regeringsorganisasies, skole, gesinne) en ander samelewingskragte (bv. die advertensiewese) hande gevat kan word en in oop gesprek, onder die tug van die waarheid, die saak opgeneem en deurgevoer kan word. Die groot vereiste van ‘n oop gesprek is naamlik dat die waarheid moet spreek. Indien dit nie gebeur nie, word die gespreksgenote vir die gek gehou. In hierdie verband is Landman (2007) van mening dat leiersfigure dikwels nie werklike deelgenote aan die oop gesprek is nie omdat hulle die waarheid as ‘n verhandelbare artikel sien eerder as ‘n grondwaarde waaraan optrede getoets behoort te word. Hierdie oop gesprek kan aanleiding gee tot ‘n letterlike “opdraai”-na-bo-beweging wat die begin kan wees van ‘n proses van bou en generering van morele energie op alle vlakke van die samelewing sodat nuwe sedelike en geestelike krag gegenereer kan word. Toynbee (in Myers, 1963, p. 10) beskryf hierdie proses as “… the transformations from a static condition to a dynamic activity as the result of a challenge offered to a society”. In die geval van Suid-Afrika behoort die ingrype van die regering ‘n antwoord te wees op, soos Toynbee (in Myers, 1963, p. 130 dit noem, ‘n uitdaging “to restore the disturbed equilibrium – but on a higher plane or level where the challenges do not impinge from outside but arise from within” . Die opdraai-na-bo-beweging moet van so ‘n aard wees dat die sedelike en geestelike krag van die bevolking van Suid-Afrika na ’n hoër vlak gevoer word, waar dit behoort te wees (Landman, 1992) geïnspireer deur ‘n innerlike wil en drang. Nie gedwing word nie, maar gedring word om die goeie te kies. Hier proses van morele ektropie in Suid-Afrika kan as volg diagrammaties voorgestel word:


    Diagram 2: 'n Diagrammatiese voorstelling van 'n moreel-ektropiese
    proses in die Suid-Afrikaanse samelewing


    1. Pythagoras skryf dit toe aan die feit dat hulle toenemend abstraheer van ‘n transendente essensie-Gods (eie vertaling [Dyer, 1998, p. 3]).
    2. Die aanleer van self-beheersing is beskou as die Spartane se hoogste ideaal en die grootste en edelste taak van die opvoeder en wetgewer (Pistorius, 1982).
    3. Hierdie Romeinse regskode vorm vandag nog die grondslag van wetgewing dwarsoor die wêreld.
    4. Katekumeneskole het ontstaan om mense wat in hulle sedelose lewe volhard op te lei in godsdienstige en sedelike waardes.
    5. Kategeteskole het ontstaan om in die behoefte aan Christelike instellinge op ‘n hoë vlak, te voldoen.
    6. Episkopale skole is gestig om toekomstige leiers, priesters en biskoppe op te lei om “’n dieper persoonlike insig in die wese van God te bring” (Pistorius, 1982, p. 88).
    7. Kloosterskole het tot standgekom as 1) ‘n geleentheid om hoë sedelike begrippe en waardes wat met die Christendom gekom het, te bestudeer en te bewaar deur 2) die self af te sonder van die sedeloosheid van die destydse samelewing “wat skynbaar nie vir verbetering vatbaar was nie”. Die eerste kloosterskool het in 330 nC tot standgekom (Pistorius, 1982, p. 91).
    8. Navorsing het getoon dat vrye seksuele verkeer tussen tieners toeneem. Meer as 80 % van die tieners wat in ‘n ondersoek betrek is het aangedui dat hulle seksueel aktief is (Carelse in Hartell, 2005).
    9. 23,8 % van die tieners wat deur Harvey (in Hartell, 2005)) by ‘n ondersoek betrek is het aangetoon dat hulle reeds behandeling vir ‘n seksueel oordraagbare infeksie moes ondergaan.
    10. Voorbeelde van faktore wat die weerloosheid van die meisie of vrou t.o.v. HIV-infeksie verhoog: die fisiologiese bou en funksionering van haar vaginale area en inwendige geslagsorgane; sekere toestande in die genitale area, bv. in geval van gebrekkige slymvliesvoering (epithelial mucosa) wat infeksie op ‘n natuurlike wyse teëwerk, besering van die vagina en vaginale area, seksueel oordraagbare infeksies, ens.; genitale trauma soos vroulike besnyding (clitoridectomy) wat nog algemeen voorkom (6000 vroue word daagliks in Afrika besny [SABC, September 2002]) (Van den Berg, 2004).
    11. ‘n Studie het aangetoon dat minder as 10 % jongmense wat seksueel aktief is, voorbehoeding gebruik (Harvey, 1997) en gemiddeld agt maande seksueel aktief is alvorens voorbehoeding oorweeg word (Van den Berg, xx).
    12. Die nuwe geslag wat nie uitsluitlik manlik of vroulik is nie word “tussenseksueel” genoem, ‘n begrip wat deur mnr. David Kgware van die ANC, Noord-Kaap, geskep is (Joubert, 2008).
    13. Misdaad deur kinders van so jonk as tussen sewe en dertienjarige ouderdom wat insluit aanranding met die doel om ernstig te beseer, diefstal, roof, huisbraak en roof en algemene aanranding. Vyftig persent van alle misdaad deur kinders in Suid-Afrika is van aggressiewe of seksuele aard en tien persent van die seksuele misdade in Suid-Afrika word gepleeg deur kinders onder die ouderdom van vyftien (Maughan, 2008).
    14. Die ondersoek wat in opdrag van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gedoen is en die totaal teenstrydige Verslag wat onder onder voorsitterskap van Dr. Allen Boezak uitgebring is.
    15. Die Ridders Tempelier, ‘n Kruistog-orde wat in 1128 gestig is, het bv. een van hul eie skepe met 140 Christene daarop vernietig ten einde meer as ‘n duisend Moslems van ‘n vyandige vloot om die lewe te bring (Wikipedia Ensiklopedie, Internet).
    16. Op dieselfde wyse het die Japanse vloot gebruikgemaak van klein een- en tweemanduikbote (kaitens) (Wikipedia Ensiklopedie, Internet).
    17. Wat die Geslagsopvoedingsprogramme in skole aanbetref het “value neutral education” vir die eerste keer in Natalse skole voorgekom (Ex Natalse Onderwysdepartment, 1993).
    18. Elke mens is ‘n moreel-etiese wese wat homself nooit in geheel van sy lewensopvatting kan abstraheer nie. ‘n Mens ís en word alhoemeer dít waarin hy glo en waaraan hy waarde heg, so kan die onderwyser homself nooit heeltemal losmaak van sy lewensopvatting nie.

    VERWYSINGSLYS

    Breytenbach, J. 2008. A growing problem of abandoned babies. In: Pretoria News, 19 Januarie 2008, p. 3.

    Bladergroen, W.J. 1973. Psychologe-lichamelijke en geestelijke ontwikkeling van het kind. Amsterdam: Wetenschappelijke Uitgeverij N.V.

    Botha, W.J. 1982. Revolusie in die moraliteit. ‘n Ongepubliseerde D.D.-Proefskrif. Universiteit van Pretoria.

    Cortland State University of New York College. 2004. Signs of a national crisis of character. Internet: http.Cortland.edu/c4n5rs/signs iv.asp. 2 Januarie 2004.

    Du Plessis, T. 2008. Suid-Afrika se goeie naam is weggesmyt. In: Rapport, 20 April 2008.

    Gumede, W. 2008. Thabo Mbeki and the battle for the soul of the ANC.

    Hartell, C.G. 2005. HIV/AIDS in South Africa: A review of sexual behaviour among adolescents. Adolescence. Vol. 40, No. 157. pp. 171-181.

    Heenan, John. 2002. Building character through Cornerstone Values. Invercargill: The New Zealand Foundation for Values in Education.

    Kohn, A. 1997. How not to teach values: A critical look at Character Education. Phi Delta Kappan: 429-440. February.

    Landman, W.A. 1972. Leesboek vir die Christen Opvoeder. Potchefstroom: Potchefstroom Herald.

    Landman, W.A. 1992. Unisa-missie en doelstellings: Uitleg vanuit sedekundige (etiek-, etiese, etos-) perspektief. Progressio. 14(1). 92-106.

    Landman, W. 2008. Snykant-waarheid bra skaars. In : Beeld, 13 September 2007.

    Meeks, L. & Heit, P. 2001. Sexuality and Character Education K-12. Chicago: Meeks Heit Publishing Company and Everyday Learning Corporation.

    Maughan, K. in die Pretoria News, 27 Maart 2008. Voorlegging van die Departement van Justisie aan die Parlementêre Portfolio Kommissie rakende die “Child Justice Bill”.

    Odendal, F.F. & Gouws, R.H. 2005. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Maskew Miller Longman.

    Pape, R. 2004. Dying to Win: The Strategic Logic of Suicide Terrorism. Chicago: University of Chicago.

    Pistorius, P. 1982. Gister en vandag in die opvoeding. Potchefstroom: Pro Rege Pers.

    Ritchie, K. 2008. Mediocrity is just not good enough, so why bear it? In: Pretoria News, 9 February 2008.

    Van den Berg, D. 2004. An investigation into the contextual factors that influence the girl’s vulnerability to become HIV infected. Ongepubliseerde Magister Verhandeling. Universiteit van Pretoria.