By geleentheid van
Professor W A Landman se 80ste verjaarsdag
Junie 2003

HULDIGINGSBOODSKAP: UNIVERSITEIT VAN PRETORIA

Prof Theo Moller

Fakulteit Opvoedkunde

Terug na Gedenklesings

Dit is vir my 'n besondere voorreg om prof. Willem Adolf Landman, namens alle oud-kollegas van die Universiteit van Pretoria geluk te wens met sy 80 ste verjaarsdag.

Een van die belangrikste vrae wat die mensheid gedurig vra is, wat is die sin van die lewe? Waarom word ons as mense gebore? Wat is die doel van my lewe? Hoe moet ek handel ten einde as mens gereken te word?

Die wyse waarop ons hierdie vraag beantwoord is bepalend vir die wyse hoe ons leef, en die wyse hoe ons leef is ingebed in ons lewensopvatting en wêreldbeskouing.

Prof. Willem se besondere lewe is ingeklee met die wete dat hy in die eerste plek verbondsmens is. Sy opvoeding het sy latere gevoel, denke en wilshandelinge gerig vanuit die vooronderstelling dat God in en deur Jesus Christus uit vrye genade, die mens tot 'n besondere verhouding tot hom roep.

Vir hom as Christen-gereformeerde lê sin hoofsaaklik in arbeid as 'n opdrag van God. Arbeid nie net gerig op die verheerliking van God nie, maar arbeid in diens van sy medemens.

As studente, kollegas en vriende het ons groot waardering vir Prof. Landman. Nie net in 'n tydperk waarin hy as leier opgetree het in die vestiging van Opvoedkunde as Wetenskap aan Suid-Afrikaanse Universiteite en die uitbouing van Christelike en nasionale beginsels in die onderwys nie, maar ook vir sy meelewing en ondersteuning as mentor en Christen gelowige.

Net soos wat hy in sy aktiewe beroepsleeftyd 'n onuitwisbare stempel op die onderwys geplaas het as onderwyskundige en deelgenoot aan die georganiseerde onderwysprofessie, het hy as kultuurleier en kerkmens 'n verrykende invloed uitgeoefen op sy plaaslike gemeenskap.

Prof. Landman kan met genoegdoening en dankbaarheid terugkyk na 'n sinvolle lewe as gesinsman, as professor en oorspronklike denker in die opvoedkunde, as leier in die onderwysprofessie en as gemeenskaps- en kerkleier. Die saad deur hom gesaai lewer vandag veelvoudige vrugte.

Omdat die sin van Prof. Landman se lewe geleë is in verwondering en bewondering van God se skepping sal singewing nooit by hom stagneer nie. As eggenoot, ouer, grootouer en vriend sal u groot wysheid, insig en lewenswyse ons almal aanspoor om te streef na 'n sinvolle lewe, ingeklee met Christelike waardes en norme.

Terug na begin van bladsy