By geleentheid van
Professor W A Landman se 80ste verjaarsdag
Junie 2003

HULDIGINGSBOODSKAP: TO-GROEP

Dr Hugh Davies

Direkteur

Terug na gedenklesings

Prof Willem Adolf Landman is 'n onderwysman in murg en been, en dit is vir die TO-Groep 'n besondere voorreg om by die herdenking van sy 80ste verjaarsdag eer en hulde aan hom te bring. Die besondere mens wat prof Landman is, het tot gevolg gehad dat ook die georganiseerde onderwysprofessie in Suid-Afrika besondere seën en voorspoed uit sy kundigheid, sy wysheid en sy uitmuntende vermoëns kon pluk, en dit is vir die TO-Groep vanaand nie net 'n vreugde nie, maar ook 'n besondere eer, om by hierdie baie spesiale tyd in prof Landman se lewe ook die geleentheid te mag hê om hom te salueer.

Willem Landman se vroeë onderwysloopbaan het oor 'n tydperk van 15 jaar gestrek waartydens hy aan die Transvaalse Onderwysdepartement verbonde was as assistent-onderwyser en vise-hoof, asook as senior dosent aan die Pretoriase Onderwyskollege verantwoordelik vir die metodiek van Natuurwetenskap en Toegepaste Wetenskap vir Huishoudkunde studente. Hy het in daardie tydperk om ook as lid van die Transvaalse Onderwysersvereniging onderskei, en met groot trots kan ons konstateer dat prof Landman se verbintenis met die TO reeds in 1947 'n aanvang geneem het. Prof Landman het uitmuntende bydraes tot die werksaamhede van die georganiseerde onderwysprofessie gelewer. Hy het 'n besondere belangstelling en betrokkenheid by die onderwys gehad, en dit het daartoe gelei dat hy op verskillende terreine 'n aktiewe aandeel in onderwyssake kon neem. Hy het by verskeie geleenthede in die strukture van die TO gedien, en in 1976 het prof Landman as 'n verteenwoordiger van die Universiteit van Pretoria tot die Hoofbestuur van die TO toegetree. In 1978 is hy as stedelike verteenwoordiger tot die Uitvoerende Komitee verkies, waarna hy by verskeie geleenthede ampte soos die van voorsitter van die Opvoedkundekomitee, voorsitter van die Professionele Komitee, lid van die Dagbestuur, verteenwoordiger van die professionele terrein van die TO in die Dagbestuur, asook Voorsitter van verskillende ad hoc-komitees gedien het.

Prof Landman is in 1980 as verteenwoordiger van die TO in die Gesamentlike Onderwysraad verkies, waar hy ook as voorsitter van die Raad se Komitee vir Kwalifikasies en Opleiding, van die Navorsingskomitee, en ook as lid van die Publikasiekomitee besondere belangrike bydraes gelewer het. Toe die Federale Onderwysersraad in 1986 tot stand gekom het, het prof Landman as lid van die FOR gedien, en was tot middel 1989 voorsitter van die Professionele Komitee. Hy het die FOR in die Komitee van Onderwyshoofde se Advieskomitee oor Onderwysnavorsing tot middel 1989 verteenwoordig. Hy het ook die FOR in die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing se Advieskomitee vir die Instituut vir Opvoedkundige Navorsing gedien.

Toe prof Landman met die Erepenning van die TO by sy 79ste Algemene Vergadering bekroon is, het die Oorkonde wat toe voorgehou is met die volgende woorde gesluit: "Prof Landman het deur sy lewe en werk getoon dat hy 'n waardige houer van hierdie toekenning sal wees, en dit is daarom vir die TO 'n besondere eer en voorreg om op so 'n wyse hulde te bring aan 'n man wat sy lewe wy in diens van die opvoedkunde en die onderwys". Prof Landman het daarna die waarheid van daardie voorspelling oor en oor bewys. Gedurende die 17 jaar wat hy in die hoogste besture van die TO gedien het, het hy 'n bykans onoorskoulike bydraende aandeel gehad in die voortgaan, vestiging en bestendiging van die TO. Sy uitvoering van opdragte, hoe omvangryk ookal, asook sy optredes as verteenwoordiger van die Vereniging en die gesagsliggame van die georganiseerde onderwysprofessie in daardie jare, het altyd die stempel gedra van deskundigheid, wetenskaplikheid, en bowenal lojaliteit aan die TO, sy doelstellings en standpunte. Prof Landman het 'n leeftyd van onbaatsugtige diens aan die onderwys en opvoeding van skoliere en studente gelewer, van wie baie deur sy voorbeeld en inspirasie groot hoogtes bereik het, en nog steeds bereik.

In 1993 het prof Landman 'n monumentale werk van 12 volumes getiteld "Die Transvaalse Onderwysersvereniging: Van Stryd tot Oorwinning 1893 to 1993" voltooi. Enkele jare later het hy 'n tweede baie groot werk die lig laat sien toe hy die geskiedenis van elke voorsitter en elke ondervoorsitter in die bestaan van die TO by wyse van historiese navorsing, ontleding, en waardebepaling gedoen het. Dit is nie oordrewe om te konstateer dat hy by uitstek die persoon is wat die geskiedenis van die TO, en sy leiers oor 'n periode van meer as 100 jaar nagevors, geboekstaaf, en vir die geslagte wat hierna sal volg, bewaar het nie.

Toe prof Landman agt jaar gelede in 1995 die tuig finaal neergelê het, is onder andere by 'n spesiale geleentheid van hom gesê dat prof Landman monumente binne die onderwys nalaat, en dat hierdie monumente altyd as herinnering aan hom sal dien.

Deur sy dekades lange verbintenis met die TO-Groep, is prof Landman getrou en lojaal deur mev Rachel Landman ondersteun. Mev Landman - en toe hulle jonk en nog in die huis was ook hulle kinders - het baie dikwels as gevolg van die feit dat hy bo en behalwe al sy ander verpligtinge met die sake van die onderwysprofessie besig was, prof Landman se aanwesigheid moes ontbeer; en sy en hulle kinders het help bou aan dit waarmee hy besig was. Die TO-Groep het by geleentheid dank en waardering teenoor mev Rachel Landman en die gesin uitgespreek, maar dit is 'n besondere voorreg om dit weer by hierdie geleentheid te mag doen. Die waardering wat in die TO-Groep vir mev Landman gekoester word, is iets wat nooit sal taan, of verdwyn nie.

Ons het die besondere voorreg om vanaand vir prof Landman te mag dankie sê vir alles wat hy vir die georganiseerde professie oor 'n tydperk van amper 60 jaar beteken het. Ons is dankbaar dat hierdie groot gees hom met die TO vereenselwig het, dat hy aan die ideale van die TO help bou het, en dat hy 'n deel was van die groep persone wat die TO daartoe in staat gestel het om die besondere hoë vlakke te bereik wat wél bereik is. Sonder hom sou dit nie moontlik gewees het nie.

Die beste wense van die TO-Groep vergesel die egpaar Landman, met die bede dat die keur van seëninge uit die hand van Hom wat alles uit genade skenk, steeds vorentoe hulle porsie sal wees, en dat die Here al hulle weë gelyk sal maak.

Terug na begin van bladsy